BEL ONS: 012 644 4300

Oorsig

Ons het histories ‘n noue verbintenis met die Afrikaner-gemeenskap en het steeds so ‘n verbintenis. Afrikaans is een van Suid-Afrika se belangrike landstale – dit is die taal wat miljoene Suid-Afrikaners na aan die hart lê. Die realiteit is egter dat Afrikaans as hoëfunksietaal weens verskeie redes bedreig word, en alhoewel Afrikaans realisties gesproke deur geen gesprekke of oorreding uit die weg geruim sal kan word nie, is dit steeds noodsaaklik om elke kans aan te gryp om gesprekke te voer en bondgenootskappe te vorm om ten einde die behoud van Afrikaans te bevorder en te voorkom dat dié taalpêrel se glans nie verdof nie.

Om Afrikaans te beskerm, is dit belangrik om die sprekers van Afrikaans te beskerm. Daarom het ons verskeie projekte van stapel gestuur waarby Afrikaanssprekendes aktief betrokke kan raak om Afrikaans uit te bou en te ondersteun.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
Die unieke Afrikaanse mediahuis, Maroela Media is bekend vir hul omvattende, gratis inhoud wat lesers nie net inlig nie, maar ook op 'n nostalgiese manier vermaak en deel van 'n digitale Afrikaanse gemeenskap maak. Maroela Media se sukses lê opgesluit in hul liefde vir Afrikaans. Volgens Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof en redakteur is dit nie toevallig dat Afrikaans die taal is waarin hulle daagliks in jou geestelike, vermaak- en nuusinhoudbehoeftes voorsien nie, maar dat dit die taal is wat Maroela Media sy bestaansreg gegee het. “Ons koester en bevorder Afrikaans omdat dié taal ons so na aan die hart lê,” sê Susan. Die span by Maroela Media bevorder Afrikaans op verskeie kreatiewe en oorspronklike maniere en alhoewel nuus en inhoud in suiwer Afrikaans, hulle hooffokus is, bied hulle meer as net leesstof vir hulle lesers. Hulle radioproduksiehuis, Draadloos vervaardig en verskaf tans radioprodukte aan 56 Afrikaanse gemeenskapsradiostasies landswyd, en sluit stasies wat Afrikaans as 'n uitsaaitaal het in. Maroela Media se radio seminaar, is 'n groot projek wat jaarliks vir twee dae in Centurion en die Kaap aangebied word. Dit is 'n gratis geleentheid waartydens kundiges uit die radiobedryf opleiding aan stasies gee wat wydversprei is en nie toegang tot opleidingsgeleenthede het nie. Bo en behalwe die voordeel van goeie opleiding, is die seminare ook 'n baie goeie netwerk geleentheid wat tot goeie samewerking en ondersteuning tussen die stasies bydra. Elke projek wat Maroela Media aanpak, pak hulle nie net met oorgawe aan nie, maar hulle maak seker dat elke projek 'n sterk Afrikaanse konneksie het. “Elke projek moet ter bevordering van Afrikaans of die Afrikaanse gemeenskap wees en verband hou met ons kern besigheid naamlik inhoud, digitaal of radiostasies,” verduidelik Susan. Die buitelugbioskoop-projek wat jaarliks in Pretoria se botaniese tuine plaasvind, is ook 'n vreeslike lekker projek ter bevordering van Afrikaans. Hier slaag Maroela Media daarin om die Afrikaanse gemeenskap fisies bymekaar te bring om lekker saam te kuier en die nuutste Afrikaanse films op 'n reusagtige skerm te kyk. Die Wikipedia-projek is 'n projek wat die span van Maroela Media baie na aan die hart lê, omrede dit só 'n belangrike projek is. Wikipedia is tydloos en dokumenteer inligting vir altyd. Daarom poog hulle om deur die projek die hoeveelheid artikels wat in Afrikaans op Wikipedia gepubliseer is te laat groei, sodat Afrikaanse dokumente en inligting in die geskiedenis kan behoue kan bly. Dié projek toon geweldige groei sedert sy ontstaan in 2016. Maroela Media het die projek afgeskop met 37 000 artikels op Wikipedia en staan tans by so 46 000 Afrikaanse artikels. “Deur inisiatiewe en projekte in Afrikaans aan te pak dra ons by tot die bou van Afrikaans en beklemtoon ons vir die Afrikaanse gemeenskap dat Afrikaans besig is om te groei. Daar is opwindende lewende en dinamiese goed aan die gebeur in Afrikaans en dit maak dat mense nog voel hulle kan in Afrikaans funksioneer,” het Susan opgewonde bygevoeg.  
