BEL ONS: 012 644 4300

Registreer / Register

Maak toe / Close

Nicola Lourens

Grafiese ontwerp

Nicola is 'n veelsydige ontwerper en visuele kommunikeerder met meer as 15 jaar se ondervinding in logo- en handelsmerkontwerp, verpakkingsontwerp en visuele kommunikasie. Sy is 'n kreatiewe besluitnemer en doener, sowel as 'n passievolle mentor. Nicola het deur haar loopbaan by talle noemenswaardige ontwerpsagentskappe gewerk en is tans 'n dosent en vryskutontwerper. Sy is ook die mede-eienaar van Parlement Apparel, 'n passie-projek wat sy saam met haar broer begin het. Nicola het al 'n paar toekennings gewen, insluitend 'n brons, silwer en goue Loerie-prys, asook 'n Grand Prix-toekenning. In 2016 is sy in die gesamentlike eerste plek as ontwerper en in die derde plek as illustreerder by die gesogte Loerie-toekennings aangewys.

 

Michelle Rossouw

Grafiese ontwerp

Ek is 'n passievolle grafiese ontwerper en is trots op my liefde vir wonderlike ontwerp en om te sien hoe klein ondernemings asook groter ondernemings groei. Graphix Studio is altyd van hulp vir beide klein en groter ondernemings, omdat almal iewers moet begin. Ek bied ook internskappe vir junior ontwerpers aan om hulle WIL-ure te voltooi, aangesien ek self die stryd ken om maatskappye te vind wat dieselfde geleenthede bied. Nadat ek my studie in Multimedia-ontwerp en Tegnologie in 2012 aan Damelin College voltooi het, het ek dadelik as 'n junior ontwerper vir 'n maatskappy begin werk om alles te leer wat ek moontlik in my wye veld kon leer. Ek is van kleins af deur my ouers geleer om 'n entrepreneur te wees, dus was dit my voorneme om in die toekoms vir myself te werk. Ek het Graphix Studio Design Agency in 2014 (formeel as MiCo Designs bekend) as 'n vryskutontwerper begin om vir myself 'n naam op te bou. Nadat ek die eerste maatskappy wat my 'n geleentheid gebied het in 2014 verlaat het, omdat ek gevoel het dat ek my posisie ontgroei het, het ek by 'n ander ontwerpagentskap aangesluit wat my ontwerpersoog verfyn het en my vaardighede geslyp het. Ek het nie net baie meer geleer nie, maar my netwerk het ook geweldig gegroei. Ek is in 2016 deur 'n maatskappy genader om in hulle druk- en ontwerpafdeling te help waar ek 'n enorme tender van munisipale voertuigvlote moes projekbestuur. 2017 was die jaar wat ek die geloofsprong gedoen het om heeltemal op my eie te gaan, en met harde werk en toewyding het ek 'n suksesvolle ontwerp-agentskap opgebou wat met ander suksesvolle maatskappye en firmas saamwerk.

Timoné Mynhardt

Grafiese ontwerp

So julle wil graag weet wie is Timoné? Ek is 'n gebore Potchefstromer.  Vandat ek op 25 Maart 1993 die eerste keer die wilgeboomgevulde suurstof van Potchefstroom diep in my longe ingetrek het, voor ek blou moord my aankoms aan die wêreld aangekondig het, is my wortels diep in dié mooi dorp geanker. Ek het in Potch skoolgegaan (Hoërskool Gimnasium), en ook my universiteitsdae (NWU Pukke – BA (Hons) in Kommunikasiebestuur) hier deurgebring en is bevoorreg genoeg om nou mede-eienaar van Feisty Communications and Marketing Specialists te wees. Om op 28-jarige ouderdom reeds 'n besigheidseienaar te wees hou vele uitdagings in, maar ek kan met alle eerlikheid sê dat ek elke oomblik daarvan geniet. My passie vir kreatiwiteit, bemarking en ondernemings help my om daagliks te groei en ek geniet die industrie geweldig baie. Hier is 'n paar feite oor myself:

  • Ek is beslis 'n hondemens.
  • Ek is getroud met 'n grafiese/multimedia-ontwerper.
  • Ek is iemand wat lysies maak – as julle nog nie agtergekom het nie.
  • Ek geniet dit om in die natuur te wees.
  • Ek is aktief en is 1,8 m lank.
  • Ek is mal oor kos (sushi, pizza, hamburgers – enige iets ongesond!)
  • Ek spandeer graag my tyd alleen wanneer ek die dag af is.
  • Ek sal my styl as redelik simplisties, met 'n spatsel kleur beskryf.

Dit is ek in 'n neutedop! Dankie vir die geleentheid ek hoop julle geniet my werk.

Sarina Bosman

Radio: nuus en aktualiteit

Wat 'n voorreg om al vir meer as 'n dekade my passie te kan uitleef. Die radiogogga het my op 11-jarige ouderdom gebyt en van toe af was dit al wat ek eendag wou doen. Ek het in 2010 by 'n kampusradiostasie begin en daarna my loopbaan by Pretoria FM voortgesit. Vandag is ek die aanbieder van twee aktualiteitsprogramme, sowel as programbestuurder by dié stasie.

