Deur Reon Janse van Rensburg
Klik hier om die volledige verslag te lees.
Suid-Afrika word al vir meer as ʼn dekade lank deur aanhoudende elektrisiteitstekorte en hoë elektrisiteitskostes geteister. Hoewel die toekoms onseker lyk en Suid-Afrika steeds donkerte in die gesig staar het die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) ʼn verslag oor die Eskom-kragkrisis bekendgemaak. Die eerste deel van die verslag fokus veral op oplossings vir die krisis en toon hoe die kragkrisis die Suid-Afrikaanse ekonomie affekteer. Dit wys ook hoe dít die enkele grootste struikelblok vir ekonomiese groei en die grootste bydraer tot werksverliese is. Die laaste deel van die verslag fokus op die berekening van hoe elektrisiteitspryse geaffekteer word deur die prioritisering van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) bo prestasie en doeltreffendheid en die toepassing van transformasieteikens.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), bied die verslag ʼn oorsig oor die uitwerking van SEB wat Suid-Afrikaners eerstehands ervaar en hoe dit gelei het dat die hekke vir staatskaping oopgemaak is, wat ondoeltreffendheid tot gevolg gehad het en ook in die proses die kostes van energie opgejaag het.
Waarom betaal die Suid-Afrikaanse verbruiker meer vir elektrisiteit as gevolg van SEB?
Die verslag wys daarop dat 80% van Suid-Afrikaanse steenkool deur vyf mynmaatskappye geproduseer word, naamlik Anglo American, Thermal Coal, Exxaro Resources, Sasol Mining, BHP Billiton Energy Coal South Africa (Becsa) en Glencore. Die verslag merk dat die meeste mynmaatskappye in die steenkoolsektor in swart besit is, onder meer weens Eskom se voorkeurverkrygingsbeleide. Dit het daartoe gelei dat die steenkoolmark gekonsentreer is, tot die punt waar slegs die maatskappye wat aan SEB-vereistes voldoen lewensvatbaar was, aangesien ander nie hul produkte aan die grootste verbruiker van steenkool, naamlik Eskom, sou kon lewer nie.
Mail&Guardian het in 2019 berig dat Eskom ʼn geraamde R1,4 miljard op twee kontrakte alleen verloor het, en gesê dat hulle Glencore dubbel die prys betaal het wat hulle aan Stuart’s Coal vir soortgelyke steenkool betaal het. Die artikel gaan voort deur te sê:
As Eskom Glencore teen dieselfde prys as Stuart’s Coal vir 2,7 miljoen ton oor 18 maande gekontrakteer het, kon hy ʼn besparing van R927 miljoen op daardie kontrak alleen gemaak het. Eskom kon ʼn verdere R550 miljoen gespaar het op ʼn ander Glencore-kontrak, vir dieselfde kwaliteit steenkool, wat teen R518,45/ton geprys is. Die ontleding het ook aan die lig gebring dat Eskom 5 verskillende pryse aan 5 verskillende maatskappye, insluitend Glencore en Stuart’s Coal, vir dieselfde kwaliteit steenkool betaal het. In ʼn ander voorbeeld het Eskom Glencore gekontrakteer om 21,50CV-steenkool aan Kriel-kragstasie teen R665,85/ton te lewer, maar hulle het ook Welgemeend Colliery gekontrakteer om dieselfde kwaliteit steenkool aan Matla-kragstasie te lewer teen R342,28/ton. Die besparing op hierdie transaksie, sou Eskom dieselfde betaal het, sou R291 miljoen gewees het. Dit is egter van kritieke belang om daarop te let dat die pryse wat hier gelys word nie vervoerkoste insluit nie, wat afhangend van die vervoermiddel en afstand tussen die myn en die kragstasie, maklik ʼn verdere R90 tot R300 per ton kan bydra.
Voormalige president Thabo Mbeki is in die laat 1990’s gewaarsku dat massiewe investering in kragopwekking nodig is. Hy het gesloer omdat hy wou sien dat swart maatskappye en die elite voordeel trek. In afwagting van die mega-ooreenkoms het die ANC ʼn beleggingsmaatskappy, Chancellor House, op die been gebring wat toe ʼn konsortium met Hitachi gevorm het.
