My geld, 4 Oktober 2012

Donderdag, Oktober 4th, 2012

Hoekom word mense met beleggingslenters gevang?

Francois Smit

Solidariteit Finansiële Dienste kry die afgelope tyd byna weekliks met kliënte te doen wat met die een of ander beleggingskema baie van hul swaar verdiende spaargeld verloor het. Dit is onverstaanbaar dat mense – ondanks vandag se tegnologie en beskikbare inligting – nog steeds gevang word met beloftes van hoë opbrengste, wat heeltemal buite die norm aangebied word, net om daarna hul hele belegging kwyt te wees.

Hoe gebeur dit?

Ons eerste waarneming is dat mense blyk tevrede daarmee te wees dat hulle niks van die  beleggingswêreld af weet nie. Hulle maak dus staat op ‘professionele’ persone wat netjies aangetrek is en mooi beloftes maak om hulle te oortuig dat hul produk die beste is. Hulle beroep hulle op glansbrosjures en prospektusse, en doen nie verder huiswerk nie.

Ek wil dit graag vergelyk met die koop van ’n nuwe voertuig. Ek het nog min mense teëgekom wat nie ten minste ’n paar vriende of dalk ’n kenner of twee vra oor die motor wat hul in die oog het nie. Hulle gaan ry ook met die voertuig, gaan lees moontlike padtoetse en vind uit oor versieningsplanne, ensovoorts. Ná al die moeite koop die meeste Suid-Afrikaners dan ’n Volkswagen of ’n Toyota.

Dink verder so oor die saak. Niemand is in besigheid om nie geld daaruit te maak nie. As jy as voornemende belegger ’n opbrengs van 12% per jaar gewaarborg word op jou belegging, wat moet die promotor van die belegging daarop verdien om ook nog iets daaruit te maak? Hulle moet, buiten ’n wins, ook bemarkingskostes, salarisse en talle ander uitgawes dek.

Deur net gesonde verstand aan die dag te lê, weet jy klaar iets van beleggings af.

Ons tweede waarneming is dat sommige mense desperaat is vir hoër opbrengste. Dit is gewoonlik die ouer beleggers wat naby aftrede is, of reeds afgetree is, en besef dat hul neseier te klein is om vir hulself te sorg. Hierdie beleggers is dikwels blind vir dit wat agter die brosjures en die mooi stories staan.

As name soos Sharemax, Realcor, PIC Syndications en Bluezone by jou opkom, sal jy weet waarna ek verwys. Die maatskappye is toevallig almal betrokke by eiendom, of meer bekend as eiendomsindikasies. Hulle het in laerentekoers-omgewings buitensporige hoë opbrengste aangebied om geld in die hande te kry om geboue te koop of te bou, wat daarna op die rug van oordrewe waardasies vir buitensporige winste aan niksvermoedende beleggers verkoop is. Die meeste van die beleggers het sedertdien al hulle geld in die beleggings verloor, of verdien ’n fraksie van die beloofde opbrengs.

Die derde waarneming is ongelukkig die een wat mense die graagste ontken, en dit is dat hulle gewoon gulsig is en so gou as moontlik soveel as moontlik geld wil maak. Ek noem so ’n belegger ’n gevaarlike belegger. Dit is die persoon wat net ’n vorm sal teken en as die spreekwoordelike papaja in die waaier beland, is dit die tipe belegger wat bereid sal wees om die bedrieërs se huise te gaan afbrand. Dit is gewoonlik ook die beleggers wat die minste huiswerk gedoen het en wat die meeste hul eie onskuld in die sage wil raaksien. Hierdie tipe belegger verloor heel dikwels weer geld in die een of ander slenter.