Suzanne Paxton

Radio: nuus en aktualiteit

My naam is Suzanne Paxton, aanbieder van die nuus- en aktualiteitsprogram Spektrum in die middae op RSG. Ek is ook deel van die produksiespan wat daagliks nuusstories saamstel en uitsaai op Spektrum – dus 'n joernalis. Die temas waaroor ek passievol is, is ekonomie en omgewingsake – waarvoor ek die 2018/2019-Kudu-toekenning ontvang het vir die beste omgewingsjoernalis, asook die 2019/2020-toekenning as SABC-omgewingsjoernalis in Radio. Ek hou van lees en duik en boks en het onlangs op 41 my rooi gordel in MMA (“Mixed Martial Arts”) verwerf.

 

 

Esté Gross

Radio: nuus en aktualiteit

Esté Gross is sedert 2014 'n omroeper, nuusleser en programsamesteller. Sy is gewoonlik vroeg uit die vere en is die nuusleser vir onder andere die ontbytprogram Brêkfis met Derrich op 'n Saterdag, en die samesteller en aanbieder van die musiekprogram van ligte klassieke musiek op 'n Sondag, Oggendstemming. Dokumentêre programme lê haar na aan die hart en sy beskou dit altyd as 'n heerlike uitdaging omdat dit 'n goeie kombinasie van vaardighede insluit, o.a. onderhoudvoering, klankredigering en om 'n storie deur klank te vertel soos net radio, die teater van die verbeelding, dit kan doen.  Sy het 'n passie vir diere en om hulle storie namens hulle te vertel.  As sy nie werk nie, val sy graag in die pad vir 'n lekker lang sloertoer, en vir sielerus kies sy altyd koers see toe.

Anton Meijer

Radio: nuus en aktualiteit

Anton Meijer het sy radio- en joernalistiekloopbaan as 'n nuusleser by die kampusradiostasie TuksFM begin.  Daarna het hy by JacarandaFM as veldverslaggewer aangesluit, en later sy pos as die laatmiddagnuusleser beklee. Tussendeur het hy ook gewerk as 'n vryskut TV-regisseur by die SAUK. Hy is al die afgelope ses jaar verbonde aan PretoriaFM, as nuusskrywer en -leser vir die oggendspan. Hy staan ook gereeld in as omroeper en vervul ook sy taak as veldverslaggewer in die nuuskantoor. Oor naweke kyk hy rugby, doen hy houtwerk, en leer hy om te programmeer.

Mari Huson

Radio: nuus en aktualiteit

Mari Hudson is 'n ervare joernalis wat al met meer as 20 joernalistieke pryse bekroon is.  Sy het grootgeword en skoolgegaan in 'n klein Oos-Kaapse dorpie, en haar BSc-graad aan die  Universiteit van die Vrystaat en haar BSc-graad in Mediese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy het ervaring as koerantjoernalis (by Die Burger), tydskrifte (by New Media), in aanlyn media (sy was stigtersredakteur van Health24) en radiowerk (by KFM en RSG) asook televisiewerk (1000 Lives op SABC2). Sy het tans haar eie mediamaatskappy, The Good Doctors, met verskeie dokters, mediese fondse en privaat hospitale as kliënte. Sy lewer 'n diens aan hulle in die vorm van tydskrifte, webwerwe en e-nuusbriewe. Sy is ook betrokke by twee radioprogramme op RSG.

 

Brad Kirsten

Radio: Omroeper

Daar is min mense wat die geleentheid kry om hulle kinderdrome waar te maak! In my kinderdae het ek daarvan gedroom om eendag 'n radio-aanbieder te wees, en dan het ek my ma se hareborsel as mikrofoon gebruik om in te praat; vandag is dit reeds 25 jaar sedert ek my eerste radio-uitsending as 'n student in Bloemfontein behartig het. Elke weeksoggend maak ek luisteraars van Radio 729 AM – Radio Cape Pulpit – wakker wanneer ek die Get Up & Go Breakfast Show aanbied. Met vyf nominasies vir Suid-Afrikaanse radiotoekennings op my kerfstok en as wenner van 'n kontinentwye toekenning vir radio-joernalisme streef ek na uitnemendheid in die werk wat ek op en van die lug af vervaardig. As stemkunstenaar word my stem in radio- en TV-advertensies, Auris-oudioboeke en korporatiewe opleidingsvideo’s gehoor, en ek geniet hierdie uitdagings wat my horisonne verbreed en my 'n vars perspektief gee. Ek is 'n man, 'n pa en 'n entrepreneur wat daarvan hou om jong talent te mentor en platforms deur my Media Training-onderneming te skep om opkomende stemkunstenaars, radio-aanbieders en potsendinguitsaaiers op te lei, op te hef en bekend te stel.

Heinrich du Plooy

Radio: Omroeper

Die bekroonde radio-omroeper Heinrich du Plooy is reeds byna drie dekades in die radiobedryf. Hierdie veelsydige omroeper van Kaapstad is geliefd onder luisteraars wat gaande is oor sy warm persoonlikheid, droë sin van humor en spitsvondige uitlatings. Vra jy hom wat hom dryf, is sy antwoord duidelik: “Om mense gelukkig te sien, my familie, maar ook spertye, om probleme te identifiseer en te oorkom, asook om doelwitte te bereik.”  Negatiwiteit, mense wat mekaar afkraak en nie respek het vir mens en dier nie, is vir hom 'n teer saak en maak hom warm onder die kraag.  Hy was tien jaar lank werksaam by ETV, maar dit is radio wat nog altyd deur sy are vloei. Sedert 2011, vanaf dag een van Bok Radio/TV se bestaan, is hy betrokke by dié gewilde Kaapstadse radiostasie – by Bok Radio/TV is hy nie net omroeper nie, maar ook tegniese bestuurder. Sy kollegas beskryf hom as uiters professioneel; 'n omroeper wat nie skroom om wêreldklas onderhoude te voer nie. Op sy kerfstok is onderhoude met onder meer Ronan Keating, Connel Cruise, Smokie en Per Gessle – Roxette.

