BEL ONS: 012 644 4300

Registreer / Register

Maak toe / Close

Alana Bailey

Alana Bailey is in Krugersdorp gebore en het daar aan Hoërskool Monument gematrikuleer. Sy het haar studie aan die Universiteit van Pretoria voortgesit, waar sy 'n meestersgraad in Historiese en Erfenisstudies behaal het. In 1990 het sy die wêreld van migrasie betree as streekhoof en later as hoof van die Maatskappy vir Immigrasie. Sy is tans werksaam as AfriForum se hoof van kultuursake en is ook die uitvoerende hoof van Kraal Uitgewers (Eiendoms) Beperk. Naas Suid-Afrika, migrasie en geskiedenis, is lees, skryf en reis haar passies. Talle van haar formele wetenskaplike en minder formele artikels oor kultuurgeskiedenis en migrasie is gepubliseer en sy skryf ook gereeld resensies vir vakwetenskaplike tydskrifte. Haar kinderboek, Die Prinses van die Afrikavlaktes, het in 2007 verskyn en is met 'n ATKV-Woordveertjie en die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur bekroon. Sy is 'n direksielid van AfriForum, Kraal Uitgewers, Maroela Media en die Afrikaanse Taalraad. Sy was van Mei 2015 tot 2019 'n lid van die minister van kuns en kultuur se taakspan oor erfenistransformasie.

Aanhalings:

  • Woorde is sleutels tot wêrelde wat oor tyd, plek en selfs realiteit strek.
  • Die pen is inderdaad magtiger as die swaard – 'n goeie joernalis het die mag om die wêreld te verander.
  • Die grense van kreatiewe skryfwerk is so wyd as wat die skrywer en die leser kan droom.
  • Al is omstandighede hoe sleg, kan die skrywer altyd 'n pad daaruit oopskryf om hoop en nuwe drome te skep.

Cilleste van Dyk

Bio

Cilleste van Dyk is die bestuurder van Inhoud en Taal by Solidariteit se Kommunikasie-afdeling. Sy het meer as 10 jaar se ervaring in die tydskrifbedryf en het meer onlangs ernstig op digitale inhoudskepping begin fokus. Hoewel sy 'n meestersgraad in Joernalistieke Bestuur aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, bly sy steeds 'n passievolle oud-Puk.

Aanhalings

Kommunikasiepraktisyns: Om deel te wees van die kommunikasiebedryf plaas ons in 'n posisie om unieke waarde tot enige beroep, maatskappy of persoon te voeg. Dink buite die boks!

Bemarking: 'n Bemarker het die vermoë om nie net iets te verkoop nie, maar om mense opgewonde te maak oor die aankoop wat gedoen word of die diens wat gelewer word.

 

Lood Goosen

My naam is Lood Goosen en ek is al vir die afgelope 12 jaar 'n passievolle fotograaf. Ek fokus hoofsaaklik op troues, sosiale geleenthede, korporatiewe geleenthede en argitektuur. Ek hou daarvan om seker te maak dat die intieme oomblikke van elke geleentheid wat ek afneem met deernis vasgevang word en dat die kliënt 'n kans gegun word om hulself te sien soos wat die wêreld hulle sien. Ek is aan die stuur van 'n sterk fotografiegroep en dit is vir my belangrik om te sien dat elke fotograaf ruimte het om hulself te wees en hulle werk ten toon te kan stel. Ek glo dat elke fotograaf 'n unieke oog of perspektief het en dat dit sover moontlik ontwikkel moet word om daardie uniekheid te behou.

Reint Dykema

Reint Dykema het in 1990 begin foto’s neem toe hy as die redakteur van Wapad (die studentekoerant van die PU vir CHO) aangestel is. Dit was in die dae van film en dié leerskool was 'n goeie fondament om die beginsel van spoed, lensopening en ISO onder die knie te kry.

Hy het in 2001 by Solidariteit begin werk en fotografie was een van sy pligte as kommunikasiebeampte. In 2004 skakel hy oor na digitaal.

In die wêreld van werk het Dykema talle geleenthede afgeneem wat insluit stakings, voedingsprogramme en alles wat vakbondverwant is. In 2016 het hy by AfriForum begin werk en neem ook gereeld geleenthede vir AfriForum af.

Oor naweke het hy ook begin om troues af te neem.

