Deur Luisa van der Linde
Suid-Afrikaners is vandeesweek gebombardeer met versoeke van vriende, familie en kennisse om WhatsApp uit te vee en eerder ander selfoontoepassings af te laai nadat dié boodskapdiens aangekondig het dat sy bepalings en voorwaardes gaan verander.
Op eg Suid-Afrikaanse manier het grappies sommer dadelik die rondte begin doen. Die skrywer Rudie van Rensburg, veral bekend vir sy Herklaas-boeke, deel die volgende op sy Facebook-bladsy:
Ek gee regtig nie om dat Mark Zuckerberg en sy kornuite (die Illuminati, Flat Earth Society, die Kapitool se veiligheidsdienste, die CIA, die Pentagon en die Bill Gates-stigting) die moeite doen om elke oggend (Amerikaanse tyd) tydens hulle oggendkonferensie Google Translate aktiveer om my WhatsApps van die afgelope 24 uur te ontleed nie. Hulle sou saam met my gefrustreerd gewees het oor my stryd om ʼn betroubare tuinvullisverwyderaar en loodgieter op te spoor. Ook lekker saam kon lag vir die grappies wat my vrinne vir my stuur. Gesonde kubervermaak vir almal. Sal maar vasbyt by WhatsApp. Sien nie nou kans vir ʼn ander platform nie. Mens weet nooit watter ongure karakters hou jou daar dop nie. Op WhatsApp ken ek darem nou al my customers.
Maar alle grappies op ʼn stokkie – min selfoongebruikers verstaan regtig wat die nuwe bepalings en voorwaardes behels en of dit veilig is om “Ja” te klik wanneer ʼn skermpie op hul WhatsApp-selfoontoepassing verskyn en hulle dwing om die nuwe voorwaardes teen ʼn sekere datum te aanvaar.
Luisa van der Linde het namens Solidariteit by Rianette Leibowitz (ʼn kuberwelstandskenner en stigter van SaveTNet kubersekuriteit) en Jaco van der Walt (ʼn sekerheidsingenieur van Telic Consulting) gaan aanklop om selfoongebruikers te help om die kaf van die koring te skei.
Die groot vraag op almal se lippe is: Moet hulle “JA” druk as die boodskap op hul WhatsApp verskyn?
“Daar is nie regtig ʼn keuse nie. As jy WhatsApp wil gebruik, moet jy die bepalings en voorwaardes aanvaar en die toepassing volgens WhatsApp se regulasies gebruik,” sê Rianette.
Sy sê dit is belangrik om ʼn tree terug te staan en te verstaan – en in ag neem – dat alle toepassings daarop geregtig is om hul eie reëls te kan maak.
“Ons gebruik die meeste van hierdie toepassings gratis en moet besef dat wanneer ons iets verniet gebruik, daar tog iets is wat ons gewoonlik in ruil daarvoor moet gee. Die meeste van die tyd is dit ons data, van ons inligting.”
Rianette sê toepassings soos WhatsApp gebruik dié inligting juis om die diens wat hulle aan die verbruiker verskaf, beter te maak. Verbruikers moet onthou dat dié dienste steeds soos ʼn groot enjin is wat inkomste moet genereer.
Jaco sê na sy mening is die WhatsApp-herrie ʼn storm in ʼn teekoppie.
Hy stem met Rianette saam dat WhatsApp sy dienste gratis aan verbruikers bied en dat geen besigheid dienste gratis kan aanbied sonder om ʼn bron van inkomste te hê nie.
“As jy ʼn gratis diens soos Facebook of WhatsApp gebruik, is jy die produk wat verkoop word.”
Rianette en Jaco wys albei daarop dat WhatsApp sedert 2014 al deel van die Facebook-maatskappy is.
“Die Facebook-maatskappy is ʼn besigheid wat geld maak deur bemarkingsdienste aan ander besighede te bied. Alles wat die Facebook-maatskappye (Facebook, WhatsApp, Instagram en andere) doen, is om hierdie besigheidsmodel te versterk en uit te brei.
Facebook en Instagram deel reeds data oor hul gebruikers met mekaar.
In eenvoudige terme gestel, maak Facebook seker dat sy data oor gebruikers van groot waarde is vir ander besighede wat betaal om advertensies op die platform te plaas.
