BEL ONS: 012 644 4300

Solidariteit wil elke lid en ondersteuner graag bedank vir elke bydrae wat gemaak is en ook vir die vertroue wat elke lid gedurende 2020 in Solidariteit geplaas het.

Danksy jou bydrae en ondersteuning in 2020 het Solidariteit die volgende in die jaar vermag:


2020
12 Februarie 2020
Solidariteit sê die stryd aan teen pensioenkaping

Solidariteit begin met regstappe om te verhoed dat die regering pensioenfondse gebruik om ander sukkelende staatsondernemings te finansier. “Ongeag wie jy is, waar jy werk en aan watter organisasie jy behoort, ons sal namens jou veg om jou pensioen te beskerm.” – Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Deel hier:
4 Maart 2020
Solidariteit stel plan bekend vir die beveiliging van gesondheidspraktisyns

Solidariteit se Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns stel ʼn vyfpuntplan bekend om doelgerigte stappe te doen teen geweld wat op gesondheidspraktisyns gemik is. Die plan het ten doel om ten alle tye die veiligheid van mediese personeel te verseker. “Gesondheidspraktisyns is ʼn nasionale bate. Hulle moet gekoester word.” – Henru Krüger, sektorhoof by die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns.

Deel hier:
9 Maart 2020
Solidariteit wen saak oor vals klagte van rassisme

ʼn Reuse-oorwinning word behaal vir ʼn Solidariteit-lid wat by die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling werksaam is, nadat sy in 2019 onregmatig sonder betaling geskors is weens vals klagte van rassisme wat teen haar ingebring is. “Ons sal aanhou veg vir ons lede wat slagoffers word van hierdie toenemende tendens van vals bewerings van rassisme.” – Mariesa Janse van Rensburg, Solidariteit-litigant.

Deel hier:
17 Maart 2020
Solidariteit rig Covid-19-Krisissentrum op

Die Covid-19-Krisissentrum is tot stand gebring om die gemeenskap midde-in die koronaviruskrisis te ondersteun deur middel van inligting en hulpmiddels. Tot op hede het 17 694 persone op die Krisissentrum geregistreer. Ons aanlyn regskenner het sedert 17 Maart 12 552 navrae vanuit die gemeenskap ontvang en suksesvol hanteer. Twaalf verslae is uitgereik waarin ons die gemeenskap op hoogte gehou het van internasionale tendense, en 4 615 persone het die simptometoets gedoen.

Deel hier:
24 Maart 2020
Solidariteit pak regering oor toekenning van noodfondse

Solidariteit het sy saak teen die regering se planne om krisisbefondsing aan klein, medium en mikro-ondernemings onderhewig aan swart ekonomiese bemagtiging te maak tot in die Noord-Gautengse hooggeregshof geveg. Solidariteit en AfriForum het geappelleer na die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein, na die Konstitusionele Hof se beslissing. Die saak word in 2021 aangehoor. “Dit is in die beste belang van alle Suid-Afrikaners dat kwalifisering vir hierdie fondse nie op grond van ras bepaal moet word nie.” – Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit.

Deel hier:
4 April 2020
Krisisfonds bring verligting

Die Solidariteit Beweging roep ’n krisisfonds in die lewe om die maatskaplike nood te verlig wat as gevolg van die Covid-19-krisis ontstaan het, asook om ons gemeenskap se kinders deur Wolkskool te help leer. Sedert 4 April kon die Solidariteit Beweging daarin slaag om 22 508 gesinne te help en 2 064 instansies by te staan. R1,9 miljoen is aan Wolkskool toegeken en R18,6 miljoen is aan maatskaplike hulp bestee.

Deel hier:
20 April 2020
Solidariteit maak Covid-19- ekonomiese herstelplan bekend

Solidariteit stuur sy Covid-19- ekonomiese herstelplan aan die president en aan ministers Ebrahim Patel en Tito Mboweni. Dié plan bied ʼn omvattende ontleding van vorige ekonomiese krisisse en hoe Suid-Afrika se reaksie in die verlede tot stagnasie en swak groei gelei het. Die plan bevat ook voorstelle vir hoe om op hierdie kritieke tydstip nou die regte besluite te neem.

Deel hier:
27 April 2020
Solidariteit loods veldtog vir veilige werk

Weens Covid-19 en die lomp inperkings loop die ekonomie gevaar om onherstelbare skade te ly. Solidariteit voer aan dat die ekonomie vinniger maar steeds gesond terugfaseer moet word. Solidariteit bied ’n webinaar aan vir vakbonde, werkgewers en regeringsamptenare met maatreëls oor hoe om SA weer aan die werk te kry – hoe om gesond te werk en kliënte gesond te hou.