In 2012 het sy kinders begin skaak speel en so het 'n hoofstuk van skaakfotografie begin. Dit sluit in dat hy drie keer die geleentheid gehad het om die wêreldjeugkampioenskap af te neem. Hy neem ook jaarliks die plaaslike skaakjeugkampioenskap af.

Hy het ook begin om sagtebal af te neem toe sy kinders begin het om aan die sportsoort deel te neem.

Ander vorme van fotografie wat hy geniet, is natuur- en landboufotografie.

Alta Strauss

Alta Strauss is in Namibië gebore en het in die Kalahari grootgeword. Sy is 'n gekwalifiseerde mensehulpbronbestuurder, maar 'n loopbaan as motiveringspreker, skrywer en radiopersoonlikheid het haar gekies. Sy is veral bekend vir haar inspirasiereekse op Pretoria FM saam met M.D. Greyling, Voelgoed met Alta, Eerste Gedagte en Inspirasie met Alta. As 'n baie veelsydige skrywer is haar werk al in meer as 16 boeke, verskeie tydskrifte, koerante en op blogs gepubliseer. Sy het ook haar eerste digbundel saam met mede-skrywer, René Roux, in samewerking met Helpende Hand (wat deel van die Solidariteit Beweging is) “Steeds Vrou” en haar eerste solodigbundel met versamelde gedigte, “Net Ek”, teen die einde van verlede jaar vrygestel. Sy is ook 'n voormalige redakteur van Vroue Wat Glo en is passievol oor die lewe, mense en woorde. Dit is veral die magiese krag van woorde wat haar fassineer. 

Aanhaling:

“Woorde is persoonlik en intens. Woorde betower en rig op. Dit vat jou op avonture, skep wêrelde, neem jou in besit. Woorde is 'n ewigdurende ewolusie, sonder perke, en strek oor tyd en grense heen.”  – Alta Strauss

Estel de Beer

Estel se liefde vir die kunste en kommunikasie het op skool begin waar sy aan toneel deelgeneem en die nasionale redenaarskompetisie van die ATKV gewen het. Sy het in 2009 by RSG as stemkunstenaar begin werk en verskeie rolle in radiodramas vertolk. Estel was ses en 'n half jaar lank 'n radio-omroeper by Pretoria FM. Haar radioprogram en projekte waarby sy betrokke was, is vier keer vir die South African Radio Awards benoem, en sy het in 2021 die toekenning vir die beste promosiegeleentheid vir 'n gemeenskapsradiostasie ontvang. In dieselfde jaar is sy vir die #GoeieGons Radiopersoonlikheid van die jaar-toekenning benoem. In 2017 het sy skouers geskuur met bekende sportlui as mede-aanbieder van die kykNET-program “Op die Skouers van Reuse”. In 2022 speel Estel weer in 'n radiodrama wat op RSG uitgesaai word. Sy is ook 'n dosent by Vega waar sy Strategiese Handelsmerkbestuur vir eerste-, tweede-en derdejaars aanbied.

Estel het haar LLB en BCom Honneurs in Kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria voltooi, asook 'n Gevorderde Diploma in Projekbestuur aan Akademia. Sy het ook kursusse in toneelspel by onderskeidelik Pali en Acting on Screen voltooi.

Aanhaling:

Moet nooit vervelig wees nie, anders gaan jou luisteraars verveeld wees.

Op radio is minder meestal meer, maar wat jy wel sê moet saak maak.

Radio is persoonlik; elke luisteraar moet voel asof jy net met hom/haar praat.

Mariaan Botha

Goeiedag, ek is Mariaan Botha. Ek is 'n entrepreneur van Suid-Afrika wat nasionaal sowel as internasionaal in die kreatiewe bedryf werk. Ek is 'n gekwalifiseerde grafiese ontwerper en fotograaf met meer as 15 jaar ervaring, en ek besit my eie onderneming, M.Studio, waar ek primêr daarop fokus om vroue te inspireer om die mooiste lewe te lei deur my produkte, my blog, sosiale platforms en deur my werkswinkels en geleenthede by te woon.

Ek vind inspirasie in die daaglikse lewe, die kos wat ons eet, die mense wat ons ontmoet, die woorde wat ons lees en die kleure in die natuur – veral blomme. Ek het reeds met van die bekendste name in die bedryf saamgewerk aan handelsmerke, ontwerpe vir produkte en verpakking, en van my werk is in tydskrifte gepubliseer, het in blogs verskyn, en ek was selfs al op TV.  Ek het al geleenthede en winkels gestileer, aan konseptualisering gewerk en inhoud geskep, 'n klompie wonderlike mense van oral ter wêreld gefotografeer, en ek het ook my eie kleinhandelwinkel besit en bestuur.

