Deur Reon Janse van Rensburg
In 2020 het die wêreld soos ons dit geken het ʼn skielike en dramatiese ontwrigting beleef. Dit is nie net die werkplek wat oornag moes aanpas nie. Indien jy enigiemand met kinders ken, sal jy weet dat skole ook oornag moes aanpas om by die nuwe normaal aan te pas. By sommige skole was dit wel moontlik om danksy ʼn goeie tegnologiese infrastruktuur alledaagse take voort te sit en die inname van kennis deur ywerige jong breine kon voortgaan.
Vir die meerderheid skole in Suid-Afrika was dit egter nie so eenvoudig nie en al sou elke onderwyser graag hulle werk wou voortsit, was dit ʼn onmoontlike taak met vele onoorkombare uitdagings wat oplossings sal verg wat nie op grond- of skoolvlak opgelos kan word nie.
In Junie 2020, na ʼn tweemaande-inperking, het skole in Suid-Afrika op ʼn gefaseerde wyse heropen. Daar is egter besluit om die heropening met ʼn verdere vier weke uit te stel omdat die eerste vlaag van die pandemie teen Julie 2020 sy hoogtepunt sou bereik. Nes die nasionale inperking ʼn uitwerking op elke besigheid in Suid-Afrika gehad het met die verwoestende gevolge wat voortduur, het die sluiting van skole ʼn nadelige uitwerking op elke leerder. Dit benadeel elke kind en veral die kind wat nie in die tydperk toegang het tot onderrig nie en benadeel ook die toekomsvooruitsigte van leerders wat in die toekoms na hoër grade vorder en ook belangrike besluite moet neem oor hul toekoms ten opsigte van universiteite en loopbaankeuses.
Volgens ʼn UNESCO-moniteringsverslag het altesaam 192 lande as deel van hul inperkingsregulasies hul skole gesluit en daar word beraam dat ongeveer 2 miljard kinders en jongmense reeds teen April 2020 deur die sluiting van skole en hoëronderwysinstellings geraak is.
Daar is al vir ʼn geruime tyd probleme in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het in 2018 bevind dat staatsbeheerde skole die ontwikkeling van veral swart leerders kniehalter. Volgens ʼn verslag wat deur die SAIRV saamgestel is, bestaan probleme in Suid-Afrikaanse skole nie as gevolg van ʼn tekort aan geld nie; daar is lande wat veel minder as Suid-Afrika aan onderwys spandeer en steeds beter resultate verkry.
Volgens die SAIRV is die probleme wat Suid-Afrikaanse skole ondervind te danke aan korrupsie, sommige onderwysvakbonde, ideologiese dogma en onbekwame politici. Die SAIRV se navorsing toon dat skole wat deur gemeenskappe beheer word of dié wat in privaat besit is beter resultate as staatskole lewer.
Die Covid-19-pandemie het egter nie net ernstige foute en probleme uitgewys nie, maar dit het die dringendheid om oplossings te vind, aangevuur. Hierdie foute, wat veroorsaak het dat talle leerders die geleentheid gemis het om waardevolle kennis te verkry, het ingrypende gevolge vir die onderwys en vir gesinne.
Die ekonomiese en sosiale impak wat die verlies van onderrig op ʼn reeds brose onderwysstelsel het, sal selfs ʼn groter uitwerking hê op skole wat meestal uit minderbevoorregte leerders bestaan.
Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) is die gevolge van skole wat toe is veral ernstig omdat dit alle aspekte van skoolgaande kinders se lewens raak. Onderwysers word ook daardeur benadeel. Van die gevolge sluit die volgende in:
In 2020 het Mathanzima Mweli, die direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, genoem dat indien skole na die langste en strengste inperkingstyd wat in 2020 beleef is, nie sou heropen nie, dit die regering R22 miljard sou kos omdat die regering nuwe skole sou moes bou om plek te maak vir die getal nuwe leerlinge wat in 2021 vir die eerste keer die skoolstelsel betree en omdat daar bloot te veel leerlinge sou wees wat die jaar sou moes herhaal omdat hulle nie die 2020 skooljaar kon voltooi nie.
Ander probleme wat skole tydens die eerste vlaag en oor die algemeen in 2020 as gevolg van die pandemie ondervind het, sluit in die wanbetaling van skoolfondse wat daartoe gelei het dat talle onderwysers wat deur die skool se beheerliggaam aangestel is nie hul salarisse ontvang het nie. Hoewel baie ouers nie daarvoor blameer kan word nie omdat hulle self geen salarisse of vergoeding ontvang het nie, het die situasie die tekort aan onderwysposte wat deur die staat geskep moet word, ontbloot.
Skole en ouers kan nie alleen pa staan vir die aanstelling van onderwysers nie. Indien skole en ouers verantwoordelik moet wees vir die aanstelling en betaling van onderwysers sal dit veel beter wees om die privaat sektor te nader, wat reeds goeie vordering in die stigting en bestuur van skole toon.
Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het ook bevind dat slegs een uit elke vyf leerders skoolgaan by skole wat nie skoolfonds vereis nie en dat slegs die helfte van die leerlinge tuis toegang tot die internet het. By skole waar daar wel skoolfonds betaal moet word, het die helfte toegang tot ʼn rekenaar en driekwart toegang tot die internet. By hierdie tipes skole waar die ouers meestal ʼn hoër inkomste verdien, het soveel as 80% leerders toegang tot hul eie selfone.
Die toegang tot rekenaars, die internet en ander moderne tegnologie het verseker dat die onderwys die weg kon baan vir die toekoms en dat die tradisionele manier van skoolgaan moontlik iets van die verlede kan wees, maar dit kan slegs benut word indien elke skool, onderwyser en leerder toegang tot die tegnologie sou hê.
Dit is nie net noodsaaklik vir die leerproses om onmiddellik te kan plaasvind nie, maar omdat ons leef in ʼn tydperk waar ons vandag al die vierde industriële revolusie beleef, is dit ʼn bekommernis omdat die meerderheid van ons leerders nie reeds blootstelling aan tegnologieë uit die digitale, fisiese en biologiese wêreld geniet nie. Hierdie blootstelling aan kunsmatige intelligensie, robotika, gevorderde materiale, 3D-drukwerk asook ander tegnologieë sal sorg vir toekomstige loopbane en beroepe wat vandag nog nie eers bestaan nie.
Die regering is egter traag in die proses om die gebruik van die nuutste tegnologie in skole te implementeer. In Februarie 2019 het president Ramaphosa aangekondig dat die regering ʼn tablet aan elke leerder in Suid-Afrika sal oorhandig en dat alle handboeke en werkboeke op die tablet beskikbaar sou wees.
In Maart 2019 het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, genoem dat haar departement op dreef is om aan elke onderwyser en leerling ʼn tablet te gee. Volgens haar sou die proses in 2020 begin met die armste skole wat eerste tablette sou ontvang. Dit is verstaanbaar dat die Covid-19-pandemie die proses kon vertraag, maar onnodige verskonings kan egter nie geduld word nie.
Skole is veiliger vir kinders in die tyd van Covid-19 as ander openbare ruimtes – veral die skole wat nie aanlyn platforms het nie.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun die veilige heropening van skole. Volgens die SOS is dit tot voordeel van alle leerders.
“Resultate van internasionale vergelykende studies wat onlangs bekend gemaak is, het groot agterstande in die algemene standaard van Wiskunde- en Wetenskaponderrig in Suid-Afrika uitgewys. Hierdie agterstande het reeds voor die pandemie by baie skole bestaan. Verdere verlies aan onderrigtyd kan leerders net benadeel – veral in skole wat steeds nie opsies vir aanlyn leer in plek het nie.” – Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
Die SOS voer aan dat dit belangrik is om leerders so gou as moontlik toe te laat om terug te keer te keer skool toe om verdere akademiese agterstande te voorkom.
Solidariteit het die aankondiging deur die departement van basiese onderwys dat skole op 15 Februarie sal open ten sterkste veroordeel. Die aankondiging volg nadat dié departement verlede week met die nasionale bevelsraad vergader het waar daar besluit is om die opening van skole met meer as twee weke uit te stel. Volgens Solidariteit tree die bevelsraad nie in die beste belang van leerders op nie en behoort die bevelsraad liefs te fokus op hoe om in die maatreëls te implementeer in stede daarvan om te kla dat skole nog nie voorbereid is nie. Solidariteit voer aan dat dit nou tyd is om proaktief te begin optree.
Bronne
Geslote skole sal R22 mjd. kos, waarsku departement – https://www.netwerk24.com/Nuus/Hof/geslote-skole-sal-r22-mjd-kos-waarsku-departement-20200611
Geen grondige rede om skole later te heropen – https://skole.co.za/geen-grondige-rede-om-skole-later-te-heropen/
Government is giving every South African learner a tablet – here’s who is getting theirs first – https://businesstech.co.za/news/technology/304720/government-is-giving-every-south-african-learner-a-tablet-heres-who-is-getting-theirs-first/
Digital education with an eye on the future – https://mg.co.za/special-reports/2020-06-19-digital-education-with-an-eye-on-the-future/
Adverse consequences of school closures – https://en.unesco.org/covid19/educationresponse/consequences
Ouers die antwoord tot krisis in SA skole – https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/ouers-die-antwoord-tot-krisis-in-sa-skole/
Coronavirus has ‘exposed fault lines in SA education system’, academic forum hears – https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/coronavirus-has-exposed-fault-lines-in-sa-education-system-academic-forum-hears-20200423
Disrupted learning during COVID-19: The impact of school closures on education outcomes in South Africa – http://www.hsrc.ac.za/en/review/hsrc-review-july-2020/disrupted-learning-during-covid19