In wese beteken dit dat Facebook en WhatsApp (en enige ander gratis platform soos Google en sy produkte) data oor jou bymekaarmaak om aan bemarkers te gee en om ʼn meer persoonlike aanlyn ervaring vir jou te bied.
“Die gevolg is dat jy advertensies wat meer relevant vir jou is op die platforms gaan sien. Dit hou voordele vir die bemarker in, maar ook vir jou,” meen Jaco.
Rianette sê: “In die geval van WhatsApp is dit belangrik om te verstaan wat dit vir ons beteken. Gaan kyk na WhatsApp.com/legal. Daar sal jy as verbruiker WhatsApp se privaatheidsbeleid en verwante aanpassings kan sien. Dit is belangrik dat jy as verbruiker weet waarvoor jy “ja” sê – nie net in die geval van WhatsApp nie, maar met alle applikasies.”
Sy sê min mense is byvoorbeeld daarvan bewus dat die ouderdomsbeperkings vir WhatsApp en Signal 12 jaar is en vir ʼn toepassing soos Telegram, is dit 17 jaar.
Jaco sê WhatsApp kan onder meer die volgende data van jou gebruik:
Volgens Rianette en Jaco is daar basies twee keuses:
Elke gebruiker moet self besluit of hy of sy gemaklik is daarmee dat maatskappye hul persoonlike inligting, voorkeure of gebruikspatrone stoor om hul diens moontlik te kan maak.
Is WhatsApp en Facebook nie al lankal met mekaar verbind nie? Wat is die “ekstra verbindings” waarvoor verbruikers nou “JA” moet sê?
Rianette sê van wat sy kan aflei, gaan die nuwe bepalings en voorwaardes meer oor mense wat die WhatsApp-platform wil gebruik om besigheidstransaksies te doen.
“As ʼn mens in die toepassingswinkel (App Store) na WhatsApp gaan kyk en na die opsies oor inligting en privaatheid afblaai, verskyn ʼn lys van inligting wat WhatsApp wel met ander maatskappye kan deel en inligting wat jy uit jou eie vrye wil met hulle deel. Die meeste van hierdie inligting het met die toepassing se funksionaliteit te make.
As jy byvoorbeeld deur middel van WhatsApp sou inkopies doen – wat terloops nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie – sou van die inligting oor die transaksie natuurlik beskikbaar raak. Verbruikers sê dus eintlik “ja” dat inligting wat reeds op Facebook beskikbaar is, dan deur middel van WhatsApp met ander besighede gedeel word. Dit is nie noodwendig ʼn negatiewe ding nie. Dit is maar net ʼn meer geïntegreerde ervaring. Natuurlik moet ons ook besef dat Facebook al hierdie inligting wil gebruik om in die eerste plek ʼn beter diens aan jou te lewer en om in die tweede plek geld te maak want dit is ʼn enjin wat aan die gang moet bly.”
Mense laai nou inderhaas toepassings soos Viber, Telegram en Messenger op hul fone af. Is daar enige waarborg dat hierdie toepassings veiliger is as WhatsApp en Facebook wat met mekaar verbind is?
Jaco meen die verskillende platforms wat mense nou aflaai, het almal hul eie voor- en nadele. “Onthou weereens – as jy ʼn produk gratis gebruik, moet die besigheid ʼn manier hê om inkomste te kry.”
PRIVAATHEID EN VEILIGHEID
Die meeste mense is besonder besorg oor hul privaatheid.
Verbruikers kan gerus wees in die wete dat WhatsApp se boodskappe met enkripsie van punt tot punt (End-to-End/E2E Encryption) toegerus is.
Dit beteken dat sodra jy ʼn boodskap aan ʼn kontak stuur, dit op ʼn unieke en komplekse manier geskommel en verskuil word. Net die persoon aan wie dit gestuur word, kan dit ontsyfer en die korrekte boodskap lees. Hierdie proses gebeur outomaties en gebruikers sien net die ontsyferde boodskap.
Dit beteken dat terwyl die boodskap deur WhatsApp se bedieners en netwerke beweeg, dit onleesbaar is.
WhatsApp kan dus nie jou boodskappe aan ander mense lees nie, en daar is tans geen bewys dat hulle dit doen nie.
