Solidariteit het vandag aangekondig dat die gelykheidshof se uitspraak in sy saak teen Black First Land First (BLF) die grondslag lê vir ʼn verdere strafsaak teen die BLF, die BLF-woordvoerder Lindsay Maasdorp, en teen Zwelakhe Dubasi, adjunksekretaris-generaal van die BLF.
Anton van der Bijl, hoof van Regsdienste by Solidariteit, verduidelik dat alhoewel die onlangse appèlhofuitspraak lui dat die Wet op die Bevordering van Gelykheid en Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) ongrondwetlik is, het regter Mokgoatlheng bevind dat die BLF en sy verteenwoordigers swaar gestraf sou word vir hul walglike aanmerkings.
Solidariteit verduidelik verder dat daar nooit enige twyfel bestaan het oor die verwerplikheid van die aanmerkings van die BLF en sy verteenwoordigers nie, en dit is bevestig deur die uitspraak wat deur die appèlhofuitspraak nietig verklaar is.
“Volgens die uitspraak was hierdie aanmerkings inderdaad rassisties, kras, onsensitief, barbaars, en gemaak met die opset om seer te maak, skade te berokken en rassehaat aan te hits. Die regter het tereg opgemerk dat die aanmerkings rassehaat aanwakker. Trouens, die regter het bevind dat daar geen groter aanhitsing tot rassehaat kan wees as dat iemand hom oor die dood van onskuldige kinders verheug en dit vier nie, bloot vanweë die kleur van hul vel,” sê Van der Bijl.
Hoewel Solidariteit die reg op vryheid van spraak voorstaan, voer hy aan dat gedrag wat in sy wese aanvoer dat ʼn rassegroep nie die gelyke waardigheid en respek werd is wat deur die Grondwet toeken word nie, en dat die groep nie eens die lewe verdien nie in die lig daarvan dat dood in hul midde gevier behoort te word, nie geduld kan word nie en nie verskoon of ongestraf mag bly nie.
Van der Bijl sluit af: “In die belang van gelykheid, demokrasie en basiese menswaardigheid kan ons nie toelaat dat sulke uitlatings bloot ongestraf bly nie. Onverdraagsaamheid kan nie geduld word nie; daar kan nie toegelaat word dat haat bly sweer nie. Hierdie saak bied aan ons die perfekte platform om ʼn strafsaak te loods en om toe te sien dat geregtigheid seëvier, veral vir die bedroefde families wat nie net hul geliefde kinders aan die dood moes afgee nie, maar wat ook die viering daarvan deur diegene wat haat en onverdraagsaamheid saai, moes verduur.”