Solidariteit en AfriForum verwelkom die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, se besluit om die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) se werksaamhede te staak totdat daar met Solidariteit en AfriForum in gesprek getree is. Dit volg nadat die twee instansies ’n dringende brief aan die minister gestuur het oor die fonds wat beoog om slegs finansiering aan toerismeondernemings in swart besit te verskaf.
In die minister se antwoord aan Solidariteit en AfriForum het sy aangekondig dat sy met die twee instansies in gesprek wil tree. Sy het verder aangekondig dat die fonds gestaak word vir die duur van gesprekvoering met Solidariteit en AfriForum. Solidariteit verwelkom dié reaksie en optrede deur die minister.
“Die regering het die inperkingsmaatreëls weens Covid-19 ingestel, en daarmee handel en die groter ekonomie beperk. Die gevolg was dat duisende besighede, veral in die toerismebedryf vir maande geen inkomste kon verdien nie. Wat die regering nou moet doen is om ’n hand uit te reik na hierdie besighede en hulle te ondersteun eerder as om die geleentheid te misbruik om sy ras-ideologie te bevorder. Ons verwelkom die geleentheid om in dié verband met die minister in gesprek te tree,” sê Morné Malan, hoof van kommunikasie by Solidariteit.
“Ons verwelkom die minister se bereidwilligheid om te vergader en beskou dit as ’n stap in die regte rigting. Die regering het ’n verantwoordelikheid teenoor alle landsburgers aangesien almal in die toerismebedryf tans dringend hulp benodig. Die regering kan nie ’n pandemie gebruik om transformasie te bevorder terwyl alle Suid-Afrikaners swaarkry nie,” sê Monique Taute, hoof van Veldtogte by AfriForum.