Riaan Grobler

Radio: Omroeper

Ek is in Pietersburg gebore en het daar grootgeword, waarna ek drama gaan studeer het by die TUT. My radioloopbaan het op 17 September 2005 begin toe ek in my tweede jaar was, by die destydse Radio Rippel 90.5FM. Deur die jare het ek myself as sanger gevestig en tot nou toe het ek sewe ateljee-albums landwyd vrygestel waarvan die mees onlangse een se titel Liefdeshartaanval is. As klein seuntjie het ek gedink daar is werklik klein, lewendige mensies wat in elke radio werk. Radio is in my bloed; dit is deel van my DNA. Ek was ook al aanbieder van Die Groot Ontbyt op TV, en Hollywood hier kom ek. In my vryetyd het ek verskeie TV-programme vervaardig. Tans is ek voltyds werksaam by PretoriaFM.

Petra Pansegrouw

Radio: Omroeper

Ek is 'n radio-omroeper/nuusleser en joernalis by Lekker FM 98.3. Ek was vir 17 jaar lank 'n staandemaglid in die weermag (Leër), waar ek 'n seiner was. Ek het soms parade-aankondigings gedoen, onder andere vir die hoof van die Leër. Soms moes ek by parades sing. My loopbaan in radio het in 2015 begin. Ek is 'n radio-omroeper met my eie program van 18:00 tot 21:00 elke weeksaand, en dan lees ek die nuus elke uur vanaf 10:00 tot 18:00. Ek doen ook die verkeersverslag deur die dag en in die middag die huistoegaantydprogram.

HunTer Leite

Radio: Omroeper

HunTer Leite maak jag op die publiek se harte met haar pragtige, dinamiese stem. Sy is 'n uitstekende radio-aanbieder en seremoniemeester, en haar lewende optredes is puik. Haar skitterende verhoogpersoonlikheid hou die gehoor vasgevang. Sy is tans 'n radiopersoonlikheid by 93.8 Mix FM asook Kosmos Stereo. HunTer het reeds by talle glansgeleenthede as SM opgetree, van Hayward Diamonds se BBP-funksies tot toekenningseremonies tot korporatiewe funksies van die regering, asook van die SAA, Denel, SANBS, Mej. Suid-Afrika, die Out of Africa-skoonheidkompetisie, en sy was ook 'n gas op Fiesta, Musiek Roulette en die DSTV-sportkanaal vir die SA-basketbal-kampioenskappe. Sy het ook al by Emperor’s Palace, die Atterbury Teater, die Barnyard Teater, Arto Teater en vele ander opgetree.

HunTer het ses albums vrygestel en elke liedjie daarop het 'n inspirerende storie daaragter. Sy is vir die Texas Sounds International Country Music Awards in Jefferson genomineer, en sy het in 2017 en 2019 die toekenning as Texas se beste vroulike sangeres gewen in 'n kompetisie waarin sangers van 17 lande meegeding het. HunTer is vir die Josie Music Awards 2019 in die VSA genomineer wat by Dollywood, Tennessee, gehou is, en sy het die World Music Artist of the Year 2019 gewen en is vir die 2021-toekenning genomineer. HunTer is ook in Nederland vir die Beste Radioprogram en Beste Radioaanbieder genomineer. In 2019 het HunTer die toekenning as Beste Moderne Vroulike Country-sanger in Nederland gewen, asook die toekenning vir die Beste Oorspronklike Rock-liedjie in 2021. HunTer is vanjaar weer na die VSA genooi waar sy vir nog toekennings by Texas Sounds en Nashville genomineer is.

Johann Smith

Skryf: Kreatief

Johann Smith is 'n skrywer van toneelstukke, lirieke en draaiboeke. Hy het die ATKV-prys vir die beste tienertoneelteks reeds vyf maal ontvang, asook 'n kykNET Fiësta vir sy verwerking van Die reuk van appels vir die verhoog. Hy deel ook 'n Woordveertjie en 'n Blou Fiësta van kykNET met 'n span skrywers vir die grensverskuiwende teaterprojek, DEURnis, waarvan hy 'n stigterslid, skrywer en regisseur is. Sy hart lê egter by die ontwikkeling van jong kunstenaars en hy is sedert 2004 gereeld by tienertoneel betrokke, waar 'n verskeidenheid van sy tekste en produksies al in die finaal van die ATKV-Tienertoneel meegeding het. Johann glo dat die uitvoerende kunste van onskatbare waarde kan wees om sosiale veranderinge te bevorder. Hy is dus die skrywer en medeskrywer van 'n verskeidenheid van kabarette wat sosiale kwessies aanraak, dikwels uit die oogpunt van die jeug. As 'n dosent in Statistiek gebruik hy ook die uitvoerende kunste om leer te bevorder. Studente word deur storievertelling gelei om hul vrees vir Wiskunde te oorkom. Hy skryf 'n Statistiek-handboek vir eerstejaarstudente wat moeilike konsepte met stories verduidelik.