Kraal Uitgewers is ’n klein, maar gespesialiseerde uitgewersmaatskappy wat hoofsaaklik fokus op die publisering van gehalte-boeke oor die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse geskiedenis. Dit publiseer ook publikasies wat die geskiedenis kan verander, regstel of wat sterk standpunt inneem oor, onder meer, politieke en maatskaplike kwessies in Suid-Afrika. Kraal Uitgewers publiseer hoofsaaklik nie-fiksie. Die begin van Kraal Uitgewers Kraal Uitgewers is in 1999 gestig, kort nadat Suid-Afrika die 100-jarige herdenking van die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog gevier het. Dit was die liefde en passie vir spesifiek die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog van Paul Alberts, een van Suid-Afrika se bekendste joernalistieke fotograwe, en kol. Frik Jacobs, voormalige direkteur van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, wat uiteindelik tot die stigting van hierdie unieke uitgewershuis gelei het. Kraal Uitgewers vandag Kraal Uitgewers is sedert 2010 deel van die Solidariteit Beweging. Die inskakeling van Kraal Uitgewers as deel van die Beweging speel ’n belangrike rol, aangesien Kraal as ’n uitgewershuis ’n kragtige instrument is om idees in die gemeenskap uit te bou. Kraal Uitgewers sit sy funksie as uitgewer van geskiedkundige Africana-werke voort binne die Solidariteit Beweging, maar plaas nou ook ’n sterk fokus op aktuele werk wat binne die Afrikanergemeenskap waardevolle bydraes tot prominente debatte maak. Gesogte toekenning vir taalkenner 'n Voorbeeld waar die waarde van 'n uitgewer soos Kraal opgemerk sal word, was met die toekenning van die Jan H. Marais-prys aan 'n skrywer van een van die boeke wat Kraal gepubliseer het. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in Maart aangekondig dat die gesogte Jan H. Marais-prys vanjaar aan die taalhistorikus prof. Jaap Steyn en teoloog prof. Jan van der Watt toegeken gaan word. Dié prys word jaarliks aan kandidate wat ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskaptaal gemaak het, toegeken.  Die Jan H. Marais-prys is amptelik op 30 Mei tydens ’n geleentheid in Stellenbosch aan Steyn en Van der Watt oorhandig. Een van Steyn se prominenste werke, ‘Ons gaan ’n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare, is in 2014 by Kraal Uitgewers gepubliseer en is deur verskeie voorste taalkenners aangeprys as 'n “indrukwekkende” en ’n “monumentale werk van groot betekenis”. Steyn het ook ’n bydrae gelewer tot die uitgewer se nuutste boek onder redaksie van die risiko-ontleder en kenner van Afrika-sekuriteit, dr. Heinrich Matthee, getiteld Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd. ‘Ons gaan ’n taal maak’ gaan boonop binnekort in Engels vertaal word. Volgens Kraal Uitgewers se uitvoerende hoof, Alana Bailey, is onlangs besluit om die werk ook aan ’n internasionale gehoor bekend te stel wat sodoende ook prof. Steyn se uitsonderlike bydrae tot die uitbou van Afrikaans as wetenskaptaal selfs verder sal neem. “Die Engelse weergawe van dié boek sal aan ’n nie-Afrikaanse gehoor ’n dieper begrip van die kompleksiteit en omvang van die geskiedenis van hierdie Afrikataal kan gee en hopelik aan lesers ’n nuwe perspektief op die ontstaan, ontwikkeling en oorlewing van dié jong taal kan bied,” verduidelik Bailey. Snuffel Vir dié en ander Kraal-publikasies en produkte, besoek www.kraaluitgewers.co.za. Die uitgewer se nuwe aanlyn winkel maak boonop jou Kraal-inkopies gerieflik en veilig. Gaan snuffel gerus! Jy kan Kraal ook kontak by 012 644 4329.
