Solidariteit se Gesondheidsgilde gaan ʼn enorme rol in die fisieke welstand van die Solidariteit-gemeenskap tydens en ná die Covid-19-krisis speel.
Die Werkherstelprogram het reeds ʼn stel werkbare planne daargestel om te verseker dat Solidariteit se gemeenskap toegang tot ʼn hoër vlak van mediese dienste sal geniet. Dit geld vir sowel die pasiënt as die praktisyn.
Alhoewel gesondheidsorg as ʼn noodsaaklike diens tydens die inperkingstyd gelys was, is dit allermins die geval dat medici vanuit ʼn ekonomiese perspektief kon floreer. Inteendeel, die inperkingsmaatreëls was so straf dat feitlik geen mediese dienste in die inperkingstyd in die privaat sektor gelewer kon word nie. Slegs nood- en chroniese gesondheidsorg is gelewer.
Selfs te midde van hierdie uitdagings storm die regering voort om die Nasionale Gesondheidversekeringsfonds te propageer wat die onsekerheid in die mediese beroep verdiep.
Solidariteit se Werkherstelprogram stel werkbare planne bekend om te verseker dat Solidariteit se gemeenskap, wat sowel die pasiënt as die praktisyn insluit, nuwe hoogtes kan bereik.
Midde-in die krisis het Solidariteit ʼn simptoombepaler bekendgestel wat deur middel van ʼn vraelys basiese hulp vir eerstestapdiagnosering van Covid-19 bied. Die tweede stap behels is ʼn netwerk van dokters wat Covid-19 aanlyn diagnoseer. Omvattende inligting oor die virus en die siektetoestand is ook aanlyn beskikbaar gestel.
Hierdie stappe is egter slegs die eerste treë in die ontwikkeling van ʼn gesondheidsnetwerk. Hierdie gesondheidsorgstelsel vir die gemeenskap sal in die loop van die komende jaar in meer besonderhede uitgewerk word.
Die gesondheidsnetwerk wat voorsien word, is geskoei op drie verskillende, dog verwante en afhanklike waardes:
Die ontwikkeling van ʼn toepassing met geografiese en kontakbesonderhede van alle gemeenskapspraktisyns sal lede in staat stel om fisieke sowel as virtuele doktersafsprake via die toepassing te maak. Dit stel pasiënte en praktisyns ook bekend aan die wêreld van “telemediese” dienste wat in die Covid-19-tydperk van kardinale belang is, en voortaan veral op die platteland ʼn kernrol gaan speel.