Jaco sê die beste manier om hierdie tegnologie te oudit is dat sekerheidsnavorsers na die bronkode en implementasie van die stelsel kyk.
“Die kubersekerheidsgemeenskap is dit eens dat WhatsApp se enkripsie na wens is en dat ʼn standaardprotokol gebruik word wat geen bekende tekortkomings het nie,” sê Jaco.
Dieselfde kan nie gesê word van al die ander platforms nie. Daar is spesifiek kommer oor Telegram se enkripsiestelsel. Telegram gebruik nie ʼn standaard-enkripsiemetode nie en navorsers het nie toegang tot die Telegram-bronkode om te verseker dat Telegram se implementasie werk soos wat onderneem word nie. Die kubersekerheidsgemeenskap spekuleer lank reeds al dat Telegram steeds jou persoonlike boodskappe kan lees.
ʼn Uitsondering in hierdie geval is die Signal-toepassing. Signal is deur navorsers en privaatheidsaktiviste gestig en berus op ʼn niewinsgewende model. Dié toepassing se bronkode is beskikbaar en kan deur enigiemand besigtig word. Sodoende kan bevestig word dat Signal gebou is op die beginsel om ʼn veilige en private diens aan gebruikers te lewer.
KUBERKRAKERS
Rianette meen ook dat WhatsApp se geënkodeerde boodskapstelsel veilig is.
“Een van die maniere waarop kuberkrakers toegang tot verbruikers se inligting gaan kry, is as gebruikers of verbruikers op kwaadwillige skakels klik.
Verbruikers stel hulself bloot wanneer hulle ʼn WhatsApp, SMS, Messenger-boodskap of e-pos kry, veral vanaf ʼn onbekende afsender, waarin ʼn skakel (link) na ʼn onbekende webwerf of e-posadres is.
“Ek het die afgelope ruk baie boodskappe op FB se Messenger gekry wat vra: “Is dit jy in hierdie video?” Wanneer ʼn mens op hierdie tipe video klik en inligting verskaf, stel jy jouself en jou inligting bloot. Verbruikers moet sélf verantwoordelik wees en nie sommer op enigiets klik en inligting verskaf nie.
Kan kuberkrakers nou makliker toegang tot mense se slimfone, en veral hul bankbesonderhede, kry?
Jaco sê “nee”. WhatsApp se privaatheidsbeleid het geen impak op ander aspekte van jou slimfoon nie. “Onthou wel dat standaardveiligheidsmaatreëls altyd gevolg moet word. Maak seker dat jou slimfoon deur ʼn toegangskode beskerm word en dat jou foon gereeld sagteware-opdaterings ontvang. Moet ook nooit jou geheime wagwoorde of bankkaartbesonderhede met ander deel nie.
Onthou dat jou slimfoon die sleutel tot jou kluis geword het. Bewaar dit goed en indien jou foon gesteel is of wegraak, kontak jou bank onmiddellik om jou rekening te beskerm.”
Is verbruikers wat “JA” sê meer blootgestel as een van die volgende toestelle ook aan hul fone gekoppel is:
Rianette sê jy is nie noodwendig meer blootgestel as jy ʼn ander slimtoestel aan jou foon gekoppel het nie omdat jy steeds dieselfde toepassing (in hierdie geval WhatsApp) op al die toestelle gebruik.
“Die spesifieke toepassing se reëls geld steeds. As verbruiker kan jy jou egter blootstel wanneer die kamera-, ligging- en luidsprekerverstellings van die toestelle en toepassings wat jy aanmekaar koppel, nie streng genoeg gestel is nie.
Gaan kyk na WhatsApp se toepassingswinkel:
As jy deurblaai ondertoe, kan jy sien dat die data wat moontlik met jou identiteit verbind word, meermale te make het met die toepassing se funksionaliteit en die volgende behels:
Waarop dit deurgaans neerkom, is jou verantwoordelikheid as verbruiker om die spesifieke toepassing se reëls en regulasies te ken en om jou verstellings self te gaan instel.
So kan jy in die geval van Google Maps byvoorbeeld kíés of jy iemand die hele tyd toegang wil gee om te sien waar jy is en of mense nooit mag sien waar jy is nie.