Akademia wat vanjaar in sy sesde akademiese jaar is, staan vir die idee van 'n Afrikaanse universiteitswese: dat die Afrikaanse student die geleentheid het om in Afrikaans eersteklas hoër opleiding en opvoeding te kan ontvang, om daardeur 'n bydrae in sowel die wêreld as in sy gemeenskap te lewer. Volgens Piet le Roux, Akademia se akademiese hoof beteken die afskaling en afskaffing van Afrikaans by staatsuniversiteite dat Afrikaans nou terug in die hande van die gemeenskap is. Afrikaanse hoër onderwys het 'n blink toekoms juis omdat die gemeenskap 'n behoefte het om Afrikaanse opvoeding en opleiding te behou. Le Roux se standpunt kom te midde van besluite deur verskeie histories Afrikaanse universiteitsrade landswyd dat Afrikaans daar wesenlik verskraal of effektief afgeskaf word. Hy sê voorts dat hierdie universiteite histories gestaan het vir die idee van 'n Afrikaanse universiteitswese, 'n idee wat hulle nou klaarblyklik die rug keer. “Tog was dié universiteite altyd net die beliggaming van die idee en nie die idee self nie. Wat met Afrikaans by staatsuniversiteite gebeur is daarom nie bepalend nie. Die toekoms lê in private gemeenskapsuniversiteite.” Le Roux sê die huidige Afrikaanse universiteitswese is die produk van private gemeenskapsinisiatiewe 100 tot 150 jaar gelede. Niks verhoed hulle om weer uiters suksesvolle Afrikaanse universiteite op te rig nie. By Akademia aanvaar hulle hierdie uitdaging met die steun van die Afrikaanse gemeenskap. “Ons verwelkom bydraes; en ons sal op ons beurt ook hulp verleen aan ander inisiatiewe met dieselfde oogmerk,” sê Le Roux. Akademia bied verskeie ten volle geakkrediteerde kwalifikasies met die gebruik van 'n hoëtegnologie-onderrigmodel wat dosente en studente, in studiesentrums landswyd, in virtuele studieruimtes bymekaarbring. Met die oprigting van Akademia het die departement van hoër onderwys en opleiding voorwaardelike registrasie as hoëronderwys­instansie aan Akademia toegeken. Ná 'n omvattende gehaltebeheerproses het die instansie op 30 Mei 2017 kennis van die departement ontvang dat volledige registrasie as hoëronderwys­instansie amptelik toegeken is. Met die bou van Akademia kan meer Afrikaanssprekende studente in hulle moedertaal onderrig word deur 'n instelling wat van die jongste tegnologie gebruik maak om die beste gehalte hoër onderwys te verseker. Akademia is 'n private instelling wat vreesloos vir Afrikaans veg. Sluit by Solidariteit aan en SMS die woord BOUSAAM na 34802 (R1/SMS) of laat weet ons waar jy sal wil bou by https://solidariteit.co.za/bousaam/#meningspeiling
