Leef ’n lewe wat pas by die waardigheid van die roeping waarmee julle geroep is. Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.
– Efesiërs 4:1–2
Daar is ’n bekende grappie van die plattelandse dominee wat ’n beroep na ’n universiteitsdorp gekry het op die presiese tydstip dat een van sy kinders universiteit toe moes gaan. Die dominee en sy vrou het nie eenders oor hierdie beroep gedink nie. Toe een van die gemeentelede by die pastoriekinders wou weet of hul pa al besluit het oor die beroep, het die laerskooldogtertjie heel eerlik geantwoord: “Ek weet nie, Oom. My pa bid nog, maar my ma pak al in!”
Ons was baie gelukkig in ons tweede gemeente toe my man destyds ’n beroep na ’n baie vermoënde gemeente kry. Ek het dadelik besluit ek wil nie soontoe gaan nie, omdat die nuwe gemeente se mense te deftig is vir my. My man het weer gevoel die Here roep hom na dié spesifieke gemeente. Hierdie pastoriemoeder het ’n hele paar nagte omgehuil!
Een oggend nadat ek weer ernstig gebid het vir die Here se leiding, maak ek my Bybel by Deuteronomium 31 oop. Met die lees van dié vers, het ek glashelder geweet die nuwe beroep is wel die Here se wil vir ons gesin en summier opgehou om teen die prikkels te skop! Ons was tot ons aftrede – byna 20 jaar later – baie gelukkig in daardie gemeente en ons het ook besluit om daar af te tree.
Niemand van ons weet wat in die toekoms vir ons wag nie, maar as jy God ken en dien, weet jy seker dat Hy in die toekoms vir jou sal voorsien en jou lewenspad vooruit sal stap. En God se pad is altyd die regte pad; selfs al is dit nie die pad wat jy die graagste sou wou stap nie! Gaan onderstreep sommer nou Psalm 25:12–15 in jou Bybel: “Wie is die een wat die Here dien? Hy sal hom wys watter pad hy moet kies.
Hy sal in voorspoed lewe, en sy nageslag sal die beloofde land beërwe. Die Here se voorneme is duidelik vir dié wat Hom dien. Aan hulle maak Hy sy verbond bekend. Ek kyk altyd op na die Here vir hulp, want Hy sal my voete van die vangnet bevry.” Bid dat God sy pad vir jou sal wys wanneer jy in die toekoms dalk weer nie duidelikheid het oor ’n belangrike besluit nie.
Hemelse Vader, vandag wil ek U nog ’n slag kom loof vir U getrouheid deur die jare, vir al die kere dat U my lewenspad vir my vooruitgestap het. U het my geleer dat u pad die enigste regte pad vir my is, ook al verskil dit van die pad wat ek graag wou loop. Ek bid dat U elke dag die regte pad sal aanwys en my gewillig sal maak om U te gehoorsaam. Amen
Hierdie boek, en ander dagstukkieboeke deur Struik Christian Media is nou beskikbaar by CUM Boeke: https://www.cumbooks.co.za/god-is-aan-jou-kant-sagteband
Foto’s deur Deon Kotze