Hitachi se konstruksie van die Medupi- en Kusile-kragstasies, wat groot konstruksie- en ontwerpfoute insluit, is teen meer as drie keer die geprojekteerde koste voltooi en het na raming minstens R450 miljard gekos om te voltooi.
In 2015 is dit aan die lig gebring dat die ANC, deur middel van Chancellor House se 25%-eienaarskap van Hitachi Power Afrika (HPA), ʼn belang van R3 miljard in die kontrak gehad het. Te midde van bespiegelinge oor omkoopgeld wat HPA aan die ANC betaal het, asook dat hulle ʼn boete van R266 miljoen betaal het, het die ANC-tesourier, destydse Zweli Mkhize, enige ANC-betrokkenheid by korrupsie ontken. Die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) het egter tot ʼn ander gevolgtrekking gekom, wat direk aan SEB gekoppel is.
Die SEC haal ʼn Hitachi-dokument van 2005 aan wat aandui dat Chancellor House “polities verkies” is toe die buitelandse maatskappy op soek was na ʼn bemagtigingsvennoot – met handgeskrewe notas in die kantlyn van ʼn uitvoerende “aanbeveling deur Escom [sic]” sowel as “ANC-tesourie”.
Die SEC-ondersoek, wat geëindig het met die vrywillige boete van R266 miljoen wat HPA betaal het, is onderneem ten spyte van geen plaaslike ondersoeke destyds na die ANC en HPA nie. Volgens Andrew J. Ceresney het Hitachi se lakse interne beheer-omgewing sy filiaal in staat gestel om miljoene dollars aan ʼn ANC polities-verbonde frontmaatskappy te betaal om kontrakte met die Suid-Afrikaanse regering te wen. Chancellor House het ʼn opbrengs van 5 000% op sy belegging in die plaaslike Hitachi-eenheid gemaak. Mkhize het ses jaar na die ontkennings erken dat hulle befondsers van die ANC was, maar Chancellor House het beweer dat die begunstigdes van die opbrengs swart natuurlike persone is wat in groepe soos jeug, vroue, plattelandse burgers en gestremdes geklassifiseer is, om hul SEB-status te behou. Die ANC is wel ʼn begunstigde van die trust en selfs na die inwerkingtreding van die Befondsingswet vir politieke partye in 2021, is dit aan die lig gebring dat die ANC in 2021 alleen R15 miljoen van Chancellor House ontvang het.
Volgens die verslag het hy sistemiese korrupsie en ʼn gebrek aan finansiële beheer by Eskom onthul. Hy het voorbeelde genoem van kontrakte wat hy gekry het, toe hy by Eskom aangekom het, waar ʼn liter melk teen R21 aangekoop is, enkellaag toiletpapier teen R26 ʼn rol en vullissakke teen R51 elk aangekoop is. Hy het onthul dat finansiële beheermaatreëls verder ondermyn is, insluitend met die aankoop van laers vir die Matla-kragstasie teen R408 770 elk in Februarie 2019, waar dieselfde laers voorheen teen R110 632 elk gekoop is. Daar is ook ’n hidrouliese oliepomp in Februarie 2019 teen R650 044 by Matla aangekoop; ʼn pomp wat 3 jaar vantevore R294 669 gekos het.
Hierdie bewerings is alles voorbeelde van hoë pryse wat moontlik gemaak is deur middel van SEB en tenderprosesse, wat dit vir Eskom onmoontlik maak om sulke produkte en dienste van groot kleinhandelaars of meer bekostigbare diensverskaffers aan te koop.
Dit is duidelik dat SEB nie net die deur vir staatskaping oopgemaak het nie, maar ook die Suid-Afrikaanse steenkoolsektor tot so ʼn mate ontwrig het dat slegs diegene wat swart is en ook polities verbonde is, die enigste mense is wat kans het om in die sektor te slaag.