IOL News berig dat die regering van plan is om toe te slaan op amptenare met vals kwalifikasies nadat die Nasionale Vergadering (NV) ʼn wetsontwerp goedgekeur het wat die staat gaan dwing om van mense met twyfelagtige kwalifikasies ontslae te raak.
Deur die wetsontwerp stem die NV daartoe in dat diegene met vals kwalifikasies wat uitgevang word, genoem en verdoem word. Die minister van hoër onderwys, Naledi Pandor, het die besluit om die Wetsontwerp op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk verlede week goed te keur, verwelkom. Dit sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) verwys word vir instemming.
LP’s van oor politieke verdelingslyne heen het gesê dit is ʼn stap in die regte rigting aangesien dit ʼn sentrale databasis gaan daarstel waarop mense met kwalifikasies geregistreer kan word.
In onlangse tye was ʼn hele paar mense in hoëprofielposte by kwalifikasieskandale betrokke. Pandor het die parlement meegedeel dat die wetsontwerp ʼn ernstige slag gaan wees vir diegene met vals kwalifikasies. Sy het gesê dat die databasis gebruik gaan word as register van mense met kwalifikasies wat aan geakkrediteerde instellings verwerf is.
Die wetsontwerp is ʼn paar maande gelede ingedien nadat die regering sy besorgdheid uitgespreek het oor toename in die getal mense met vals kwalifikasies. Die NRVP gaan nou aan die wetsontwerp werk voordat dit na pres. Cyril Ramphosa verwys sal word om dit as wet te teken.