Sanett Oosthuizen

Sanett is gebore om 'n onderwyseres te wees én om te vermaak.  As klein dogtertjie het sy reeds in die rondte gedraai en “Heidi, Heidi …” gesing.  Sy het haar toneelspeldebuut in Die Kongres by die KKNK in 1997 gemaak.  Verskeie teaterproduksies het in die Oos-Kaap gevolg en talle van haar vertolkings is vir toekennings benoem.  Dit was een van haar dramavriende, Danie Matthee, wat haar 25 jaar gelede genooi het om saam met hom te kom gesels in radioprogramme.  Intussen het Sanett haar as remediërende onderwyseres bekwaam (BPrimEd, 'n diploma in die onderrig van leerders met spesiale behoeftes en 'n honneursgraad in Opvoedkunde).  Radio was egter die perfekte huwelik tussen onderwys en vermaak en kort voor lank was sy voltyds agter die mikrofoon en selfs programbestuurder by Kingfisher FM.  Met haar huwelik en die geboorte van haar twee kinders het sy egter 'n sewe jaar lange breek van radiowerk geneem.  Toe die gesin hulle in Nelspruit vestig, was dit nie lank nie of radiowerk het weer gewink.  Dit was as aanbieder van die ontbytprogram op Radio Laeveld dat sy in 2021 as die GoeieGons-wenner vir Radiopersoonlikheid van die Jaar aangewys is.  Deesdae fokus sy op stemwerk (soos video-oorklankings, oudioboeke, advertensiewerk en dies meer) vanaf haar tuisateljee. Sy gee nou ook tuisonderrig aan haar twee kinders.

André Oberholzer

André Oberholzer is ’n media entrepreneur en eienaar van www.seamlessproductions.co met sewe jaar ervaring in media en produksie. Hy het al saam met internasionale handelsmerke soos Decathlon in Suid-Afrika gewerk.

André spesialiseer in inhoudskepping as skrywer, videograaf en fotograaf en is selfs geskool in webtuiste- en app-ontwerp, asook sosialemedia-bemarking en -strategie.

Andre het ’n energieke uitkyk oor die lewe en ’n oorweldigende passie in die werkplek wat ander inspireer om selfs meer kreatief te wees.

Hy kry sy inspirasie by sy vrou en twee kinders. In sy vrye tyd is hy ook ’n liefhebber van die buitelewe wat hou van ’n aktiewe en gesonde leefstyl.

Freek Robinson

Freek Robinson is 'n televisiejoernalis met 45 jaar se ervaring in die bedryf. Hy het ook 'n meestersgraad in Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy was al politieke beriggewer, politieke redakteur, dokumentêre regisseur, uitvoerende regisseur, bestuurder van aktualiteitsprogramme, Europese korrespondent (in Londen vir drie jaar gebaseer) en anker-aanbieder by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) van verskeie aktualiteitsprogramme soos Agenda, Fokus en Robinson Regstreeks by kykNET.

Hy was vanaf 2010 tot 2020 die hoof-anker van eNuus op kykNET, en hy het ook vir drie jaar die radio-aktualiteitsprogram “Praat Saam” op RSG aangebied.

Robinson het al verskeie toekennings vir sy vernuf in aanbieding en onderhoudvoering ontvang – insluitende 10 ATKV-Mediaveertjies. Freek het ook sy eie onderneming, Freek Robinson Communications, en hy verskaf opleiding in mediavaardighede aan topsakemanne en regeringsamptenare.

Marike Grobler

Bestuurder: Bemarking, Ontwikkeling en Ontwerp by Solidariteit

Marike het 'n passie vir goeie ontwerp en hoe dit tot effektiewe kommunikasie kan bydra. Met agt jaar se ondervinding in die ontwerp-omgewing, waar sy aan vele suksesvolle handelsmerke gewerk het, het sy geleer dat goeie ontwerp een van die belangrikste elemente is wat jou bo jou mededingers sal laat uitstaan. Marike het 'n BCom-graad in Bemarking en Toerisme aan die Noordwes-Universiteit verwerf en het ook daarna 'n honneursgraad in Bemarking en Entrepreneurskap verwerf. Sy glo dat bemarking en ontwerp hand aan hand gaan en dat die een nie sonder die ander kan bestaan nie. Marike is gelukkig getroud met Stefan en is 'n mamma van 'n besige tweejarige. Sy is baie lief vir die buitelewe.

