Deur Connie Mulder
Suid-Afrika is nie besig om te wen nie. As ʼn mens om jou kyk is dit duidelik dat wat jy sien nie is hoe “wen” lyk nie. Beurtkrag, slaggate, misdaad, werkloosheid, armoede en staatskaping is alles tekens van ʼn land wat besig is om te verloor. Die rede vir hierdie verval is uiters eenvoudig – die ANC-regering gee nie om oor die telbord nie en fokus uitsluitlik op die spanfoto.
Solank daar genoeg swart mense in diens van ʼn staatsinstelling is, maak dit vir die regering nie saak wat die uitkomste is wat die instelling bereik nie. Hierdie obsessie met ras het al die institusionele kennis in regeringsdepartemente en staatsinstellings weggekalwe. In hierdie vakuum het die dodelike kombinasie van onbevoegde amptenare en bevoegde skelms gedy. Die gevolge van die ANC se rasbehepte beleid is dat die land letterlik leeg gesteel is, terwyl die staat se vermoë om die korrupte kaders te vervolg vernietig is.
Ten spyte van die inploffing van die openbare sektor, het die privaat sektor tot dusver staande gebly as ʼn toonbeeld van uitnemendheid in verskeie gevalle. Namate die polisie se vermoë om misdaad te bekamp en te beveg verdwyn, het privaat sekuriteitsdienste na vore getree. Namate openbare gesondheidsorg vroue op die vloer laat kraam, het privaat mediese sorg die gaping gevul en word daar nog gesondheidsorg van wêreldgehalte gebied. Die privaat sektor fokus op die telbord.
Strenger raswetgewing lê tans op pres. Ramaphosa se lessenaar. Hierdie wetgewing is een handtekening weg van in werking tree. Die doel van hierdie nuwe rassewetgewing is eenvoudig om dít wat in die privaat sektor werk te vervang met dít wat nie in die openbare sektor werk nie – om die privaat sektor te dwing om op die spanfoto eerder as op die telbord te fokus.
Waarom?
ʼn Geldige vraag is dan eenvoudig – waarom doen die ANC-regering dit? Kan hulle tog nie sien dat die land in duie stort weens hul beleid nie? Die antwoord lê opgesluit in die minister van arbeid se toesprake oor die onderwerp. Daarin vaar hy gereeld uit teen wit mense wat steeds oorverteenwoordig is in die arbeidsmark, spesifiek op topbestuur- en senior bestuursvlak. Self-regulering deur die privaat sektor het kwansuis totaal misluk en die staat moet nou noodgedwonge intree om te keer dat swart mense van die arbeidsmark uitgesluit word. Die syfers wat deur die regering gebruik word, is gebaseer op die jaarlikse verslag van die diensbillikheidskommissie. In hierdie verslag word velkleur haarfyn getel. Daar word in die fynste besonderhede gerapporteer oor hoeveel mense van watter kleur op elke vaardigheidsvlak in elke sektor is. Daar word weer eens slegs op die spanfoto gefokus met geen begrip van wat op die telbord aangaan nie.
Die groter probleem is dat die verslag sélf op uitsonderlik gebrekkige navorsing gebaseer is. Tog is dit die basis waarop die rassewetgewing regverdig word. Die totale getal werknemers wie se ras en posvlak in die verslag gerapporteer word, is 7 miljoen. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) is daar tans 14,9 miljoen werkende mense in Suid-Afrika. Alhoewel daar oor minder as die helfte van die werkende bevolking gerapporteer word, is die wetgewing van toepassing op almal.
Boonop is daar ʼn besonders eng fokus op die topbestuur- en senior bestuursvlak waar swart mense onderverteenwoordig is. Hierdie twee vlakke saam verteenwoordig ongeveer 200 000 mense, oftewel 2,8% van die werknemers waaroor gerapporteer word. Die vaardige, semi-vaardige en ongeskoolde vlakke is waar 80% van werknemers hulself bevind. Op hierdie vlakke word swart mense oorverteenwoordig, soos wat die syfers in die verslag self aantoon. Enige gedagte van breë uitsluiting van swart mense uit die ekonomie word deur die verslag se eie syfers weerlê wat wys dat die oorweldigende meerderheid van mense wat werk in Suid-Afrika die land se demografie weerspieël.
