‘n Eenvoudige Google-soektog met die terme “metro police” en “corruption” lewer 123 000 resultate binne 0,3 sekonde op. ‘n Soektog met “corruption” en “bribes” lewer onmiddellik 35 000 resultate op. Hierdie instelling oorheers dikwels nuushoogtepunte om al die verkeerde redes. Metropolisiebeamptes word gereeld daarvan beskuldig dat hulle omkoopgeld van motoriste vra en aanvaar en hulle magte misbruik deur intimidasie van diegene wat hulle veronderstel is om te beskerm. Korrupsie in ‘n instelling soos dié is baie verontrustend omdat, soos in die geval van die polisie, misdadigers en verkeersoortreders weet dat ‘n blote omkoopbetaling hulle maklik kan laat wegkom. Omkoopgeld beteken ook roetinegewys verlore legitieme inkomste uit spoedboetes en ander verkeersboetes wat nie geïn word nie. Lede van die publiek is natuurlik nie net slagoffers hiervan nie aangesien korrupsie ‘n wederkerige proses is en omkoopgeld gevra en aangebied word. Geregtigheid, die oppergesag van die reg en wetsgehoorsame burgers is die uiteindelike slagoffers.
In ‘n beperkte ruimte soos dié is dit onmoontlik om die aantal voorvalle waarby metropolisiebeamptes betrokke is te dokumenteer en die volle omvang van korrupsie in die metropolisie te onthul. Dit is egter insiggewend om sommige van die talle gevalle – klein en groot – waaroor die media berig, uit te lig. Net in Januarie 2015 is drie Tshwane-metropolisielede vir omkopery in hegtenis geneem. Twee van hulle het probeer om omkoopgeld van die hoof van Crime Line, Yusuf Abramjee, te kry en toe hulle moses teengekom. Nog meer ontstellend is dat die Tshwane-metropolisiedepartement laat in 2011 die 67 lede van sy teenkorrupsie-eenheid ontslaan het en die eenheid in 2012 amptelik ontbind het. Die rede hiervoor was dat baie van hierdie beamptes inligting oor korrupsie-ondersoeke uitgelek het aan diegene wat ondersoek word, in ruil vir omkoopgeld.
‘n Ontstellende 184 uit 2 600 beamptes van die Johannesburgse Metropolisiedepartement (JMPD) is tussen 2009 en 2011 vir korrupsie ondersoek. In Junie 2015 is vier lede van die JMPD in hegtenis geneem omdat hulle omkoopgeld van ‘n verdagte gevra het in ruil vir die verdwyning van die dossier.
Hierdie inhegtenisnemings en ondersoeke kan as die ore van die seekoei van die verrotting by die metropolisie beskou word. Die media berig eenvoudig nie oor al die korrupte aktiwiteite by die metropolisie nie en die alomteenwoordigheid van korrupsie word nie onthul nie. Die probleem is dus onmeetbaar ernstiger as wat in die media berig word.