ʼn Hele klompie ma’s is bekommerd oor hul laerskoolkinders wat nou met die Covid-19-inperking op WhatsApp met mekaar of in groepies praat. Sal pedofiele of misdadigers boodskappe nou onder die nuwe voorwaardes makliker kan onderskep of met kinders kan gesels? Ouers wil ook weet of daar voorstelle is oor hoe ouers hul kinders veilig kan hou.
Rianette sê die kort antwoord op die vraag is néé, pedofiele of misdadigers kan nie boodskappe makliker onderskep nie. Enkripsie van punt tot punt (E2E) geld steeds.
“Net jou kontakte of mense wat met jou kontak het, kan boodskappe aan jou stuur. Wanneer dit kom by die besluit oor wanneer ouers hul kinders toelaat om WhatsApp te gebruik, moet ouers besef die ouderdom waarop kinders WhatsApp mag gebruik 12 jaar en ouer is en daarom sal ouers self verantwoordelikheid moet aanvaar as hul kinders jonger as dit is.
Die platform self is nie onveilig vir kinders nie. Maar die mense met wie ons kontak maak, die soort inligting wat ons daar deel en waaroor ons praat, is waar die risiko lê.
Dit is op hierdie punt waar ons heelwat voorstelle aan ouers kan maak om hul kinders veilig te hou. Rianette gee meer raad in haar boek Maak jou kind SKERMSLIM …maar wanneer dit by WhatsApp kom, sonder sy die volgende uit wat ouers by hul kinders behoort tuis te bring:
Dit is belangrik dat ouers betrokke is en goeie grense daarstel wat betref die hoeveelheid tyd wat hul kinders op WhatsApp spandeer.
Jaco stem saam dat E2E-boodskappe privaat is en dat opvoeding oor en bewusmaking van die gevare die beste manier is om probleme betyds te onderskep.
“Die grootste risiko is dat jou kind gelok word om met ʼn onbekende persoon te gesels. Leer jou kind om nie met onbekende kontakte te praat nie en om nooit persoonlike inligting aan hulle te gee nie. Moet ook nooit ʼn afspraak maak om ʼn vreemdeling in persoon te ontmoet nie. Kweek ʼn kultuur van eerlike gesprekke met jou kind oor met wie en waaroor hulle gesels.”
Mense lees nou in die media dat Facebook en WhatsApp gekoppel word om advertensies te sinkroniseer. As jy en jou wederhelf ʼn warm gesprekkie voer met die woord ‘seks’ wat daarin voorkom, of jou tienerkinders stuur grappies vir mekaar aan wat onder die belt is en waarin onbetaamlike sleutelwoorde voorkom, gaan dit beteken dat jy dan skielik advertensies van ʼn volwasse aard op jou Facebook-muur sal moet afhaal?
Rianette sê twee verskillende platforms is hier ter sprake. Facebook is ʼn openbare platform. Alles wat hier gebeur, is openbaar en jou vriende en hul vriende (afhangend van jou verstellings) kan alles sien wat jy hier deel.
WhatsAppp aan die ander kant, is privaat en alle boodskappe wat daar gestuur word, is
geënkodeer en niemand anders het dus toegang tot jou privaat boodskappe nie. Slegs die persoon wat die boodskap stuur en die persoon wat die boodskap ontvang, het toegang tot die spesifieke boodskap.
Op WhatsApp.com/legal staan daar “geen derdeparty-advertensies nie.” Volgens hierdie stelling is daar in hierdie stadium dus nog geen advertensies op WhatsApp nie. Dit behoort dus nie te gebeur dat sleutelwoorde op dié app enige spesifieke advertensies gaan meebring nie.
Die Facebook-toepassing tel wel sleutelwoorde op en die soort advertensies en inligting wat jy hier ontvang, is pasgemaak. Maar dit geld ook vir Google en baie van die ander toepassings soos Maps wat ons ook gebruik. Selfs Siri en Alexa maak gebruik van ingeboude Kunsmatige Intelligensie om inligting wat spesifiek op jou van toepassing is, in te samel.
As jy glad nie ʼn Facebook-gebruiker is nie, gaan jou WhatsApp-diens dan opgeskort word?
