Die beleërde Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) steier onder onlangse onthullings oor ‘n korrupte tender waardeur R620 miljoen vermors is op ondoelmatige lokomotiewe. Berigte in die Afrikaanse Sondagkoerant Rapport toon hoe die voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana, op groot skaal en onreëlmatig baat gevind het by Prasa se tenders met maatskappye met wie hy bande het. Talle berigte in Rapport skets die gebrekkige prosedures wat gevolg is by die toekenning van eiendomskontrakte tydens Montana se bewind.
Die koerant is woes aangeval deur Prasa, maar die Ouditeur-generaal (OG) het verdoemende bevestiging van Prasa se sondes gelewer. Volgens ‘n voorlopige opsomming deur die OG van die organisasie se finansiële sake in 2014-15 word ernstige bedenkinge uitgespreek oor uitgawes van R3,9 miljard. Dit sluit onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes in.
In een geval is R17 miljoen blykbaar bestee aan huurgeld vir ‘n stuk grond in Nigel waarop ‘n vervaardigingsaanleg opgerig moes word. Daar was geen huurooreenkoms om hierdie uitgawe te regverdig nie. Voorts het die Ekurhuleni Metro bevestig dat hy nog nie ‘n sent van Prasa ontvang het nie sedert die transaksie beklink is.
Maar dit is ‘n blote druppel in die emmer. Prasa het onreëlmatige uitgawes van ten minste R790 miljoen opgestapel. Dit is bykans 2 000% meer as die R38 miljoen van die vorige finansiële jaar. Boonop toon die OG se opsomming ook dat Prasa versuim het om ‘n onafhanklike entiteit aan te stel om die tenderproses te moniteer wat daartoe gelei het dat ‘n kontrak van R51 miljoen aan die Franse Gibela-konsortium toegeken is vir die verskaffing van nuwe passasierswaens.
Die Openbare Beskermer het in ʼn onlangse verdoemende verslag getiteld Derailed bevind dat Montana tydens sy ampstermyn by Prasa vir grootskaalse wanadministrasie, magsmisbruik en geldverkwisting verantwoordelik was. Sy het onder andere bevind dat Prasa die bedrag wat vir tenders vir passasiershekke toegeken is, onregmatig tot ʼn algehele koste van R1,95 miljard verhoog het. Sy het ook aanbeveel dat ʼn forensiese oudit op alle Prasa-tenders gedoen moet word wat tussen April 2012 en Junie 2015 (terwyl Montana die uitvoerende hoof van Prasa was) toegeken is en wat R10 miljoen oorskry het.
Montana is sedertdien van sy pligte onthef, maar hy verklaar steeds dat hy onskuldig is en hy het selfs korrupsieklagtes teen sommige van sy gewese hooggeplaaste kollegas aanhangig gemaak.