Dit moet ’n sorgwekkende teken wees dat die politieke bewaarders van die land betrokke raak by massief korrupte praktyke en roekeloos omgaan met belastingbetalers se geld. Byvoorbeeld, in 2006 is 14 ANC-LP’s skuldig bevind en beboet nadat hulle skuldig gepleit het op aanklagte van diefstal en bedrog met die misbruik van parlementêre reisbewyse. Die skandaal het later as Travelgate bekend geword en lede van ander partye is ook betrek. In ’n flagrante toesmeerdery het die parlement in 2011 besluit om R12 miljoen af te skryf wat deur die LP’s geskuld is. Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu, het teen wil en dank besluit dat geen verdere stappe teen die betrokke 73 LP’s gedoen sal word nie. Net ses is aangekla.
Die Minister van Sport, Fikile Mbalula, het hom in 2013 aan growwe oorbesteding (altesaam R65 miljoen) aan een toekenningsplegtigheid skuldig gemaak. Weer eens was ’n twyfelagtige en opgeblase tender betrokke. Volgens Business Day Live het hy nie minder nie as R110 miljoen aan verskeie prysuitdelings bestee terwyl sportontwikkeling op skoolvlak krepeer.
’n Hooggeplaaste ANC-LP en Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Bathabile Dlamini, het skuldig gepleit dat sy reiseise ter waarde van R254 000 ingedien het waarop sy nie geregtig was nie.
Die huidige Minister van Energie, Tina Joemat Pettersson, staar ook ernstige bewerings van korrupsie en wangedrag in die gesig. Die Openbare Beskermer het twee verdoemende verslag uitgereik waarin sy van ’n belangebotsing beskuldig word. As Minister van Landbou, Bosbou en Visserye het sy op onreëlmatige wyse ’n kontrak van R800 miljoen aan die Sekunjalo-konsortium toegeken om die land se vissersvaartuie te bestuur. Regsoptrede is deur Thuli Madonsela in haar verslag aanbeveel.
Vooraanstaande ANC-LP’s soos Nathi Mthethwa, Lindiwe Sisulu, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, Beaty Dlulane, Mnyamezeli Booi, Lindiwe Sisulu, Ruth Bengu en Humphrey Mmemezi asook EFF-LP’s soos Dali Mpofu en Julius Malema word almal by onreëlmatige en korrupte praktyke betrek.