'n Taal word gedra deur haar media. Afrikaanse radio is 'n onmisbare stuk van die Afrikaanse medialegkaart en kan mense weer laat hoop, glo en leef in Afrikaans. Daar is drie radiosektore, naamlik die openbare uitsaaier, kommersiële stasies en gemeenskapsradiostasies. Hoewel die openbare uitsaaier steeds 'n uitstekende Afrikaanse radiodiens bied, is hierdie diens ten nouste aan die SAUK en die staat gekoppel, wat bepaalde risiko’s vir Afrikaans inhou. Die vorige minister van kommunikasie, Faith Muthambi, het byvoorbeeld vroeër gesê dat die SAUK staatseiendom is en daarom onderworpe is aan die beheer van die ministerie en die regerende party. Daarteenoor het feitlik alle kommersiële radiostasies verengels en slegs Afrikaanse gemeenskapsradio bied nog geleenthede om Afrikaanse radiowese te bevorder. Die ou Radio Pretoria is die afgelope twee jaar uitgebou tot 'n professionele en groot Afrikaanse radiostasie, wat met nege senders feitlik die hele noorde van die land bedien en deur die internet en DStv-kanaal 887 'n wêreldwye voetspoor opgebou het. Die stasie is deur 'n omvattende proses van skeppende vernuwing, gegrond op beproefde waardes. Die uitboustrategie is uiters suksesvol bestuur deur die bekende Willie Spies as besturende direkteur en prof. Schalk Botha as direksievoorsitter. Die resultaat is die opwindende verbetering in die stasie se programaanbieding, 'n verdriedubbeling in luistertal en verskeie radiotoekennings, onder meer twee MTN-radiopryse. Die “nuwe” Pretoria FM is in 2015 tydens 'n spoggeleentheid in die Atterbury Teater in Pretoria geloods. Pretoria FM spog ook nou met splinternuwe ateljees en kantore in die ooste van Pretoria. Hoekom is radio so uitnemend geskik om Afrikaans te bevorder? Hoewel daar baie redes is, kan dit kortliks in 12 rolle wat radio vervul, saamgevat word. Die12 rolle van radio in die bevordering van Afrikaans  
  1. Afrikaanse leefwêreld:
Afrikaanse radio skep 'n Afrikaanse leefwêreld vir sy luisteraars waar hulle ook al mag woon of werk. Wat radio uniek maak, is dat mense daarna kan luister terwyl hul ry, werk of ontspan.
  1. Goedkoopste:
Radio is die goedkoopste manier om Afrikaans op groot skaal te bevorder omdat die produksie- en verspreidingskoste veel goedkoper is as dié van televisie of koerante.
  1. Vermenigvuldiger:
Radio is die beste vermenigvuldiger vir Afrikaans, Afrikaanse instellings en Afrikaanse projekte. Afrikaanse skole kan openlik bevorder word, terwyl bestaande taalprojekte soos boeke, die kunste, musiek, en Afrikaans in die professies met goeie dekking “vermenigvuldig” kan word. Die rede hiervoor is dat radio bekostigbaar en beskikbaar is en daagliks deur sowat 9 uit 10 volwassenes geluister word.
  1. Selfvertroue:
Die radiostasie het ten doel om luisteraars se kulturele selfvertroue te versterk om Afrikaans te bevorder, soos om hul kinders na Afrikaanse skole te stuur. Radio maak die wonder van Afrikaans deel van sy luisteraars se leefwêreld, help om 'n liefde vir Afrikaans te ontwikkel en skep die taaltrots en taalwil om Afrikaans op ander lewensterreine uit te dra.
  1. Taalverskuiwing:
Dit is die beste manier om Afrikaanse musiek te bevorder en veral om te keer dat jongmense net na Engelse musiek luister en uiteindelik na Engels as taal oorskakel. Daarmee vervul radio belangrike funksies soos die verskaffing van inligting en Afrikaanse vermaak wat taalverskuiwing teenwerk omdat luisteraars hierdie taalfunksies in hul moedertaal kan geniet.
  1. Risikobestuur:
Gesien in die lig van die verengelsing van die kommersiële musiekstasies en die risiko’s wat by die SAUK mag ontstaan, is Afrikaanse gemeenskapsradio 'n “broodsaak” vir Afrikaans.  
  1. Grootse mediaprojek:
Pretoria FM beskik oor verreweg die grootste en sterkste uitsaainetwerk wat nie deur die staat bedryf word nie en wat verder aangevul word met internet- en satelliettegnologie, wat dit 'n radiostasie met besondere potensiaal maak. Danksy sy agt herleistasies dek die radiostasie ook die grootste opvangsgebied naas die openbare uitsaaier. Daarom is Pretoria FM saam met Maroela Media die belangrikste Afrikaanse mediaprojekte in baie jare.
