Akademia brei in 2018 na die Oos-Kaap uit, wanneer ʼn studiesentrum in Port Elizabeth sy deure vir voornemende studente oopgooi. Aansoeke vir studies in 2018 by dié sentrum kan nou gedoen word.
Paul Vogel, Akademia se operasionele bestuurder, verduidelik dat die studiesentrum op die terrein van Akademia se vennoot, die Voortrekkers, geleë is. “Akademia is baie opgewonde om saam met die Voortrekkers vir die gemeenskap van Port Elizabeth die geleentheid te bied om op hul voorstoep in Afrikaans te studeer.”
Die nuwe studiesentrum sal op presies dieselfde wyse as sy elf landwye eweknieë funksioneer, met studente wat verpligte nauurse klasse by die interaktiewe studiesentrum bywoon. Die sentrum is met moderne videokonferensie-tegnologie toegerus en gratis internettoegang is beskikbaar om studente toegang tot die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel en biblioteek, te gee.
Watter kwalifikasies word aangebied?
Akademia fokus op toeganklike en bekostigbare moedertaalonderrig wat plaaslik en internasionaal relevant is. Die geakkrediteerde programaanbod en praktiese, beroepsgerigte kwalifikasies bied aan studente die geleentheid om eersteklas hoër opleiding en opvoeding te ontvang, om daardeur ʼn bydrae in sowel sy gemeenskap as die wêreld te lewer.
Studente kan tans vir BCom-grade in ondernemingsbestuur, bestuursrekeningkunde, ekonomie en regte, en finansiële beplanning inskryf. Hoër sertifikate in rekeningkunde en kantooradministrasie word ook aangebied, asook ʼn gevorderde diploma in projekbestuur. Intussen word kwalifikasies op die gebied van regsgeleerdheid, rekeningkunde, verpleegkunde en sosiale wetenskappe ook ontwikkel.
Hoe werk die onderrigmodel?
Akademia se onderrigmodel kombineer ’n klaservaring met afstandsonderrig. Alle klasse is regstreeks met mekaar, sowel as met een van vier professionele ateljees by Akademia se hoofgebou waar die dosent gesetel is, in verbinding. Studente sien op een groot skerm die klasnotas, en op ’n tweede skerm word die dosent lewensgroot vertoon.
Kontaksessies duur ongeveer vyftig minute, en studente kan aan die klas deelneem deur eenvoudig ’n hand op te steek en ’n vraag te vra. Sagteware bring outomaties so ’n student na die voorgrond van die videovoer in ander klasse, byna asof die vraag in dieselfde lokaal gevra is. Op soortgelyke wyse kan die dosent studente vrae aan enige student in enige van die klasse rig, en word die bespreking regstreeks oor studiesentrums heen gedeel en ervaar.
Die ateljees vanwaar die dosente klasse aanbied is met gevorderde tegnologie ingerig. Voor dosente verskyn al die verskillende klasse op groot televisieskerms, waar dosente studente kan identifiseer vir vrae en opdragte. Digitale penne dra wat dosente ook al op die papier voor hulle skryf oor na die skerms in studiesentrums. Terselfdertyd is klank- en videoingenieurs deurentyd in die beheerkamer besig om klank, video en ander tegnologiese aspekte te monitor en optimaliseer.
Ná klasse word die opnames geredigeer en binne enkele dae op Akademia se digitale leerruimte, die Spens, vir studente beskikbaar gemaak. Hier kan studente video-opnames van die klasse aflaai, argiefmateriaal bestudeer, of selfs net die klankbaan op hul selfone laai om later weer as ’n potgooi te luister.