Didi Potgieter

Skryf: Kreatief

Didi Potgieter woon op Potchefstroom. Haar eerste romanse, Leer my liefhê, het in Januarie 2014 die lig gesien en daarna het talle ander romanses, superromanses en novelles die lig gesien. Met soveel onvertelde stories in haar kop en hart, hoop sy om nog lank liefdesverhale te skryf. Didi het in 2018 die Imbali-toekenning van ROSA gewen vir Liefde vir 'n ridder en in 2021 vir As dit voel soos liefde. Didi was ook al drie keer 'n finalis vir die ATKV-Woordveertjieprys vir romanse.

Lindie van Gass

Skryf: Kreatief

Lindie hier! Ek vrek oor die magiese krag van woorde en hoe dit 'n plek vir ander kan gee om te behoort, of om hulle net vir 'n sekonde minder alleen te laat voel. Dit het by my gene begin. Ek is deel van 'n familie wat hou van stories – aan my pa se kant is die mense versot op lees en aan my ma se kant is toneel bobaas. Albei kante praat baie … En dan is daar ek. Nie heeltemal in die voetspore van my oumagrootjie, Wena Naudé, wat 'n baanbreker in die Afrikaanse toneel- en filmbedryf was nie, maar ek is ook lief vir stories. Ek is eintlik net 'n dromer van 20-iets wat hierdie hele lewe-ding probeer ontrafel. Twee jeugromans is in my koshuiskamer gebore en is self-gepubliseer om vir my Beleggingsbestuurshandboeke te betaal. Ek skryf grootliks vir ander en om te verander; spesifiek om te help om woorde vir die dinge in hulle harte en koppe te gee wanneer hulle self nie seker is hoe nie. Dit help mense liefhê, verwerk en leef, glo ek. Ek het net buite Mooinooi grootgeword, waar ek 'n redelike cliché-lewe van 'n kaalvoetplaasmeisie gelei het totdat ek Pretoorsdorp in 2013 vir my studie kom verken het en sedertdien noem ek dit “huis.”   Hier is paar kitsfeite oor my: Ek glo in meerminne, ware liefde, vriendskap en in myself. Ek is verslaaf aan wegneemcappuccino’s met kaneel bo-op. Ek hou van rooiwyn, witwyn. Enige wyn. Ek lag weird. En hard. En baie. Moontlik te veel. Ek is opgewonde oor amper alles.

Charles Smidt

Skryf: Kreatief

Ek is 'n sanger en liedjieskrywer vir die groep Beeskraal. Ek is ook 'n digter, skrywer en TV-vervaardiger. Ek vind groot genot in alternatiewe benaderings tot ons taal. Ek doen ook graag navorsing oor ons Afrikanergeskiedenis en versamel Afrikana.

Charlotte Fourie

Skryf: Kreatief

Ek werk tans by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, maar was vantevore 'n onderwyseres by Hoërskool Linden. Om 'n storie goed te vertel, is 'n vereiste vir sukses in die onderwys en ek het die afgelope paar jaar moeite gedoen om my lees- en skryfvaardighede te slyp. Om te skryf is om te ontsnap: my stories se inspirasie spruit normaalweg uit persoonlike uitdagings en met drie kleuters by die huis, is daar geen tekort aan inspirasie nie. Gelukkig kan ek die sleutelbord-sluise gereeld ooptrek!

Marzahn Botha

Skryf: Joernalistiek

Ek is 'n vryskut-fotojoernalis, joernalis en toergids uit Kaapstad wat gereeld artikels, berigte en rubrieke vir verskillende mediahuise lewer. Ek het al die wêreld deurkruis en genoeg inligting versamel om 'n boek te doen oor die onlangse moordende droogte wat my baie na aan die hart lê.

Ek is ook die dogter van 'n ou diamantboer van Potchefstroom/Rysmierbult en het altyd die verbintenis met die aarde gehad. My pa se uithouvermoë as dit moeilik gaan en hy nie diamante kry nie, het my baie geleer van uithou en aanhou en hoop, temas en emosies wat 'n boer en landelike gemeenskappe se lewenslyn in droogtetye is. Dit het nou kom reën en ek kry nog baie foto’s en stories van boere, maar mag ons nooit vergeet dat dit weer droog gaan wees nie – en hoe onverskrokke ons gemeenskappe geveg het tot hulle oor die ergste swaarkry van die droogte was.

In 2019 het ek weer, soos vantevore, in Hawaii gaan tennis afrig en het die nuus dopgehou vir stories en foto’s van die droogte. Toe ek in dieselfde jaar terugkom, het ek in my bakkie gespring en reistogte oor agterpaaie heen en met stofstrate langs aangepak, na die verste uithoeke van ons verskroeide platteland om die droogte met 'n versameling aangrypende hommeltuigfoto’s en nabyskote van mens, dier en die landskap te dokumenteer.

Saam met hierdie hartseer verhale, dokumenteer ek ook inspirerende verhale van boere wat, gewurg deur die droogte en gekniehalter deur die owerhede, volhard in hulle hoop op uitkoms en 'n toekoms vir hulle kinders en vir hulle kinders se kinders.

Meer omtrent Marzahn: Sy besoek plase en plekke in groot dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en die Vrystaat, waar die reën soms vir jare wegbly. Die grootste gedeelte van die versameling van foto’s is midde-in die droogte geneem, maar daar is ook foto’s ingesluit nadat die reëns gekom het en die verligting vir die boere en hulle families 'n groot en emosionele ding was.