Die minister kla oor minder as 3% van werknemers en vaardig dan wette uit wat aan hom die mag gee om teikens voor te skryf vir 100% van die werknemers in die land. Hierdie wetgewing gaan dus allermins oor breë bemagtiging, maar veel eerder oor eng verryking.
Breë bemagtiging?
In Suid-Afrika is dit amper ondenkbaar dat enige wetgewing oor die arbeidsmark gepromulgeer word wat nie uitsluitlik daarop fokus om die enorme werkloosheidskrisis op te los nie. Suid-Afrika sit tans met 7,8 miljoen werklose mense en ʼn bykomende 3,7 miljoen werklose mense wat weens wanhoop ophou werk soek het. Dit is hoe Suid-Afrika se telbord realisties lyk – 12 miljoen volwassenes sonder werk. Enige wetgewing wat breë bemagtiging wil bewerkstellig, moet veel eerder daarop fokus om mense sonder werk te help om werk te kry as wat die stoele op die spanfoto rondgeskuif word – tog is laasgenoemde presies wat hierdie wetgewing doen. Eerder as om daarop te fokus om die ekonomiese koek groter te maak sodat almal ʼn ordentlike porsie kan kry, word wette uitgevaardig om seker te maak kaders kry die beste krummels.
Die nuwe rassewetgewing se eng fokus om die minister in staat te stel om teikens vir die privaat sektor te stel het net een doel voor oë en dit is om ryk swart mense ryker te maak terwyl die armes onder ons uiteindelik die prys gaan betaal deur uitgesluit te bly uit ʼn krimpende ekonomie. Die ANC-regering wil eenvoudig die privaat sektor dwing om plek te maak vir hul kaders, ongeag die koste daarvan.
Hoe raak dit jou?
Die nuwe rassewetgewing gee mag aan die minister om rasseteikens per sektor en vaardigheidsvlak te stel en elke enkele onderneming in daardie sektor moet dan aan hierdie teikens voldoen, anders mag hulle hoegenaamd nie sake met die regering op enige vlak doen nie.
Jy mag dink dat jou onderneming nie van die staat afhanklik is nie, maar die harde werklikheid is dat hierdie wetgewing ʼn enorme impak op die hele waardeketting gaan uitoefen. Suid-Afrika se regeringsbegroting is ongeveer ʼn derde van die land se totale bruto binnelandse produk. Jou onderneming doen dalk nie direk sake met die staat nie, maar verskeie van jou kliënte doen waarskynlik wel sake met die sake. Hierdie kliënte gaan onder enorme druk verkeer met ʼn minister wat aan hulle gaan voorskryf hoe die spanfoto moet lyk ongeag die telbord.
Waarheen nou?
Sentrale beplanning van ʼn ekonomie is al vantevore uitprobeer – dit het armlastigheid en hongersnood met miljoene sterftes tot gevolg gehad. Hierdie wetgewing gee aan die minister die mag om vanuit ʼn kantoor in Pretoria sy neus in elke onderneming se sake te druk en aan hulle voor te skryf hoe die mense wat daar werk moet lyk. Daar rus ʼn plig op ons om hard en duidelik “nee” te sê, om terug te druk en te sê “genoeg is genoeg!” Ons verdien om in ʼn wenland te woon, om ons kinders in ʼn wenland groot te maak en ons drome in ʼn wenland na te jaag. Al manier hoe Suid-Afrika ʼn wenland kan word, is as ons begin fokus op die telbord ongeag die spanfoto. Die regering gaan dit nie self doen nie; ons gaan hom weereens moet dwing om die regte ding te doen.