My raad sal die volgende wees:

 

  1. 1.    Maak seker van die finansiële adviseur by wie jy ’n belegging wil plaas se bona fides. Eerstens moet so ’n persoon ’n lisensie hê om die advies te kan gee. Hy moet verder goedkeuring bekom om sekere kategorieë binne die lisensie te mag betree. Daarvoor moet die persoon bewys lewer van relevante ondervinding en kwalifikasies. Die inligting is maklik bekombaar. Die persoon moet sy lisensienommer by die Raad op Finansiële Dienste gaan voorlê. Gaan na www.fsb.co.za. Op die webtuiste se boonste spyskaart is ’n afdeling genaamd “FAIS”. Binne die FAIS-blad is ’n afdeling vir “searches” en daaronder ’n afdeling “search for financial service providers”. Sleutel die naam van die finansiëlediensteverskaffer of die lisensienommer in, en al die inligting sal daar beskikbaar wees –  ook die produkte wat die verskaffer kan aanbied.
  2. 2.    Vra ook verwysings aan van ander beleggers wat jy kan kontak. Daar gaan dan een van twee dinge gebeur:
    1. Die maatskappy gaan dit nie verskaf nie, wat die beste oplossing is, aangesien jy dan makliker ’n besluit kan neem.
    2. Die maatskappy gaan die name verskaf, maar hou in gedagte dat hulle nooit beleggers se name verskaf wat ’n slegte ondervinding gehad het nie. As die stories van hierdie beleggers te goed klink, stap redelik vinnig weg; hardloop is dalk selfs beter.
    3. 3.    Gaan soek inligting oor die maatskappy waar die adviseur die belegging wil gaan plaas. Die webtuiste HelloPeter.com het gewoonlik die beleggers wat reeds geld verloor het se galbrakery beskikbaar en kan baie insiggewend wees oor die maatskappy se doen en late. Daar is ook webtuistes soos www.monyeweb.co.za en Personal Finance (www.iol.co.za/buisness/personal-finance) wat baie artikels het en maatskappye gereeld onder die vergrootglas plaas.
    4. 4.    Gebruik gesonde verstand. Kyk na die wêreld om jou, kyk wat mense koop en vind uit wie daardie produkte en dienste verskaf: dit is hulle wat die ekonomiese enjin van ʼn ekonomie aandryf. Jy het nie nodig om geld te verloor omdat jy nie ’n uur wou afstaan om bietjie huiswerk te doen nie.

Die volgende paar rubrieke gaan op spaar en beleggings toegespits wees. Ons sal slaggate uitwys, beleggingsbesluite bespreek en kyk wat onder die enjinkap van beleggings aangaan.

Ander Artikels

Solidariteit spreek portefeuljekomitee toe oor gevare van onteieningswetsontwerp
Die vakbond Solidariteit sal môre sy besware teen die omstrede onteieningwetsontwerp in ʼn voorlegging aan die portefeuljekomitee op openbare werke voorlê. Die vakbond is van mening dat dié omstrede wetsontwerp, wat president Jacob Zuma glo nog vanjaar wil aanvaar, verrykende gevolge vir eiendomsreg in Suid-Afrika sal inhou. Volgens Piet le Roux, hoof van die Solidariteit […]
ArcelorMittal gaan voort met afleggingsproses – Solidariteit wil impak op lede beperk
Die vakbond Solidariteit het vandag gesê dat hy die impak van die afleggings by ArcelorMittal se Vereeniging-walserye op sy lede wil beperk. Dit volg nadat die land se grootste staalprodusent ’n afleggingskennisgewing aan vakbonde gestuur het. Ongeveer 600 poste sal deur die afleggings geraak word. Volgens Marius Croucamp, hoof van die Metaal- en Ingenieursbedryf by […]
Telkom: 2 393 werknemers sal maatskappy môre verlaat – Solidariteit
Die vakbond Solidariteit het verneem dat Telkom, tot en met vanoggend, reeds ʼn totaal van 2 393 werknemers se aansoeke om vrywillige skeidingspakkette goedgekeur het. Dié werknemers se dienste word boonop reeds môre beëindig. Volgens Marius Croucamp, hoof van die kommunikasiebedryf in Solidariteit, is dié aantal aansoeke om vrywillige skeidingspakkette nie ʼn verrassing nie. “Gegewe […]
1 2 3 562