  1. Taalgemeenskap:
Radio bind individuele Afrikaanssprekendes in 'n taalgemeenskap saam. Gemeenskapsradio staan met sy “gesig” na Afrikaanssprekendes toe, in plaas van na die staat toe, soos in die geval van die openbare uitsaaier, of na kommersiële belange wat Engels bevoordeel, soos in die geval van die musiekstasies. Die krag van gemeenskapsradio lê daarin dat dit vraagstukke wat die taalgemeenskap raak, kan aanroer omdat dié vorm van radiowese veel nader aan sy gemeenskap is as die openbare uitsaaier. Die radiostasie kan byvoorbeeld makliker taalveldtogte voer of steun en waardegedrewe projekte soos die behoud van Godsdiens in skole steun wat nie vir die openbare uitsaaier sommer moontlik is nie.
  1. Ekonomie:
Radio bevorder die Afrikaanse ekonomie deur reklame en die ondersteuning van Afrikaanse besighede en ondernemers. Dit kan ook Afrikaans in die ekonomie bevorder deur taalontwikkeling en deur Afrikaans deel van die sakewêreld te hou.
  1. Alle taalfunksies:
Radio bevorder Afrikaans in al haar funksies, vanaf die informele tot die hoër funksies.
  1. Volle funksionele taal:
Radio is 'n onmisbare skakel in die bevordering van Afrikaans as volle funksionele taal deur byvoorbeeld programme oor Afrikaans in die reg of Afrikaanse mediese programme uit te saai, of deur die klem op Afrikaans in die akademie te plaas.
  1. Reguleerder:
Die regulatoriese omgewing waarby die radiowese hom bevind, is veel eenvoudiger as wat die geval op ander gebiede soos Afrikaanse onderwys is. Pretoria FM se goeie verhoudinge met die reguleerder is 'n belangrike bate, al mag daar wel verskille bestaan. Onder leiding van die nuwe stasiebestuurder, Hennie Koortzen, en sy span van 40 energieke en geesdriftige radiomense gaan Pretoria FM Afrikaans laat kook!    
Afrikaans is die taal wat vir ons ‘Liefling’ en ‘Stuur Groete aan Mannetjies Roux’ gebring het, die taal waarin digters soos Ingrid Jonker en Totius hul diepste wese gedig het, die taal waarvoor helde soos Jopie Fourie gesterf het en waarvoor skrywers soos Dalene Matthee geleef het.  Dit is die taal van besigheidsreuse soos Johann Rupert en Christo Wiese.  Dít is die taal wat AfriForum wil beskerm, bevorder en koester met inisiatiewe soos AfriSpel, Wêreldwyd en Afrikaans-Vriendelik. Projekte soos die Dink of Sink-debatskompetisie, AfriSpel en SLIM (Studeer en Leer In jou Moedertaal) is spesifiek op jongmense gemik.  Dink of Sink is ’n onvoorbereide debatskompetisie wat vir hoërskoolleerlinge aangebied word.  Die kompetisie word juis aangebied om Afrikaans te bevorder en om Afrikaanse skoliere met debatsvaardighede toe te rus.  Die SLIM-veldtog is van stapel gestuur om aan studente, voornemende studente en hul ouers uit te wys presies hoe belangrik moedertaalonderrig is vir iemand se beroepslewe.  AfriSpel skep leersame speletjies wat Afrikaans en Afrikaner-wees bevorder deur byvoorbeeld die spelling van taaltoffies te oefen. Wêreldwyd is ’n Afrikaanse kuberhoekie wat geskep is sodat Suid-Afrikaners regoor die wêreld kan saamkuier.  Wêreldwyd poog ook om seker te maak Suid-Afrikaners buite ons grense kan op hoogte bly van belangrike nuus en ander sake wat hulle raak. AfriForum bevorder ook Afrikaans in die sakewêreld met Afrikaans-Vriendelik en AfriFoon.  Afrikaans-Vriendelik skep ’n platform vir Afrikaanse besighede en verbruikers om mekaar te ontmoet.  