Vincent Grobler

Ek het Rolprentontwerp (‘Motion Picture Design’) aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie studeer en in 2009 gegradueer. Nadat ek my studie voltooi het, het ek begin om by The Film Factory te werk en ek het aan films soos Bakgat 2, Night Drive, Superhelde, Hoofmeisie & Roepman gewerk.

In 2011 het ek my eie pad begin volg. Nadat ek my voete in die industrie gevind het, het ek Motionworx in 2012 met my besigheidsvennoot gestig. Ons onderneming het so gegroei in die afgelope dekade dat ons vandag trots kan werk vir maatskappye met ’n wêreldwye omvang. Ons profiel sluit in advertensies, korporatiewe video’s, virtuele geleenthede, bewegingsontwerp, animasie ens.

Bianca Smit

Bianca Smit is in Pretoria, ons pragtige Jakarandastad, gebore. Sy het haar BA-graad in Kommunikasiewetenskap in 2016 aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi waarna sy ook 'n nagraadse kwalifikasie in besigheidsbestuur bekom het. Sy het 'n passie vir fotografie en is veral daarvoor lief om ons Hemelse Vader se “skilderye” met haar lens vas te vang. Kuns en kultuur het reeds van kleintyd af vir haar van nature gekom en sy geniet die stories van die lewe. Sy is al vir die laaste 16 jaar by Solidariteit werksaam en vind haarself tans in die rol as Gilde-organiseerder vir die Gilde vir Kommunikasie en Bemarking.

Aanhalings

“'n Foto vries God se skilderye in tyd.”

“Om talentvol te wees is wonderlik, maar passie verseker dat jy uitstaan.”

Hilde Kruger

Hilde Kruger is verlede jaar as die #GoeieGons se Grafiese ontwerper van die jaar gekroon. Sy het haar honneurs in Gedrukte Media en Illustrasie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus voltooi en in die proses ook lidmaatskap van die International Society of Typography (ISTD) verkry. Hierdie lidmaatskap word jaarliks slegs aan 50 mense per land toegeken, en Hilda kan met trots sê dat sý een van daardie 50 mense in Suid-Afrika is.

Van haar werk was ook in 2017 in die tydskrif SA Art Times te sien. Daarbenewens het sy verder Multimedia gaan studeer en haar nagraadse studie met lof voltooi. Tans werk sy in die wynbedryf en gee sy daagliks haar tiende deur collages aan boere, organisasies, ons erfenis, kunstenaars en plaaslike besighede op haar blad, Ineffable Digital Designs, op te dra. 

Aanhalings

“Vra jouself af wat jy met jou talente kan doen om die wêreld 'n beter plek te maak. Bou vir jouself netwerke op en bou jouself ook op!”

“Dis goed om met kleur na die wêreld te kyk, maar soms moet 'n mens in swart-en-wit dink en die realiteit in ag neem. Die wêreld is vol probleme en grafiese ontwerp is baie meer as net prentjies teken; ons los probleme op.”

Marisa Engelbrecht

Marisa Engelbrecht is met 'n liefde vir woorde en tale gebore. Sy het aan Hoërskool Hendrik Verwoerd in Pretoria gematrikuleer. Nadat sy vir 'n jaar in Duitsland gewerk het, begin sy haar studie in Internasionale Kommunikasie aan die destydse Pretoria Technikon. Sy verwerf eers haar Diploma en daarna haar B.Tech-graad in Internasionale Kommunikasie.

Later voltooi sy ook ‘n Meestersgraad in Strategiese Kommunikasie. Sy het haar loopbaan in skakelwese en bemarking begin, en werk later as joernalis by die Pretoria Rekord. Sy is vir verskeie Caxton- en Sanlam-toekennings genomineer en het vir ongeveer vier jaar in die Nasionale Persklub se bestuur gedien totdat sy 15 jaar gelede by Solidariteit begin werk het. Marisa is medeskrywer aan die boek Die Christen en sy werk en dien ook in die direksie van Kraal Uitgewers. Sy is tans onder meer die sektorhoof van die Solidariteit Gilde vir Kommunikasie en Bemarking en het al verskeie artikels, gedigte en beskrywende opstelle agter haar naam.

Aanhalings:

– “Woorde is die skilderye van die siel.”

– “Elke uitdaging skep 'n geleentheid vir verandering.”