Ridder
Vandeesweek se ridder is die gewese verpleegster Christine du Preez wat haarself toewy om die plaaswerkers op die plase in Limpopo op te lei oor die MIV/VIGS virus.
Plaaswerkers in die Noorde van Suid-Afrika verteenwoordig die hoogste konsentrasie MIV/VIGS-draers binne enige werksmag in die land, met ʼn voorkoms van 40%. Christine die stigter en direkteur van dié nie-winsgewende organisasie, Hoedspruit Opleidingstrust se hoof fokus is om dié kommerwekkende statistiek af te bring deur die mense se kennis rondom MIV/VIGS uit te brei.
Christine het die Hlokomela Gesondheidsprojek op die been gebring om ondersteuning en opleiding vir arbeiders en hul gesinne te fasiliteer. Christine se kliniek help al vir meer as ʼn dekade om mense se lewens te red. Sy praat nie net oor die voorkoming van die virus nie, maar sy gesels en werk ook met werkers wat reeds die virus het oor hoe om dit nie verder te versprei nie.
“Ek wil graag ʼn kultuur van omgee vir mense skep, waarbinne hulle hulself kan bemagtig,” sê Du Preez. Deur haar projek poog sy om volhoubaar te wees.
Rampokker
Vandeesweek se rampokkers is almal wat betrokke is by die sluipmoorde op verskeie politici en taxi-operateurs. Dit volg nadat die onafhanklike navorser en menseregteaktivis Vanessa Burger vasgestel het dat die Glebelands-hostel in Umlazi, Durban, ʼn tuiste vir sluipmoordenaars is en dat die polisie direk hierby betrokke is. Burger beweer dat van die sluipmoordenaars die polisie se model van die R1-aanvalsgeweer gebruik. Die polisie in Umlazi het geen geloofwaardigheid nie juis as gevolg van die grootskaalse omkopery wat aan die gang is.
Burger voer aan dat daar sedert 13 Maart 2014 altesaam 89 mense in die gebied vermoor is en dat nog niemand in verband met die moorde in hegtenis geneem is nie.
“Die sluipmoordenaars in Glebelands sit agter die onlangse aanval op Sindiso Magaqa, voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Nonsikelelo Mafa, wyk 11-raadslid, en Jabu Mzizi, wyk 16-raadslid. ’n R1-aanvalsgeweer is in dié aanval gebruik,” het Burger gesê.
Die slypmoordenaars se ammunisie en wapens word aangekoop met fondse wat bekom word deur gedwonge fondsinsamelings by die inwoners van die hostel. “Hierdie geld is na bewering ook gebruik om ondersoekbeamptes, aanklaers en landdroste om te koop,” het Burger verduidelik.
Volgens Burger het die sluipmoordenaars “daarvandaan gediversifiseer” en is hulle deur politieke leiers gebruik om verskeie moorde in die provinsie uit te voer.
Willies Mchunu, KwaZulu-Natal se premier, het in Oktober 2016 die kommissie van ondersoek geskep om politieke moorde in die provinsie sedert 2011 te ondersoek. Adv. Marumo Moerane is die voorsitter.
Burger het gesê die polisie is nie polities onafhanklik nie en polisiebeamptes wat deeglike werk probeer doen, kom nêrens nie en is onder politiese druk. Daar word met sake ingemeng en verklarings word versin.
Daar is sedert 13 Maart 2014 altesaam 89 mense in die gebied vermoor.
“Hulle het bewys dat hulle in die meerderheid en absoluut korrup is.”