Die jaarlikse Tinteltong-toekennings word ook deur Afrikaans-Vriendelik georganiseer.  Hierdie toekennings fokus op ondernemings wat Afrikaans deur hul produkte, dienste en bemarking bevorder.  AfriFoon is verbind daartoe om Afrikaans te vestig en te bevorder op die telekommunikasiespeelveld deur alle bemarking, korrespondensie, kontrakte, verkoopaksies en dienslewering slegs in Afrikaans aan te bied. ForumFilms is ’n produksiehuis met groot planne vir die toekoms.  Die dokumentêre rolprent Tainted Heroes is een van hul grootste suksesverhale en hulle beplan om in die toekoms nog ’n hele reeks dokumentêre en ander Afrikaanse produksies te vervaardig. Help ons om verder te bou aan soortgelyke inisiatiewe om Afrikaans te bevorder deur BOU te SMS na 34802.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is die oudste sambreelorganisasie en ’n leier van kultuurverenigings. Die FAK is nie slegs 'n koördineerder van kultuurverenigings nie, maar bied samehorigheid aan die nasionale Afrikaanse gemeenskap – en Afrikaans is die taal waarin die FAK standpunt inneem. Vandag is die FAK steeds dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in Afrikaans, hoewel hy reeds in 1929 gestig is. Dis ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en ons trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder. Die FAK bied vanjaar 'n opwindende toer na Europa en Egipte aan. Die toer is hoofsaaklik gespits op Graad 11- en 12-leerders, studente asook jong werkende mans en vroue, maar is nie tot 'n sekere groep beperk nie. Nederland, België, Frankryk asook 'n nag in Egipte is ingesluit in die toer. Die tydsduur van die toer is altesaam 13 dae en 10 nagte en vind plaas van 28 September tot 8 Oktober 2017. Die hoofdoel van die toer is om die diep wortels van Afrikaans te ontdek, en ook om blootstelling te kry aan Europa se geskiedenis wat vandag steeds 'n impak op Suid-Afrika het. Uitstappies sluit onder meer 'n besoek aan Jan van Riebeeck se huis in. Verder bevorder die FAK Afrikaans deur onder meer opwindende plakkaatreekse, gedigtekompetisies en werkwinkels. Die Internasionale Afrikaans-Ekspo is ’n opwindende skryfkompetisie wat veral op leerders en studente se kreatiewe hantering van Afrikaans fokus. Tesame met die feit dat dit pret is om deel te neem, word leerders ook gehelp met hulle skryfproses deurdat hulle terugvoer kry van die beoordelaars. Die Ekspo word vanjaar in ’n nuwe formaat aangebied om sodoende aan te pas by die moderne tegnologie en om deelname aan die Ekspo meer toeganklik te maak. Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ’n toekomsgerigte ideesentrum wat op die voorwaardes vir suksesvolle en selfstandige gemeenskappe fokus. Die sentrum is reeds in 2013 vanuit die FAK gestig en deel steeds kantore met hierdie kultuurorganisasie, wat op die historiese Voortrekkermonumentterrein geleë is. Daar word gereeld konferensies gehou, publikasies en navorsingsverslae uitgereik asook meningstukke geskryf wat weekliks in Standpunte en ook ander media verskyn. Aan die voet van die Voortrekkermonument lê die Afrikaanse Liedjietuin tussen lowergroen bome en pragtige natuurskoon. Stap hand aan hand deur die asemrowende rose en word sag getroebadoer deur die kabbel-kabbel van ’n verdwaalde stroompie. Neurie of sing saam die woorde van merkwaardige Afrikaanse treffers vasgevang in granietblaaie regdeur die Afrikaanse Liedjietuin, en word nostalgies weggevoer na jou eie kinderdae van jonk en vry wees.

