Deur Rene Roux (Adjunk- uitvoerende hoof: Kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand)
Twee honderd en twintig jaar ná die geboorte van Susanna Catharina (née Maritz) Smit, lewer Suid-Afrika nog steeds dieselfde kaliber vroue op – vroue wat sterk saamstaan en sê: Ons trek eerder kaalvoet oor die Drakensberg as om onder ons omstandighede te swig.
Solidariteit Helpende Hand het in Augustus geskiedenis gemaak toe ons die FroueVonds (want alles loop nie altyd reg nie) by ʼn eksklusiewe en spesiale funksie van stapel gestuur het. Die Susanna Smit Studiefonds is ook by die geleentheid bekendgestel en net daar het nuwe lig opgekom in wat andersins onmoontlike omstandighede was. Die Susanna Smit Studiefonds se fokus gaan val op die opleiding van vroue vir wie alles nie altyd reg geloop het nie; vir die vrou vir wie studies onmoontlik was of is, tensy sy hulp kan kry. Ons wil help. Ons wil hierdie fonds kragtig uitbrei sodat die vroue wat gehelp word nie deur hul omstandighede teruggehou word nie. Ons wil hulp uit hierdie fonds beskikbaar stel om opleiding vir sulke dames moontlik te maak. Die fonds word vernoem na Susanna Smit, ook bekend as ons geliefde Susanna, sy wat gesê het dat sy eerder kaalvoet oor die Drakensberg sal trek. Ons onthou hierdie Voortrekkermoeder ook graag vir die krag en roepingsbewustheid wat sy aan die dag gelê het en vir die voorbeeld wat sy gestel het. Die Susanna Smit Studiefonds van Helpende Hand glo ook in die vermoëns van die moderne vrou. Haar vrouwees en menswees mag nie weens haar omstandighede verhinder word nie, en daarom vra ons almal om tot hierdie fonds by te dra. Al moet ons kaalvoet loop, opgee gaan ons nie.
Ds. Greta Muller, ʼn leraar by die Moreletapark Gemeente, het die opening van die bekendstellingsgeleentheid behartig. Die sangeres Monique Steyn en Elma McKenzie, die stigter van Placecol, is by die geleentheid as die fonds se ambassadeurs aangewys. Dewald Wasserfall het ook by die geleentheid opgetree en die fonds se temalied, “So sterk soos ʼn vrou” gesing. Soos altyd het hierdie man se talent, maar ook sy mooi woorde aan elke vrou in Suid-Afrika, almal bewoë gelaat. Susan Coetzer en Lynette Beer het as motiveringsprekers opgetree en het die vroue in die gehoor opnuut laat besef hoe besonders en waardevol hulle regtig is. Helpende Hand se onderskeie streekkantore het ook ʼn tjek aan die FroueVonds oorhandig wat die fonds met ʼn kontantbedrag van R60 000 laat wegspring.
Dit was ook net gepas dat ons op hierdie aand sterk vroue wat steunpilare in hul gemeenskappe is, vereer. Tydens ʼn toekenningseremonie is sewe eretoekennings aan talentvolle, sterk en opregte vroue toegeken. Dr. Rina Venter, die eerste en laaste Afrikanervrou wat van 1989 tot 1994 in die Suid-Afrikaanse kabinet van oudpres. F.W. de Klerk gedien het as minister van gesondheid en welsynsdienste, is vereer vir die betekenisvolle anker wat sy vir soveel was en steeds is en vir haar lewenslange bydrae tot gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika en in die besonder vir haar opheffing van vroue deur in hul lewenskrag te glo.
