Afrikaanse skole seëvier

Woensdag, Januarie 11th, 2017

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het onlangs sy matriekuitslae-verslag vir 2016 bekend gemaak. Daarin is omvattende statistiek wat nie aldag deur die Departement van Onderwys bekend gemaak word nie. Die verslag fokus op Afrikaanse skole en hul prestasies, onder meer die aantal onderskeidings wat in sekere vakke behaal is, sowel as die druipsyfers van studente.

Die persentasie leerlinge wat in 2016 die matriekeksamen in wiskunde afgelê het, verskil nie veel van vorige jare se syfers nie. Dit blyk dat die departement van onderwys nie daarin kon slaag om meer leerlinge wiskunde as vak te laat neem nie. “Wiskunde is noodsaaklik vir die mens om te leer om probleme op te los. Die stand van wiskunde op skole behoort as ʼn nasionale krisis verklaar te word.”

Die persentasie leerders wat in 2016 wiskunde as matriekvak geskryf het, beloop 43,6% van die totaal. Slegs 33,5% van daardie kandidate het die vak geslaag. Die groep van 721 Afrikaanse skole wat in hierdie verslag opgeneem is, verteenwoordig slegs tien persent van al die skole wat wiskunde tydens 2016 se Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf het, maar hulle het 32% van alle wiskunde-onderskeidings ingepalm. Volgens die SOS kan daar afgelei word dat die gehalte van wiskunde-onderrig by Afrikaanse skole uitstekend is. Hulle vaar 300% beter as die ander openbare skole. In die verslag word Afrikaanse skole beskou as skole wat Afrikaans Huistaal as vak aanbied.

Dit is vir die Skoleondersteuningsentrum ook kommerwekkend dat die eksamens slegs in Afrikaans of Engels afgelê mag word, omdat 3% steeds by elke eksamenvak (buiten tale) bygevoeg word vir kandidate wat nie as Afrikaans of Engels Huistaal-kandidate geregistreer is nie. Dit, asook die feit dat 28 skoolvakke se punte volgens Umalusi – die Raad vir Gehalteversekering in Algemene en Verdere Onderwys en Opleiding opwaarts aangepas is, beteken dat die werklike syfers in der waarheid slegter is.

Wat Afrikaans Huistaal as vak betref, het 721 skole se matrieks vir die vak ingeskryf, en nasionaal is altesaam 2 542 onderskeidings behaal. Die provinsies wat die beste gedoen het, is Gauteng en die Wes-Kaap met onderskeidelik 41% en 35% van al die onderskeidings. Saam het hierdie twee provinisies egter net 60% van die aantal leerders wat die eksamen in Afrikaans Huistaal geskryf het.

Verder in die verslag, as daar na die presterende skole gekyk word, staan Paul Roos Gimnasium uit die Wes-Kaap boaan die lys van skole wat die beste in wiskunde presteer het met 33% van dié skool se matrieks wat onderskeidings in wiskunde behaal het. Sewe van die top 20 skole is seunskole, vier is meisieskole, nege is dubbelgeslagskole, elf is Afrikaanse skole en nege Engelse skole. Tien skole is uit die Wes-Kaap en sewe uit Gauteng.

Hoërskool Menlopark was die top presteerder wat Afrikaans Huistaal betref met 108 onderskeidings, oftewel 36% van sy matrieks. Uit die top 20 skole is sewentien gemengde skole, en twaalf van die skole is in Gauteng. Westville Boys High in KwaZulu-Natal het die beste gevaar in rekeningkunde met 63 van sy matriekleerlinge wat onderskeidings in die vak behaal het.  Wat fisiese wetenskap betref, is Westerford High School met 51 onderskeidings die toppresterende skool. Uit die top 7 skole nasionaal is vyf Afrikaanse skole.

Die Skoleondersteuningsentrum wil met hierdie verslag  erkenning verleen aan Afrikaanse skole, onderwysers en personeel vir hul harde werk en toewyding aan leerders se onderwys en toekoms. Volgens die SOS is moedertaalonderrig die antwoord om Suid-Afrika se onderwysstelsel weer op die regte pad te kry. Hulle beywer hul in 2017 vir die opleiding van onderwysers en om Afrikaanse skole se gehalte te verbeter.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Ander Artikels

Nuuskommentaar: Swart ontleder slag heilige koeie van radikale transformasie by landbouskou
Dit is maklik vir die ontwerpers en toepassers van radikale ekonomiese transformasie (RET) om kritiek daarop uit wit geledere af te skiet. Koppel dit net aan ʼn begeerte om wit bevoorregting en oorheersing in stand te hou (ongeag of hierdie drang werklik by die kritici bestaan), voeg ʼn uitdruklike of  ... Lees meer
Nuuskommentaar: Die president moet álle moorde veroordeel
Eugene Brink   Pres. Jacob Zuma se oproep dat alle Suid-Afrikaners moet verenig teen aanvalle en moorde op vroue en kinders, asook teen mensehandel, moet geloof word. Tussendeur al sy politiekery, rassisme en ondeugde is dit ʼn welkome boodskap, al is die impak daarvan onseker en waarskynlik slegs simbolies. Dit  ... Lees meer
Nuuskommentaar: ANC nou kwaad oor Molefe, maar hy is net nog ʼn kader
Eugene Brink   Brian Molefe se terugkeer na Eskom as uitvoerende hoof nadat die kragverskaffer se direksie om weer aangestel het, is besig om weer die verdelings in die ANC en ook pres. Jacob Zuma se greep op die party op skouspelagtige wyse na vore te bring. Lynne Brown, minister  ... Lees meer
1 2 3 75