Solidariteit se lede sal môre om 12:00 ʼn protesoptog by Denel se korporatiewe kantoor in Nellmapiusrylaan, Irene, hou. Werknemers sal byeenkom om hul ontevredenheid oor hul uitstaande salarisse te betuig.
“Dit is reeds ses maande wat Denel salarisse nie behoorlik betaal of sy statutêre verpligtinge nakom nie,” sê Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van verdediging en lugvaart by Solidariteit. “Lojale werknemers verkeer nou onder geweldige finansiële druk, terwyl hoofkantoorwerknemers steeds hul volle salarisse ontvang. Intussen verloor onskuldige werknemers hul huise en motors, terwyl die diegene wat hoofsaaklik vir die gemors verantwoordelik is, hoegenaamd nie geraak word nie.”
Die arbeidshof het Denel reeds op 4 Augustus gelas om sy uitstaande finansiële verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom nadat Solidariteit die hof daaromtrent genader het. Denel versuim reeds vanaf Mei om salarisse ten volle te betaal en om sy statutêre verpligtinge na te kom. ʼn Verdere bevel op ʼn klag van minagting van die hof, met keerdatum 3 Desember, is op 28 Augustus teen Denel toegestaan nadat hy ook in hierdie verband versuim het om ingevolge die uitspraak van 4 Augustus op te tree.
“Ons is ontevrede met die wyse waarop die staat die situasie hanteer. Die staat is grootliks aanspreeklik vir die jare van wanbestuur wat hierdie penarie veroorsaak het. Tog wil hy nie verantwoordelikheid neem vir sy dade of verantwoordelikheid aanvaar teenoor die onskuldige werknemers wat nou die slagoffers daarvan is nie. Ons lede werk hard en verdien dit wat hulle toekom,” voer Cronjé aan.
Solidariteit maak gereed om beslag te lê op Denel se bates en sal op 3 Desember weer teen die wapenvervaardiger in die hof wees om sy saak van minagting van die hof aan te voer.
“Dit is Denel se verantwoordelikheid om die bevel van die hof na te kom, maar hy het niks betaal nie en die hofbevel is dus verontagsaam. Ons het daarom geen ander keuse as om op te tree nie en sal nie skroom om op bates beslag te lê nie.
“Ons hofprosesse gaan daarom voort. Waar die staat ʼn hand in ʼn kwessie het, kom politiek altyd eerste ten koste van die werknemers. Ons sal dit nie duld nie en Denel se werknemers sal dit ook nie duld nie. Daarom sal ons môre, voor Donderdag se hofverrigtinge, saam met ons lede ons ontevredenheid deur die protesoptrede by Denel betuig,” sluit Cronjé af.