Deur Reon Janse van Rensburg
Volgens ʼn opname wat in 2020 deur die sakebelangegroep, Sakeliga, gepubliseer is, is die inperkingsregulasies en gepaardgaande korrupsie besig om belastingbetalers tot op die uiterste te dryf en al hoe meer sakeaangeleenthede raak skepties oor die betaling van hul belasting.
Dié aanlyn opname wat onder Sakeliga-lede gedoen is, het ook ondersoek ingestel oor deelnemers se neiging en gevoel om teenbelastingveldtogte te ondersteun.
Die data het getoon dat 95% van respondente voel dat die inperkingsregulasies hulle bereidwilligheid om belasting te betaal verminder het. 90% van die respondente het aangedui dat hulle hul belasting sal weerhou solank as wat dit op ʼn wettige wyse gedoen word terwyl 60% van die deelnemers getoon het dat hulle hul belasting sal weerhou selfs al word dit op ʼn onwettige wyse aangewend.
Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, is ʼn ‘nuwe normaal’ van bereidwilligheid om belasting te betaal besig om in Suid-Afrika vlam te vat. Hy het aangevoer dat die nuwe norm vir die bereidwilligheid om belasting te betaal baie laer as voorheen is en dat die regering en ontleders daarvoor moet beplan in hul ramings van toekomstige fiskale tekorte. Hy het ook genoem dat besighede buitengewoon gemotiveerd raak om hul belastingbetalings te verlaag.
Dit is egter nie net die sakebedryf wat hul meegevoel teenoor die betaling van belasting uitspreek nie. Edward Kieswetter, die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vroeër gewaarsku dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers hul belastingbetalings kan weerhou weens jare se korrupsie.
Dit is ook nie verbasend dat Suid-Afrikaanse belastingbetalers keelvol is om maandeliks ʼn groot deel van hulle hardverdiende inkomste aan die regering oor te betaal en niks daarvoor terug te kry nie. Die antwoord wat die staat het, is slegs meer belasting vir dienste wat nie deur die huidige regering gelewer kan word nie.
ʼn Mens hoef ook nie ver te gaan soek om agter te kom dat Suid-Afrikaners moeg is vir wanbesteding en swak tot geen dienslewering nie. Inwoners en die private sektor in dorpe regoor Suid-Afrika staan deesdae self gereed om die lewering van basiese dienste oor te neem.
Moneyweb berig dat belastingopstande al hoe meer begin plaasvind teenoor tariewe wat munisipaliteite maandeliks vir dienste toeskryf wat deur hulle behoort gelewer te word, maar wat dikwels in baie dorpe in die land nie gelewer word nie.
Hierdie belastingopstande word veral deur belastingbetalersverenigings oorweeg wat saam met inwoners van dorpe wat oorgenoeg gehad het van gebrekkige munisipaliteite wat ten spyte van swak dienslewering inwoners dwing om belasting te betaal.
Koster & Swartruggens – Kgetlengrivier-munisipaliteit
Moneyweb het berig dat daar in 2018 ʼn splinternuwe rioolaanleg ter waarde van R144 miljoen, R84 miljoen meer as die aanvanklike koste, in Koster gebou is. Weens ʼn loongeskil het die werknemers wat verantwoordelik is vir die projek en om water aan die dorp te verskaf met ʼn stakery begin wat die gemeenskap vir dae sonder water gelaat het.
Volgens Carel van Heerden, die voorsitter van die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging, het vandalisme en diefstal van noodsaaklike toerusting by die aanleg drasties toegeneem en was die personeel wat by die aanleg werksaam is onbevoeg om hul pligte uit te voer. Van Heerden sê dat werknemers wat by die aanleg werksaam is met die loop van tyd al hoe minder en minder geword het totdat daar niemand oor was om die werk te doen nie. Dit het veroorsaak dat die gemeenskap se krane opgedroog het.
Dit het inwoners genoodsaak om ʼn dringende hofbevel te kry sodat die aanleg water aan die dorp kan verskaf. Die hofbevel is aan die inwoners toegeken en het die inwoners in staat gestel om vir ʼn paar weke hierdie dienste by die munisipaliteit oor te neem.
Dit was egter nie die laaste keer wat die inwoners van die dorpe beheer oor die aanleg sou verkry nie. In 2020 het werkers weer gestaak omdat hulle beweer het dat die munisipaliteit hulle agterstallige geld skuld. Daar is weer ʼn bevel teen die munisipaliteit aan die inwoners toegeken en die inwoners het weereens vir weke lank self die aanleg bestuur.
In Swartruggens het ʼn nuwe pomp en motor daartoe gelei dat die reservoirs vir die eerste keer in vyf jaar weer vol is.
In nog ʼn saak het inwoners daarin geslaag om Eskom te verbied om elektrisiteitstoevoer na die dorp te staak omdat die munisipaliteit met meer as R200 miljoen in fooie agterstallig was. Suid-Afrikaanse munisipaliteite skuld Eskom meer as R30 miljard.