Baie verbruikers gebruik net Facebook, of net Instagram, of net WhatsApp.
“Wat ek wel onder WhatsApp se nuwe bepalings en voorwaardes verstaan, is dat as jy ʼn WhatsApp-diens gebruik, jou inligting met verwante maatskappye in die Facebook-groep gedeel sal kan word en wel volgens die manier waarop jy WhatsApp gebruik. As jy transaksies doen wat nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie en jou gebruikersinligting word gestoor, mág dit wel in ʼn later stadium met die Facebook-groep se maatskappye gedeel word,” sê Rianette.
Jaco sê WhatsApp het, sover sy kennis strek, nie ʼn beleid in hierdie opsig aanvaar nie, maar dit is onwaarskynlik dat jy verplig sal word om ʼn Facebook-gebruiker te wees.
Sal dit ʼn verskil aan my privaatheid en aan my kontakte se privaatheid maak as ek die opsies verstel wat maak dat my kontakte nie oor verskeie platforms gedeel word nie?
“Vir seker! … En as ʼn mens die opsie het om dit te doen, stel ek voor dat ʼn mens dit wel doen, want jy het nie noodwendig die toestemming van al jou kontakte om al hul kontakinligting te deel nie,” sê Rianette.
Sy sê wanneer ʼn mens byvoorbeeld na True Caller kyk, moet jy jou hele adresboekie met die toepassing deel sodat True Caller jou kan laat weet wie jou bel. As my nommer op jou foon gestoor is en ek het jou nie noodwendig toestemming gegee om dit te deel nie, kan dit gebeur dat my kontakinligting reeds met True Caller gedeel is. Wanneer ʼn mens dus verstellings in die spesifieke toepassing kán maak om níé mense se besonderhede bloot te stel nie, doen dit beslis eerder. In baie gevalle kan jy dit egter nie doen nie omdat True Caller dikwels nie daardie opsie bied nie. Dit is deel van hul bepalings en voorwaardes.
“Ek moet sê, dit is eenvoudig so dat dit in die geval van die bekende apps wat ons gebruik meestal makliker is om daardie integrasie te laat gebeur en dat die toepassing dan beter werk. Aan die ander kant is daar baie toepassings wat nie so bekend is nie.
“In die geval van daardie vraelyste op Facebook waarin ʼn mens moet aandui ‘watter tipe dier jy sou wou wees’ of ‘hoe jy sou lyk as jy ʼn supermodel was,’ gee ons deur daardie tipe antwoorde wat ons gewoonlik invul, soveel inligting weg sonder dat ʼn mens dit besef. Deur daardie antwoord te verstrek in die lig van die bepalings en voorwaardes, gee ʼn mens gewoonlik toegang tot sekere besonderhede, soos byvoorbeeld jou vriende op Facebook. Ons moet dus net groter verantwoordelikheid aanvaar wanneer dit kom by die toestemming wat ons in elke tipe toepassing gee of met die dinge wat ons aanlyn doen,” verduidelik Rianette.
As verbruikers wel “Ja” sê vir die nuwe WhatsApp-bepalings en voorwaardes, gaan dit ʼn verskil maak as hulle byvoorbeeld hul Facebook-profiel gebruik om by ander toepassings soos Strava (sporttoepassings) of mediesefondstoepassings (soos Discovery sʼn) in te teken?
Rianette sê sy stel altyd voor dat ʼn mens nie ʼn sosialemediaplatform gebruik om by ander toepassings in te teken nie. “Dit is iets wat ek sou verander, want ʼn mens weet nooit wat met daardie platforms gebeur nie.”
Dit is nie gewaarborg dat platforms soos Facebook of Twitter gaan voortbestaan nie – iets soos Mxit se voortbestaan het dit bewys. Jy het ook nie beheer oor hoe sosiale platforms gaan verander en wat hulle volgende gaan doen nie.
Rianette beveel dus aan dat jy eerder jou eie e-posadres en wagwoord gebruik vir elke afsonderlike toepassing waarop jy inteken.
“Dit is nie ʼn risiko op sigself om by jou mediese fonds se toepassing of ʼn sporttoepassing in te teken nie. Die risiko ontstaan wanneer iemand jou Facebook- of Instagram-profiel binnedring en jy jou sosialemediarekening gebruik het om by die res in te teken.”