Dit is 'n fotoversameling wat 'n stukkie vertel van die verdriet wat die groot ramp meegebring het en waarvan die boere nou nog herstel, ander hulle plaashekke moes toemaak en van sommiges wat heeltemal moed opgegee het. Maar die hoop beskaam nooit nie. Ons boere beur voort want daar is altyd hoop en die reën wat vir sommiges gekom het.

Ons boere is ook sterk, of soos die boer, Gerhard Visser, van Kenhardt sê: “Die sagste ding aan 'n boer se lyf moet sy tande wees.”

Dawid Brand

Skryf: Joernalistiek

Om met woorde en taal te werk en te verseker dat 'n boodskap akkuraat en foutloos oorgedra word én die trefkrag het wat die teikenmark vereis, vra kopkrap, flinkdink en hope navorsing. Mense is my passie en ek glo elke mens het 'n storie wat voor die grondlegging van die aarde aan hom of haar toebedeel is. Dis my voorreg om dié stories te ontgin en te vertel.  

Meer oor Dawid: Dawid het 'n BA-graad in Kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit behaal en beskik oor meer as twee dekades se ervaring en honderde berigte en artikels het uit sy pen verskyn – digitaal én gedruk, Afrikaans én Engels. Sy werk het al verskyn in onder meer Rapport, Beeld, Rooi Rose, Lééf, Lig, Flink (FAK), Taalgenoot, Solidariteit Tydskrif, en élan (Medihelp) en hy skryf ook vir Maroela Media. Dawid is benewens joernalis ook 'n grafiese ontwerper wat reeds vir 15 jaar as Aksent Media sake doen. Lees gerus meer by dawidbrand.co.za of aksentmedia.co.za

Ek is mal oor: die deel van iemand se storie – of dit deur middel van skryf óf ontwerp is; die towerkuns van taal en woorde; die geluid van 'n drukpers wat versnel en 'n gedrukte produk in jou hand; die reuk van varsgemaalde koffie; die heiligdom van my gesin; die warmte van 'n kaggel; en die simfonie van reën op die dak.

Ek het 'n wrewel in: besige winkelsentrums; lang stemnotas; betekenislose vergaderings; sinlose plasings op sosiale media; om 'n bril te dra; en slordigheid.

Keina Swart

Skryf: Joernalistiek

Keina het haar meestersgraad (cum laude) in Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en daarna vir twee jaar by Beeld in Pretoria gewerk, hoofsaaklik as hofverslaggewer. Daarna het sy platteland toe getrek agter die liefde aan en in Bela-Bela (die ou Warmbad) nesgeskop en by die plaaslike koerant, Die Pos, ingeval. Sy is die afgelope 21 jaar redakteur en mede-eienaar van dié streekkoerant. Die koerant is reeds twee keer onder haar redakteurskap met 'n ATKV-Mediaveertjie as beste streekskoerant in die land vereer. In haar 27 jaar by die koerant is sy vier keer deur Sanlam vereer as een van die land se toptienjoernaliste en ook as rubriekskrywer van die jaar aangewys. Sy het drie kinderboeke gepubliseer: Wat dokter Snollieneus nie kan doen nie (2007), Hoekom praat grootmense so snaaks? (2010; Protea Boekhuis) en Bleek Bennie se Woeste Hoes (2011; Protea Boekhuis), asook een jeugroman Bloujaar (2014; Protea Boekhuis) en twee bundels met rubrieke, Die potlooddief se bruid en ander stories (2015; Protea Boekhuis) en Koms van die biblioteekbus (2016; Naledi). Haar bydraes is in verskeie bundels opgeneem, waaronder Spoorvat: Jeugherinneringe van Afrikaanse Skrywers (saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn; Lapa Uitgewers 2013), Bly, 'n bundel met kortverhale van bekende Suid-Afrikaanse skrywers (US Woordfees; 2016), Rympies vir kleintjies en kleuters (saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit; Tafelberg, 2017) en Hartlam: Kortverhale oor die liefde (saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair, Tafelberg, 2017). Hoekom praat grootmense so snaaks? is in 2011 met 'n ATKV-Woordveertjie vir kinderlektuur bekroon as die kinderboek van die jaar. Keina tree by skole op waar sy kinders motiveer om te lees, asook by leeskringe reg oor die land, en het al verskeie kere by die bekende Woordfees op Stellenbosch opgetree, asook by die Boekejol in Polokwane en Pretoria en by die Innibos-fees in Nelspruit.

Daniélle Kleyn

Skryf: Joernalistiek

Daniélle Kleyn het haar BCom-graad in Ekonomie en Regte in 2020 verwerf en is tans besig met die finale jaar van haar LLB. Daniélle skryf vir verskeie ondernemings en publikasies, onder meer vir die saketydskrif, Stigter, en hoop om eendag 'n kortverhaal in haar moedertaal te publiseer.

Jandri Barnard

Skryf: Joernalistiek

Ek het reeds op skool en universiteit publikasie-artikels vir elke instansie se koerant geskryf, en het ook kopieskryfwerk gedoen. Ek glo skryf is 'n uitlaatklep vir my kreatiwiteit en passie om interessante onderwerpe en inligting aan die publiek oor te dra. As vryskutjoernalis skryf ek vir verskeie nasionale publikasies en fokus op artikels oor mense se passie, reis en toerisme, sowel as oor kos en gesondheid. Ek praktiseer ook as dieetkundige en werk aan my PhD.

Hanro Fritz

Video

My naam is Hanro Fritz, wie en wat is ek? Ek is iemand wat sy passie uitleef deur video’s. Die natuur, geselskap en avontuur is al wat ek nodig het. Ek is 'n eenvoudige ou wat mense gelukkig wil maak deur video’s.

