Ridder
Jacques Papenfus, ons ridder van die week, is ʼn man wat besluit het om bo sy omstandighede uit te styg en sy vaardighede en energie aan te wend om ʼn verskil te maak in die lewe van mense wat sukkel met verslawing en armoede. Jacques is die stigter van Moeggesukkel, ʼn liefdadigheidsentrum wat fokus op bemagtiging en mense in verskillende rigtings oplei sodat hulle nuwe vaardighede kan aanleer. Daarom het Jacques besluit om MSG Auto, ʼn meganiese en duikklopwerkswinkel vanuit Moeggesukkel te open. Moeggesukkel verskaf tegniese opleiding en mense kan ambagte in duikklop- en meganiese herstelwerk leer. Hulle word ook in die versiening van voertuie opgelei.
Alhoewel Jacques self donker tye beleef en met verslawing geworstel het, is hy al nege jaar “skoon” en nou wil hy graag ander mense help om nuwe vaardighede aan te leer. MSG Auto bars behoorlik uit sy nate en moes nou na ʼn groter perseel verskuif om meer mense te kan oplei.
Rampokker
Die egpaar wat hul baba as “dwelmkoerier” wou gebruik, is dié week se rampokkers. Die egpaar is onmiddellik in hegtenis geneem nadat die polisie hul huis deursoek het en heel toevallig dwelms in die luier van hul babadogtertjie van sewe maande gevind het.
Na ʼn wenk deur ʼn lid van die publiek dat daar glo dwelms uit ʼn huis op Selosesha naby Thaba Nchu in die Vrystaat verkoop word, het die polisie ondersoek gaan instel. Tydens die deursoeking van die huis het een van die konstabels die twaalfjarige dogter van die egpaar gevra om ʼn kombers vir haar babasussie te gaan haal. Die konstabel het die baba vasgehou terwyl haar ouer sussie die kombers gaan haal het. Dit is toe dat hy ʼn vreemde voorwerp onder die baba se luier opgemerk het. By nadere ondersoek het die polisie op plastieksakkies met 57 Mandrax-tablette daarin afgekom.
Die egpaar se twee dogters is onder die toesig van hul ouma geplaas.