Inwoners het ook daarin geslaag om nog ʼn saak teen die munisipaliteit te wen waar die munisipaliteit op ʼn onwettige wyse tariewe en belasting betaal het.
Die inwoners van Koster en Swartruggens het egter nie die saak daar gelaat nie en het verdere stappe teen die Kgetlengrivier-munisipaliteit geneem. In Desember verlede jaar het die Noordwes-hooggeregshof ʼn uitspraak gelewer wat nie slegs verstommend is nie, maar wat ook die baan kan weg vir ander dorpe wat in soortgelyke posisies is.
Regter Gura het die munisipale bestuurder van die Kgetlengrivier-munisipaliteit met 90 dae gevangenisstraf opgelê, en dit opgeskort met die voorwaarde dat rou rioolwater wat in die Elands- en Kosterrivier gestort word, opgeruim word en dat beide dorpe binne 10 weke na die beslissing skoon lopende water moet hê.
Verder het regter Gura ook beveel dat die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging toegelaat word om beheer van die rioolwerkaanleg te neem en dat die plaaslike- en provinsiale regerings vir die kostes daarvan moet betaal.
Die beslissing deur regter Gura maak voorsiening dat munisipaliteite wat in die toekoms of selfs in die hede soortgelyke oortredings begaan, hulself bekend sal maak met die stywe en regverdige arm van die gereg waaraan almal gelyk is en behoort te wees. Dit maak dit ook duidelik dat wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid nie deur inwoners geduld sal word nie en dat dit wel moontlik is om die ANC-regering en sy trawante op hul plek te sit.
Volgens van Heerden het die gemeenskap nou genoeg skoon water en het hulle selfs ʼn surplus wat hulle nie weet wat om daarmee te maak nie.
Hy voer aan dat inwoners R7,5 miljoen uit hulle eie sakke moes betaal om pompe te herstel, kragopwekkers te huur wat verseker dat die pompe steeds water tydens beurtkrag of kragonderbrekings pomp – alles om te verseker dat die aanleg binne enkele weke ten volle operasioneel was. Die plaaslike regering sal egter die bedrag aan die inwoners moet terugbetaal en ook opdok vir hul regskostes.
Dit is ook nie die enigste belangegroep wat namens inwoners van ʼn spesifieke dorp of gemeenskap teen munisipaliteite wat wanbestuur word, optree nie.
Die Umdoni Aksiegroep (UAG) wat in Scottburgh, KwaZulu-Natal gevestig is, is in 2015 gestig om na die belange van belastingbetalers en die inwoners van die gemeenskap om te sien. Hulle mikpunt is om die plaaslike munisipaliteit verantwoordelik te hou vir probleme wat die gemeenskap op ʼn daaglikse basis beleef soos die regmaak van slaggate en ander infrastruktuur wat verbrokkel, wat eintlik deur die munisipaliteit in stand gehou moet word.
In Mei 2020 het die UAG ʼn tariefafleidingbeleid geloods nadat hulle reeds vir jare daarmee gepoog het om met die plaaslike munisipaliteit in gesprek te tree. Die klagtes bly egter onopgelos. Dit verg ʼn proses om klagtes by die munisipaliteit in te dien; een wat die meeste belastingbetalers egter nie voor kans sien nie. ʼn ‘Verklaring van dispuut’-vorm moet ingevul word wat dan aan die munisipaliteit gestuur word. Die UAG bestuur egter die proses namens die gemeenskap en alle vorms wat deur belastingbetalers in die gemeenskap ingevul word, word deur die UAG aan die plaaslike munisipaliteit gestuur.
Volgens die UAG gaan hulle ʼn ultimatum aan die Umdoni-munisipaliteit stuur indien daar nie in ʼn redelike tydperk aan hulle klagtes aandag gegee word nie. Hulle voer aan dat hulle die reg behou om alle herstelwerk wat in die gemeenskap moet plaasvind self op die onkostes van die munisipaliteit aan te gaan.
Indien drukgroepe soos dié en ander inwoners van dorpe regoor Suid-Afrika volgehoue druk op elke plaaslike munisipaliteit kan plaas, kan hulle moontlik ook daarin slaag om nes in Grahamstad hulle plaaslike munisipaliteit te ontbind. Dié geskiedkundige gebeurtenis het in Januarie 2020 plaasgevind nadat die Beweging van Werklose mense uit frustrasie en weens die gebrek aan dienslewering die plaaslike munisipaliteit verantwoordelik gehou het deur die munisipaliteit hof toe te sleep waar die Makhanda-hooggeregshof die beslissing gemaak het, en toe ʼn administrateur aangestel het om sy sake te bestuur.
Bronne:
South Africans would support a tax revolt: report –https://businesstech.co.za/news/finance/424108/south-africans-would-support-a-tax-revolt-report/
What you need to know about a tax revolt in South Africa –
Koster inwoners wys waterbesoedeling kan opgelos word –
The revolt of the ratepayers –
https://www.moneyweb.co.za/news/south-africa/the-revolt-of-the-ratepayers/