Erentia Bedeker

Video

Erentia Bedeker is 'n kunstenaar, skrywer, animeerder en filmmaker uit Namibië. Sy het grootgeword op Khorixas, met die wye oop vlaktes en koppies van Damaraland as haar speelgrond. Sy het Drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en daarna haar honneursgraad in Afrikaans en Nederlands voltooi asook ’n nagraadse diploma in onderwys deur UNISA verwerf. Sy is een van die stigters en direkteure van Wreckless Creative, 'n tweemanstudio vir grafiese ontwerp en animasie. Sy het reeds vier kortfilms gemaak waarvan Die berggans het ’n veer laat val en Ruby & Roach al by verskeie internasionale filmfeeste vertoon is. Van haar gedigte is opgeneem in Nuwe Stemme 6 asook in twee uitgawes van Penseel (2013/2014) terwyl sy nog student was. Deesdae waag sy haar hand aan die skryf van kortfilms. Sy dra die Namib in haar hart terwyl sy vir eers in die stad moet woon. Sy het baie klippe uit Damaraland in haar tuin en studio wat haar aan die aarde geanker hou. 

Ruan Mynhardt

Video

Ek is Ruan Mynhardt, 27 jaar oud en woon saam my vrou en ons twee honde in Potchefstroom. Ek is bevoorreg om 'n hele klomp kreatiewe vriende te hê en floreer daarin om saam projekte aan te pak. Ek het Grafiese Ontwerp aan die NWU Potchefstroom-kampus studeer en het in multimedia-ontwerp (videografie, animasie ens.) gespesialiseer. Ná my studie het ek vir 'n plaaslike maatskappy wat meer in die videobedryf betrokke is, gewerk. Op 25-jarige ouderdom het ek die kans gewaag om my eie besigheid te begin, ENCO Creative, waar ek spesialiseer in illustrasie, grafiese ontwerp, animasie en ook videografie. Een van my besigheid se beginsels is om met soveel mense as moontlik saam te span, ongeag of hulle kreatief is of nie. Ek het 'n passie vir mense en om stories te vertel. 

Arné Boshoff

Video

Ek het sedert 'n vroeë ouderdom 'n brandende passie gehad om my eie, kreatiewe en boeiende stories op film vas te lê.  Ek het in 'n milieu grootgeword waar kreatiwiteit aangemoedig, ontwikkel en bevorder is. Na afloop van my skoolloopbaan het ek met my vierjaarstudie in film, televisie en draaiboekskryf aan die gesogte Open Window Institute begin.  Ek het my baccalaureusgraad in 2020 voltooi en my honneursgraad in 2021 verwerf.     My honneursfilm getiteld Onvermydelik het verskeie toekennings gewen, insluitend beste Suid-Afrikaanse studentefilm 2021 by die Jozi-rolprentfees, asook goue en silwer trofeë by die Loeries 2021. Die film is trots Afrikaans en fokus op die dieper, onontginde verhale in die Afrikaner-kultuur en -geskiedenis.  Vanweë sy onapologetiese Afrikaner-identiteit was die film 'n groot sukses. My film het vir my 'n werkgeleentheid by 'n filmateljee in Kaapstad besorg. My taak was om een ​​van die bekenste Afrikaanse skrywers, CJ Langenhoven, se werk vir die grootskerm aan te pas. Met die afronding van die draaiboek het ek my stem in rolprentvervaardiging gevind – ek wil rolprente maak wat nie net ten doel het om die Afrikaanse kultuur te bewaar nie, maar om die oorsprong daarvan te verken en deur film vir die wêreld toeganklik te maak. My loopbaandoelwit is om 'n dryfveer in Suid-Afrika se ontwikkelende filmbedryf te word en 'n bydrae te lewer tot die uitbou en behoud van ons kultuur.

Michael Odendaal

Video

Ek is 'n jong, passievolle Suid-Afrikaanse filmregisseur en videograaf wat absoluut brand om saam met die groot filmhelde op die rooi tapyt te loop. Tydens my studie by AFDA in Kaapstad het ek verskeie kortfilms gemaak wat aan internasionale filmfeeste deelgeneem het. Film is absoluut my passie. Om hierdie droom waar te maak (in terme van finansies), het ek 'n videografie-onderneming begin wat troufilms en korporatiewe advertensies vervaardig. Ek het ook onlangs 'n YouTube-kanaal begin wat handel oor film, videografie en selfontwikkeling, om hopelik ander filmmakers en kunstenaars in Suid-Afrika te help groei en ontwikkel. Tans werk ek aan my eerste onafhanklike vollengte film en ek sien uit om dit met die wêreld te deel.

