Paulus sukkel met ’n “doring in die vlees” waarmee hy nie vrede kon maak nie. Skrifverklaarders spekuleer dat hierdie doring dalk ’n siekte of ’n gebrek kon wees, maar dit was beslis iets waarvan Paulus dringend ontslae wou raak, ’n hindernis wat hom daarvan weerhou het om voluit as Christen te leef. Hy doen dus die regte ding en vra dat God hierdie doring sal wegneem. Maar dit gebeur nie. God vertel hom dat sy genade vir hom genoeg is; dat dit juis wanneer hy wat Paulus is, so swak is, dat God se krag in hom gesien sal kan word. Dit laat Paulus besef dat God vir hom genoegsame genade wil gee om vrede te maak met die doring. Meer nog, dat hy eintlik dankbaar moet wees daarvoor, omdat dit God se krag in sy lewe na vore laat kom.
Charles Spurgeon skryf daar is geen groter genade op aarde waarvan hy weet as goeie gesondheid nie, behalwe as dit siekte is. Siekte, erken hy, is dikwels vir hom ’n groter genade as gesondheid, omdat dit wel goed is om probleemloos te leef, maar die heel beste is om probleme te ervaar en te weet dat God jou genoegsame genade sal gee om dit te verdra. Dit is presies hierdie boodskap wat God aan Paulus oordra – en deur sy Woord ook aan elkeen van ons. Boonop gee God nie net oorvloedige genade aan sy kinders wat swaarkry en siek is nie, maar kan Hy nie wag om sy genade oor elkeen van hulle uit te stort nie. “Tog wag die Here gretig dat julle terugkom na Hom toe. Hy wil genade aan julle bewys,” skryf die profeet Jesaja (Jes. 30:18).
God se genade is gratis, maar daar is tog ’n voorwaarde aan verbonde. “Wie sy oortredings verswyg, sal nie voorspoedig wees nie. Wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang,” staan daar in Spreuke 28:13. As jy steeds stres of moedeloos bly oor al jou “dorings” wat jou laat voel dat God se genade nog nie ’n werklikheid in jou lewe is nie, maak seker dat jy jou sonde bely én laat staan het, dan kan jy God se genade joune maak!
Vader God, ek loof U dat U genade vir my altyd oorgenoeg is; dat dit juis in my lewe uitgestort word wanneer ek swak voel. Vergewe asseblief al die dinge wat ek steeds verkeerd doen en leer my om my sonde deurlopend te bely én te laat staan. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.
Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.
– Efesiërs 2:8–9 (Die Boodskap)
Nina Smit boeke, en ander dagstukkieboeke deur Struik Christian Media is nou beskikbaar by CUM Boeke: bit.ly/3bePEqx
Foto deur Deon Kotze