Die vakbond Solidariteit verwelkom die raadsbesluite wat gister, 30 November, tydens die geskeduleerde raadsvergadering van die Universiteit Stellenbosch (US) geneem is. Die raad het besluit om verbind te bly tot die taalbeleid soos aanvaar op 22 November 2014. Die raad het bevestig dat die universiteit se meertalige aanbod as ’n strategiese bate vir US beskou word en as ’n kompeterende voordeel uitgebou moet word. Die raad het terselfdertyd verklaar dat dit nie ten koste mag wees van die ooreengekome minimum teiken vir die Afrikaanse aanbod nie en ook versoek dat die Afrikaanse voorgraadse akademiese aanbod nog verder verhoog sal word.
Verskeie oudstudente van die universiteit, ouers, ondersteuners en studente het drie weke gelede in samewerking met die vakbond Solidariteit ʼn referendum oor die voorgestelde wysiging aan die US se taalbeleid begin. Meer as 30 000 mense het daaraan deelgeneem en 99% het aangedui dat Afrikaans behou, beskerm en uitgebou moet word. Solidariteit beskou hierdie besluite wat by die raadsvergadering geneem is as ’n taktiese oorwinning, maar nie ’n strategiese sukses nie.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, kan 31 000 mense se stemme nie geïgnoreer word nie. Die stryd lê nog voor maar ons gaan saam ons stemme dik maak vir die behoud van ons taal by tersiêre instellings.