Chantelle Loots

Foto: Leefstyl

Ek het reeds as 18-jarige my eerste filmkamera gekoop en was dadelik deur dié skeppende kunsvorm gefassineer. Ek het in 2003, ná die geboorte van my drieling, die sprong gewaag om my drome vlerke te gee en voltyds fotografie begin beoefen. Ek is 'n totale ekstrovert – borrelend, mense lig my gemoed, gee my energie en inspireer my sodat elke foto wat ek neem 'n storie vertel. Met my kamera in my hand en 'n passie vir mooi beligting (wat my soms teen duisend myl per uur met 'n onkenbare entoesiasme dryf) gee ek betekenis aan emosie op foto’s. ’n Gevoel wat ek soms sukkel om in woorde te omskryf. My gunstelingfoto’s is dié wat ek volgende gaan neem, want ek ontwikkel daagliks as fotograaf en as mens, juis omdat ons vandag in so 'n vinnig veranderende wêreld leef. My kamera is my oog waarmee ek daagliks prentjies raaksien en dit uiteindelik soos 'n kunstenaar met verfkwashale in my foto’s vasvang. Ek streef daarna om my passie vir lig, mense en emosies op 'n kunssinnige wyse vas te vang en selfs die senuweeagtigste kliënte voor my lens op hulle gemak te laat voel. As vryskutfotograaf het ek uitstekende vaardighede wanneer dit by kommersiële, mode-, natuur- en portretfotografie, pasgeborenes, troues, talle voorblaaie en CD-omslae kom.

Rudi Silbermann

Foto: Leefstyl

My naam is Rudi Silbermann. Ek is 26 en is van Pretoria. Ek is 'n dinamiese besigheidsman, entrepreneur, trou- en leefstylfotograaf en visuele kunstenaar. Ek het my passie en liefde vir fotografie reeds op 'n baie jong ouderdom ontdek. Die kunste was en is steeds groot in my familie. Ek is die eienaar en fotograaf van Silber Studio asook mede-eienaar en fotograaf van The Silbermann Collective. Met vyf jaar se ondervinding in hierdie industrie het ek al die voorreg gehad om saam met verskeie groot ondernemings sowel as 'n paar bekendes in die industrie te werk. Ek is bietjie baie van 'n kamera-“nerd”, is lief vir kuns en geniet graag 'n glas rooiwyn langs 'n kampvuur. In my vrye tyd waardeer ek 'n kunsfilm wat visueel mooi is, ek teken graag, of gaan soms op 'n staproete in die natuur as ek avontuurlustig voel. Laastens, baie dankie vir die nominasie en geleentheid.

Jamie Jonk

Foto: Leefstyl

Ek is Jamie Jonk en ek is al 13 jaar lank in die fotografiebedryf. Ek het aanvanklik fotografie in Amerika beoefen, maar ek het vir 'n vakansie teruggekom Suid-Afrika toe, my vrou ontmoet, wat ook 'n fotograaf is, en besluit om hier te bly. Ons het net geweet ons albei wil in die fotografiebedryf wees, en saam het ons 'n besigheid begin. Ons was aanvanklik saam in die modebedryf en eers nadat ons getroud is, het ons besef hoe groot leemte daar in die troubedryf vir betroubare fotograwe is en so ons fokus op troues begin vestig. Dit was harde werk om tot op hierdie punt te kom, en almal wat in die industrie is, sal kan saamstem dat dit nie maklik is nie. 'n Mens gee baie familietyd prys, want 'n mens werk oor die algemeen oor naweke. Gelukkig is dit ons passie, ons geniet mense en ons geniet dit om saam met mense hulle liefde te ervaar. Troues is vir ons nie net 'n werk nie; ons spandeer baie tyd saam met ons bruidspare om vir hulle 'n onvergeetlike ervarings op hulle spesiale dag te gee en terselfdertyd ook tydlose foto’s te neem. Ons hou nie daarvan om ons eie beuel te blaas nie, want ons kreatiwiteit kom van God af. Ons beleef God se hand in elke foto wat deur ons geneem word; elke sonsondergang wat voor ons afspeel, is 'n skildery van God, en dit is absoluut 'n groot voorreg om dit met ons kameras te kan vasvang. Ons hou daarvan om uniek te wees en die grense so ver moontlik te verskuif. Ons geniet dit vreeslik om ons kliënte se troudag in 'n ware sprokiesromanse te omskep.

Bianca Appelgryn

Foto: Leefstyl

My liefde vir fotografie was van die begin van my lewe reeds daar. In 2014 het ek Bianca Smit Photography begin. Ek was eers 'n troufotograaf, waarna ek in 2018 van rigting verander het en in ateljeefotografie begin spesialiseer het – onder meer die fotografie van kinders. Ek het 'n groot voorliefde vir kinders en die vreugde wat hulle na 'n mens se lewe bring. Fotografie is my absolute passie, en ek is geseënd om dit voltyds te kan doen. Ek het in 2015 met my sielsmaat getrou en in Junie 2021 het ons ons dogtertjie verwelkom.

Jolande Coetzee

Foto: Leefstyl

My naam is Jolande Coetzee, ek is 34 en is van Pretoria. Ek is 'n dinamiese besigheidsvrou, entrepreneur, trou- en leefstylfotograaf, grafiese ontwerper, skrywer en visuele kunstenaar. Ek het in 2011 my BA-graad in Visuele Kommunikasie aan Open Window se School of Visual Communication verwerf. Ek is ook die direkteur en fotograaf van Silber Studio, die mede-eienaar en fotograaf van The Silbermann Collective en mede-eienaar van Dreamy Duchess. Met amper meer as 'n dekade se ondervinding in dié industrie het ek die voorreg gehad om saam met verskeie groot ondernemings asook 'n paar bekendes in die industrie te werk. Ek is 'n dromer wat lief is vir koffie en wyn, en ek het 'n passie en talent vir enige iets kreatief. Ek hou baie van reis en om nuwe plekke te ontdek en te ervaar. In my vrye tyd kan julle my met my neus diep in 'n boek vind, besig om te skryf, met 'n verfkwas in die hand, of op een of ander avontuur. Ek geniet dit om saam met geliefdes tyd deur te bring en om mense se liefde en kosbare oomblikke agter die kamera vas te vang. Baie dankie vir die nominasie en geleentheid.