Alana Bailey, die adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum en uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers, is vereer as vrou wat as waghond optree vir die Afrikaanse taal, kultuur en erfenis. Ons het Vanessa Schoeman, die redakteur van Finesse en direkteur van Carpe Diem Media, vereer as ʼn vrou wat vir talle vroue ʼn spreekbuis bied. Esna Colyn van Imbalie Beauty en van die Placecol-handelsmerk is vereer as ‘n vrou wat ‘n inspirasie vir die FroueVonds was en is en vir die rol wat sy speel om die mooi en sag van vrouwees te bevestig en te beklemtoon. Sonette Liebenberg, ʼn jong vrou en enkelmamma wat met God se genade nie toegelaat het dat haar uiters moeilike omstandighede haar onderkry nie, is vereer as ‘n vrou wat vashou aan haar roeping en dit In Krag, dag vir dag al hoe meer begin uitleef. Laastens is nog twee toekennings gemaak – aan tannie Sannie van Zyl (94) en aan Skyler Kleynhans (4) as simbool van die pad wat elke vrou moet loop en waarvoor hulle verering verdien. Ons het Tannie Van Zyl vereer as dogter, ma, ouma, suster, bruid van God en VROU en saam met haar al die vroue wat daardie lewenspad, van klein dogtertjie wees tot in die wysheid van jare, loop. Waar Tannie Van Zyl die wysheid van jare beleef, durf Skyler nou daardie pad aan. So het ons die Tannie Van Zyls vereer vir die dae wat hulle bly staan het toe hulle gevoel het hulle gaan val; vir hoe hulle alles gee selfs toe hulle niks meer gehad het om te gee nie; vir hoe hulle hard werk vir wat hulle wil bereik en vir hoe hulle veg vir wat hulle wil hê. Ons bring hulde aan hierdie sterk vroue en prys hulle vir hul vrouwees wat lewens aanraak oral waar hulle hul hande neerlê. Ons eer hulle daarvoor dat hulle langs ons staan, in God vir ʼn beter toekoms.
Die fonds het ook goeie wense ontvang van dr. Rina Venter en Mariet van Niekerk.
Dr. Rina Venter het gesê: “Hoe vroue binne Helpende Hand hierdie taak insluit en balanseer met die uitdaging om doeltreffende hulpbronne in gemeenskappe te vestig, is belangrik. Ek weet hulle sien sake reg en wil hulle graag aanmoedig om onafhanklik standpunt in te neem oor hoe vroue veg, nie net vir vrouebelange nie, maar vir die hele gesin as ankers in die samelewing. My beste wense vergesel hulle. Ek sal help bou aan die FroueVonds.”
Mariet van Niekerk, redakteur en eienaar van die Bruidsgids se wens aan die FroueVonds is die volgende: “Ons sien uit om saam met julle ʼn pad te stap. My wens vir julle is dat hierdie inisiatief van krag tot krag sal gaan en julle wildste drome sal oortref. Dit was ʼn aand om op trots te wees, baie goed georganiseerd en ons almal het dit werklik baie geniet.”
Helpende Hand glo dat Susanna Smit se woorde van destyds vandag nog geld:
Ek was 13 jaar oud toe my ouers my afgegee het aan ʼn oue heer. Ons het rondgeswerf van plek tot plek en nooit regtig op ons voete gekom nie. Die lewe was ʼn stryd, ʼn uitdaging maar ek moes voortgaan en deurdruk. Toe almal wou opgee, was dit nie vir my ʼn opsie nie, eerder kaalvoet terug oor die berge. Daarom moes ons trek, maar in plaas van in sak en as sit, het ek die kleintjies leer naaldwerk doen, brei en letter-onderwys gegee ek het nie opgegee nie.
Susanna Smit sou sekerlik vandag kon sê dat sy verstom is oor hoeveel moderne vroue in haar voetspore volg, vroue wat weier om op te gee ondanks moeilike omstandighede en finansiële tekorte. Sy sou sekerlik trots daarop gewees het dat Helpende Hand 220 jaar ná haar geboorte die Susanna Smit Studiefonds gestig het om dit moontlik te maak vir jong vroue vir wie alles nie altyd reg loop nie om te studeer.
Trek saam met my jou skoene uit. Kom ons loop kaalvoet en verander Suid-Afrika.
Ons het jou vrouekrag nodig om ons fondse te versterk:
Jy kan vandag help om ʼn jong dame se drome waar te maak deur haar ʼn kans te gee om te gaan studeer en die kettings van armoede te breek. Maak ʼn skenking aan:
Die Helpende Hand Studietrust
Bank: FNB
Rekeningnommer 62 331 447 541
Tak: Centurion 250 655
Verwysing: Susanna Smit SF
FroueVonds:
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62 331 445 503
Tak: Centurion (takkode: 250 655)
Verwysing: FroueVonds
Sy’s jou lig, soos die son in die
somer
Wild soos die wind en so sag soos
die skemer
Jou wêreld op haar skouers en
haar hart op haar mou
En deur dit alles gee sy alles vir jou
Daar’s niks so sterk soos ʼn vrou
– Dewald Wasserfall