Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vandag tydens ʼn mediakonferensie ʼn verslag oor die geestelike en finansiële toestand van Denel-werknemers bekendgemaak. Dit volg nadat Solidariteit al vir twee jaar in ʼn regstryd met Denel gewikkel is om die R90 miljoen se salarisse, wat aan sy lede verskuldig is, te delg.
Solidariteit meen dat hierdie verslag ʼn duidelike lyn trek tussen die noodlottige wanbestuur van Denel en die tasbare impak wat dit op gewone mense gehad het. Denel-werknemers moes onderskeidelik vir meer as twee jaar met gedeeltelike of geen salarisuitbetalings aan die lewe probeer bly.
“Denel se situasie is nie net katastrofies vanuit ʼn finansiële oogpunt uit nie, maar die entiteit het as geheel deur ʼn proses van vernietiging gegaan. Die gevolge daarvan word duidelik in die verslag ten toon gestel. Die finansiële impak op werknemers is dalk berekenbaar, maar die emosionele en geestelike impak op werknemers sal nooit bereken kan word nie,” sê Nicolien Welthagen, Navorsingsielkundige by die SNI. “Werke verskaf sin, sekuriteit en ʼn geleentheid om jouself as mens uit te leef. Denel-werknemers is nie net van hierdie dinge ontneem nie, maar ook van vergoeding vir die werk wat hulle doen.”
Solidariteit is verder van mening dat die opveiling van Denel-bates ʼn hartseer dag vir die organisasie en sy werknemers was. Denel se reputasie is nasionaal en internasionaal moontlik vir altyd geskaad.
“Om te verwag dat mense sonder vergoeding werk is onaanvaarbaar, maar die toewyding van Denel se werknemers is nie net deur hierdie situasie op die proef gestel nie, dit staan ook uit in die lig van hierdie wanbestuur,” meen Welthagen verder. “Die verslag is hartverskeurend omdat dit regte mense se lewens is wat daarin beskryf word. Dit is regte mense op die grond; nie miljoenêrs nie. Hierdie mense kan nie eers aan aftrede dink nie, wat nog te sê spogmotors en vakansies.”
Solidariteit hoop dat hierdie verslag dit vir Suid-Afrikaners duidelik sal maak hoe wanbestuur by ʼn staatsentiteit lyk.
“So hartverskeurend soos wat dit is dat Denel in die geheel in ʼn wanhopige situasie verkeer, is dit erger as ʼn mens dink aan die mense wat hul huise en motors verloor het, terwyl die verslag dit duidelik maak dat sommige al aan selfdood as die uitkoms vir hul situasie gedink het,” sluit Welthagen af.
Om die volledige verslag te besigtig, klik hier