Cat Schramm

Foto: Aktueel

Ek is Cat Schramm en ek spesialiseer al reeds vanaf 2010 in die fotografie van troeteldiere. Ek het in 2018 'n inisiatief genaamd Shoot For Food begin. Dit is hier waar ek my talente en passie gebruik om troeteldierskuilings met kos, komberse, speelgoed en lekkernye te help. Ons almal het nie altyd kontant om 'n bydrae te maak nie, maar ons almal kan ons talente inspan om 'n verskil te maak. Hierdie inisiatief doen ek heeltemal vir die liefde van die saak – ek vra en kry geen geld vir my fotografie nie. Dit is bloot my manier om terug te gee. Ek het ook in Januarie 2022 in 'n berig van Maroela Media oor hierdie Shoot For Food inisiatief verskyn. Hierdie inisiatief is die begin en die einde van my dae, dit is waar ek my vreugde vind. 'n Mens kan nie alles doen nie, maar elke mens kan wel iets doen, maak nie saak wat nie.

Jaco Wolmarans

Foto: Aktueel

Ek is 'n oud-joernalis en landbouverslaggewer. Laasgenoemde is iets wat ek nie soseer gekies het nie, maar 'n veld wat mý eerder gekies het. Vandag is ek pens en pootjies in die boerderybedryf as fotograaf en videograaf. Ek konsentreer op sosialemedia- en bemarkingsmateriaal vir kommersiële boerekliënte. Dit sluit in ateljeeskote van vrugte, boordskote van die rou produk, en natuurlik die mense en die pragtige landskappe waarin alles verbou word. Daar is min dinge wat met sonsopkomste in 'n boord of wingerd kan meeding – my kantoor vir die dag!

Johan Orton

Foto: Aktueel

Ek is Johan Orton, 'n professionele fotojoernalis  en sportfotograaf van Nelspruit.  Ek doen ook vryskutfotografie vir kliënte soos Colorsport UK, SASPA, Rugby365, Rapport, Caxton Media en het ook al verskeie wêreldsportgeleenthede afgeneem. Sedert 2011 het ek 37 Springboktoetse gedek wat natuurlik die Rugby Wêreldbeker-eindstryd in Japan 2019 insluit. Ek het die voorreg gehad om tydens die 2019 se Wêreldbekerrugbytoernooi 'n hotelkamer met die legendariese fotograaf Wessel Oosthuizen te deel. Oom Wessel is my mentor en ek het al ongelooflik baie by hom geleer.  Ek het ook die 2017-Wimbledon-tennistoernooi gedek asook die Match of Africa tussen Rodger Federer en Rafael Nadal. Van my fotopublikasies sluit in die voorblaaie van die Beeld, Die Burger, die SA Rugby Magazine sowel as die voorblad van die Rapport. Verder is daar ook van my foto’s in bekende boeke soos Koerantman, Portrait of Rugby en die Rugby World Cup Action gepubliseer. 

Piet Smit

Foto: Aktueel

My naam is Piet Smit en ek is in Kaapstad woonagtig. Ek is al vir die afgelope 26 jaar 'n voltydse nuusfotograaf en spesialiseer in nuus-, en sportfotografie. Ek beskik ook oor jare se ondervinding in kommersiële, trou- en portretfotografie.  Verskeie van my foto’s word meer as gereeld in die hoofstroommedia gepubliseer en sluit in onder andere die volgende in: Die Burger, Cape Argus en Cape Times in. En verskeie sosialemediaplatforms publiseer my foto’s ook op 'n gereelde basis. Verskeie van my fotografiedienste het ek in Adelaide in Australië, Vancouver in Kanada, Nairobi en Kenia gelewer. My werk sluit enige iets in – ek spot altyd en sê: “van die ‘pavement’ tot die parlement”. Ek het ook al verskeie provinsiale en nasionale toekennings vir my werk ontvang en my motto is al vir jare lank: “A photograph speaks a thousand words.” Ongelukkig word ek, met nuusfotografie, op 'n daaglikse basis met die harde werklikheid van vandag se samelewing van pyn, lyding, hartseer, haat en geweld gekonfronteer.

Pieter Pieters

Foto: Aktueel

My naam is Pieter Pieters en ek is die stigter en die professionele fotograaf van Pieter Pieters Photography wat in Klerksdorp, Suid-Afrika, gebaseer is. Ek is ook gelukkig genoeg om vir werk nasionaal sowel as internasionaal vir groot handelsmerke en maatskappye te reis. Alles wat ek tot op hede bereik het, was slegs te danke aan God se genade in my lewe.

Verder is ek ook die wenner van verskeie nasionale en internasionale toekennings soos die African Awards Competition in 2021 waar ek, deur internasionale beoordelaars, beskou word as een van die vyf beste fotograwe in Suid-Afrika en een van die 200 beste fotograwe ter wêreld.

Pieter Pieters Photography maak vir meer as 36 fotografiestyle voorsiening, maar is veral vir die fotografie van motors bekend, en het al die aandag van handelsmerke soos BMW en Land Rover getrek.

Pieter Pieters Photography is ook trots om 'n ambassadeur vir GODOX Suid-Afrika te wees. Ons het in 2010 met 'n droom begin om die fotografiewêreld met passie, kreatiwiteit en harde werk te verower, en ons is besig om dit te doen.