Is daar enige raad of wenke wat aan verbruikers gegee kan word wat nou bang is om geld te verloor deur restauranttoepassings of banktoepassings op hul foon te gebruik?
Algemene riglyne wat geld wanneer dit kom by die doen van inkopies aanlyn of om transaksies aanlyn te doen, is die volgende:
JOU VERANTWOORDELIKHEID AS VERBRUIKER
Ten slotte sê Rianette oor die hele WhatsApp-debakel die volgende:
“Ons fokus nou baie op die app en wat die toepassing met ons inligting doen en hoe hulle met ons kontak kan maak. Máár – onthou om meer aandag te gee aan wat jý deel en hoe jy jou eie kontakte se boodskappe hanteer en jou inligting blootstel.”
Skermskote kan mense byvoorbeeld in ʼn erge verleentheid plaas en groot skade aanrig.
“Dit is nie die platforms wat sleg is nie. Dit is nie die internet wat sleg is nie. Inteendeel, dit gee en skep wonderlike geleenthede vir ons. Ons as verbruikers moet onthou dat die manier waaróp ons die platforms gebruik ons verantwoordelikheid bly en dat ons verantwoordelike digitale burgers moet wees.
Die ander stelling wat ek wil maak, is dit: Data word meestal gebruik om vooruitgang te bewerkstellig en bedrywe te verbeter. So wil die gesondheidstoepassing ʼn beter diens bied, of die banktoepassing wil bankwese meer toeganklik maak. Om dit te kan geníét moet ons as verbruikers bereid wees om deel te wees van die oplossing deur ons aanlyn gewoontes binne ʼn veilige raamwerk bloot te stel, natuurlik sonder om jou persoonlik in gevaar te stel, maar op so ʼn manier dat ons deel is van die inligting wat help om vooruitgang te bewerkstellig.
Maar ons moet besef dat om dit te geniet wat tegnologie vir ons kan doen, ons ook ʼn rol moet speel en bereid moet wees om sekere inligting te deel.
Aan die ander kant moet ons ook seker maak dat wat ons aanlyn plaas ons nooit in ʼn slegte lig stel nie en dat ons onsself op so ʼn manier sal beskerm dat ons in persoon en aanlyn veilig kan wees. Hier praat ek ook van die tipe foto’s wat ons deel. Daar lê byvoorbeeld baie metadata agter elke foto wat jy deel. Dit kan identifiseer waar, op watter dag en tyd en met watter toestel die foto geneem is. Deur foto’s kan jy jou, asook die groepe wat jy volg, blootstel as jy nie versigtig is nie. Almal moet net weer besef – die platforms bied vir ons iets aan, maar alles wat jý as verbruiker aanlyn doen, kan jou ervaring beïnvloed.
Die keuse bly by jou. Maak seker dat jy ingelig is en maak jou eie besluit gebaseer op die bepalings en voorwaardes en of jy daarmee saamstem of nie. En natuurlik, wanneer kinders betrokke is vra jou af of dit ouderdomsgepas is of nie.
Jy as verbruiker moet sosiale media en die internet gebruik om ʼn positiewe verskil te maak en onthou: Reis veilig op die internet!
BRONNE:
Rianette Leibowitz, stigter van SaveTNet en Kuberveiligheidkenner. Kontak haar by hi@rianette.com en besoek www.rianette.com en www.savetnet.com
Jaco van der Walt, sekerheidsingenieur by Telic Consulting. Kontak hom per e-pos by jaco@telic.co.za
Bykomende bronne en agtergrondleeswerk
https://www.businessinsider.co.za/you-had-30-days-in-2016-to-opt-out-of-whatsapp-sharing-your-info-with-facebook-2021-
WhatsApp.com/legal
Basie van Solms, Wat nou Whatsapp?, Die Burger, 12 Januarie 2021
https://www.entrepreneur.com/article/362617
https://www.indiatoday.in/amp/technology/news/story/whatsapp-broke-a-privacy-promise-to-its-users-and-that-is-how-tech-companies-work-1758254-2021-01-12
https://www.businessinsider.co.za/whatsapp-forcing-users-to-share-personal-data-facebook-elon-musk-2021-1