MENINGSPEILING

Kies die temas uit Solidariteit se bouplan wat jou die naaste aan die hart lê en teken op om saam te bou.

Gee jou Mening

FACEBOOK

Hou die #BouSaam veldtog dop op Facebook.

Vat my na Facebook

Waaraan Bou Ons?

Afrikaans

Oorsig Ons het histories ‘n noue verbintenis met die Afrikaner-gemeenskap en het steeds so ‘n verbintenis. Afrikaans is een van Suid-Afrika se belangrike landstale – dit is die taal wat miljoene Suid-Afrikaners na aan die hart lê. Die realiteit is egter dat Afrikaans as hoëfunksietaal weens verskeie redes bedreig word,  ... Lees meer

Lees meer

Vrye ekonomie en politieke posisionering

Oorsig Ons staan ‘n ekonomiese orde van vrye mededinging voor. Die Suid-Afrikaanse ekonomiese beleid behoort gebaseer te word op ‘n vryemark-ekonomie waar daar balans tussen die verskillende rolspelers in die ekonomie bestaan. Ons streef na ʼn Suid-Afrika waarin die rol van instellings voorop staan en vertroue tussen mense hoog is.  ... Lees meer

Lees meer

Media

Oorsig Tans word daar bitter min of geen ruimte geskep vir Afrikaanse media nie. Selfs binne die kommersiële Afrikaanse media is daar sekere media-instansies wat onsimpatiek staan teenoor Afrikaans se benarde situasie, of wat nie te vinde is daarvoor om hul monopolie op die Afrikaanse media prys te gee ten  ... Lees meer

Lees meer

Oppergesag van die reg

Oorsig Die doel van Solidariteit is om ʼn Suid-Afrika tot stand te bring waarin almal vry, gelyk voor die reg, waardig en billik behandel sal word. Sedert 1902 veg Solidariteit aktief vir sy lede in howe sodat geregtigheid in die werkplek kan geskied, asook om ʼn stokkie te steek voor  ... Lees meer

Lees meer

Groeiende selfstandigheid

Oorsig Ons wil nie net daarop fokus om ekonomiese oplossings aan ons lede te bied nie. Ons poog om vir ons lede en hul gemeenskappe demokratiese ruimtes te skep waarin hulle onafhanklik kan leef. Die antwoord op staatsverval is die politiek van self. Daarom is dit noodsaaklik dat ons intree  ... Lees meer

Lees meer

Studiehulp

Oorsig Ons sien onself as bouers wat al vir die afgelope 115 jaar saam met geesdriftige lede besig is om te bou aan ʼn toekoms. Ten spyte van al die onsekerheid in ons land sal ons nooit ophou bou aan opleidingsinstellings nie. Ons sal aanhou om studiegeleenthede vir die lede  ... Lees meer

Lees meer

Opleiding

Oorsig Suksesvolle kultuurgemeenskappe benodig gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Reeds vanaf die middel 1800’s het Afrikaners op verskeie plekke beroepskolleges en universiteite begin oprig. Met verloop van tyd het dié beroepskolleges en universiteite egter hul gemeenskapskarakter verloor en al meer ʼn staatskarakter ontwikkel. Tans word dié inrigtings deur  ... Lees meer

Lees meer

Goeie Werk

Oorsig Volgens die Amerikaanse meningsopname-maatskappy Gallup, is die grootste behoefte van mense dwarsoor die wêreld ʼn goeie werk. Behalwe die ekonomiese stabiliteit wat werk gee, bepaal jou werk in ʼn groot mate wie jy is en waar jy inpas. Hier by Solidariteit glo ons in meer as net ʼn goeie  ... Lees meer

Lees meer

Groter Solidariteit Beweging

Oorsig Die ontstaan van die Solidariteit Beweging kan sover teruggeneem word as Junie 1902 toe die Transvaal Miners Association gestig is. Die Beweging se oorsprong kan nie net toegeskryf word aan individuele dade nie, maar het ook deur die funksie van instellings tot stand gekom. Die Solidariteit Beweging bestaan uit  ... Lees meer

Lees meer

Registreer / Register

Maak toe / Close