Deel hier:
4 Mei 2020
Solidariteit lê klag teen minister van kleinsakeontwikkeling by polisiestasie

Solidariteit lê ʼn strafregtelike klag teen die minister van kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, nadat die minister onder eed in hofstukke aan Solidariteit onderneem het dat ras nie ’n rol speel as maatstaf vir hulp aan kleinsakeondernemings nie. Die klag sluit onder andere meineed in.

Deel hier:
21 Mei 2020
Solidariteit-lede daag op vir werk uit protes teen regulasies wat werk keer

Solidariteit-lede staan op en sê “Ons maak nie ’n keuse tussen gesondheid en werk nie; ons kies vir gesonde werk.” Solidariteit het ’n omvattende Goeie Praktykskode ontwikkel om werkgewers in staat te stel om te kan werk. Al wat tussen gesonde werk en werkers staan, is die regering se regulasies.

Deel hier:
28 Mei 2020
Bekendstelling van goeie praktykskode vir terugkeer na skole

Die kode het ten doel om te help dat leerlinge weer voluit kan leer, maar ook om risiko’s rakende Covid-19 doeltreffend te bestuur. Die praktykskode is deur beroepsgesondheidskenners opgestel en bevat beste praktyke ingevolge die tersaaklike wetgewing en regulasies. “Die gesondheid van onderwysers, leerlinge en ander personeel is vir Solidariteit belangrik, maar toegang tot gehalte-onderrig en kontaktyd tussen leerling en onderwyser is net so belangrik,” sê Hennie Bierman, hoof van Solidariteit se beroepsgildes.

Deel hier:
8 Junie 2020
Solidariteit gaan hof toe oor heropening van kleuterskole

Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde en die Skoleondersteuningsentrum het hulle tot die Pretoriase hooggeregshof gewend deur ’n dringende hofaansoek te loods om die minister van maatskaplike ontwikkeling en die minister van samewerkende regering te dwing om uitsluitsel te gee oor die opening van private kleuterskole en dagsorgsentrums.

Deel hier:
6 Julie 2020
Kleuters mag skool toe, sê hof

Regter Fabricius beslis in die guns van Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum. Private kleuterskole en dagsorgsentrums is daarop geregtig om onmiddellik te heropen indien hulle dit veilig kan doen.

Deel hier:
16 Julie 2020
Solidariteit stuit afleggings by LNR

Die Landbounavorsingsraad (LNR) onttrek die artikel 189A-proses wat 1 000 poste sou raak. Solidariteit het ʼn taakspan saamgestel om alternatiewe te ondersoek om sodoende moontlike afleggings in die toekoms te vermy.

Deel hier:
4 Augustus 2020
Uitspraak in die guns van Solidariteit: Denel moet betaal

Die arbeidshof beslis dat Denel al sy uitstaande kontraktuele en statutêre verpligtinge wat hy teenoor Solidariteit-lede het, teen nie later nie as 7 Augustus moet nakom. Dit sluit die betaling van alle uitstaande salarisse vir Mei, Junie en Julie in.

Deel hier:
14 September 2020
Solidariteit pak Barloworld in hof

Solidariteit bring ’n dringende aansoek in die arbeidshof om onregverdige afleggings deur Barloworld Equipment Suid-Afrika te stuit. Ras het ’n pertinente rol in die seleksiekriteria van Barloworld se afleggingsproses gespeel. Dit is selfs bo die aantal jare diens van ’n werknemer gestel. Die saak is voorbehou.

Deel hier:
8 Oktober 2020
Bekendstelling van die Werkherstelprogram

Die grootste opstaanprogram in sy 118-jarige bestaan word bekend gestel. Die Werkherstelprogram is saamgestel in reaksie op die staat se verswakking en die druk op die ekonomie en werk weens die Covid-19-inperkingsregulasies, en dit is ’n unieke oplossing om ’n volhoubare toekoms te skep. Dit is op drie pilare toegespits, naamlik werk, welstand en opleiding. “Jy is waardig en verdien ’n volhoubare toekoms; neem eienaarskap van jou eie toekoms.”

Deel hier:
23 Oktober 2020
SAPD-lede wat lieg oor k-woord word gevonnis

Die twee SAPD-lede wat reeds in Junie skuldig bevind is nadat hulle hul bevelvoerder, luitenant-kolonel Annemarie Oosthuizen, valslik daarvan beskuldig het dat sy die k-woord gebruik het, is elk 24 maande se gevangenisstraf vir meineed opgelê, wat voorwaardelik in die geheel opgeskort is. “Daar is geen plek in die SAPD vir rassisme of mense wat die raskaart speel om hulself te verontskuldig en ander mense in die proses valslik te beskuldig nie.” – Renate Barnard, sektorkoördineerder van die openbare sektor by Solidariteit.

Deel hier:


Registreer / Register

Maak toe / Close