’n Dringende hofaansoek sal so gou soos volgende week teen die Suid-Afrikaanse Posdiens (SAPO) gebring word, sou hy nie gehoor gee aan ’n aanmaning van Solidariteit wat daarop aandring dat die posdiens bewys moet lewer dat al sy statutêre en kontraktuele verpligtinge teenoor sy werknemers tot op hede nagekom is nie.
Die posdiens het sedert 1 April 2020 versuim om sy statutêre en kontraktuele verpligtinge, wat insluit die betaling van mediesefondsbydraes, belasting en pensioenbydraes namens sy werknemers, na te kom terwyl hy steeds bydraes hiervoor van salarisse verhaal.
“Miljoene rande is sedert April van werknemers se salarisse verhaal, maar nie ’n sent daarvan is deur die posdiens aan die betrokke fondse oorgedra nie. Dit kan as niks anders as diefstal beskryf word nie, ” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “SAPO se versuim veroorsaak dat sy werknemers se ledebydrae aan mediese- en pensioenfondse agterstallig is, wat erge implikasies inhou en tot die beëindiging van hierdie werknemers se ledevoordele kan lei – iets wat Solidariteit nie kan toelaat nie.
“Sou SAPO nie op die aanmaning reageer nie, sal ons voortgaan om ons namens ons lede tot die hof te wend. Solidariteit het nog nooit net toegekyk hoe staatsverval tot gevolg het dat staatsinstellings hul werknemers benadeel en ten koste van hulle optree nie. Ons sal ook hier die belange van ons lede beskerm en alles in ons vermoë doen om te verhoed dat hulle die slagoffers van wanbestuur deur die staat word,” sluit van der Bijl af.
Lees die aanmaning hier.
Anton van der Bijl
Hoof: Arbeidsregsdienste, Solidariteit