Die geskiedenis leer daar is altyd 'n toekoms moontlik
- Juran van den Heever -
Winston Churchill het gesê dat hoe verder jy in die toekoms wil insien, hoe verder moet jy in die verlede terugkyk. Ons voorouers het in werklikheid deur 'n sterk netwerk van helpmekaar- en selfhelporganisasies op kulturele, ekonomiese, maatskaplike en politieke terreine 'n toekoms vir die nageslag gebou. Ons kan net soos ons voorouers, soos gewone mense in ongewone omstandighede, klein begin bou aan buitengewone wonderwerke.
Ons grootste uitdaging is om verby Zuma en die huidige werklikheid 'n nuwe toekoms raak te sien. Ons moet self bepaal watter toekoms ons wil hê. Ons het verlede jaar die #OnsBou-veldtog van stapel gestuur en dit het 'n ongelooflik positiewe invloed op mense gehad. Vanjaar wil ons daarmee voortgaan en 'n beroep op mense doen om saam met ons te bou. Die vakbond se vermoë om by voortdurend veranderende sosio-politieke en ekonomiese omstandighede en eise aan te pas, was oor 'n tydperk van meer as 'n eeu nog altyd sy behoud. Help Solidariteit om sterk organisasies te skep, en neem aktief deel aan die vorming van 'n toekoms waarin jy ook blywend, vry, veilig en voorspoedig sal kan leef.
Solidariteit bou sedert 1902 'n toekoms en vier ook vanjaar sy 115de bestaansjaar.
Ons bou die volgende:
Goeie werk
Solidariteit beskerm sy lede al sedert 1902 in die werksplek. Ons groei saam met ons lede in hul behoeftes. So het die eertydse Mynwerkersunie gegroei tot die vakbond Solidariteit. Ons bou 'n verhouding van vertroue om seker te maak jy is nie alleen in onsekere tye nie.
Die belangrikste les van 200 jaar se geskiedenis is dat die toekoms nooit verby is nie. Daar kom altyd weer 'n toekoms tevoorskyn
Opleiding
Solidariteit sien homself as 'n bouer wat al vir 115 jaar saam met geesdriftige lede (bouers) besig om aan 'n toekoms te bou. Daarom bou Solidariteit onverpoosd aan opleidinginstansies en studiefondse, want opleiding skep die toekomsmoontlikhede in jou en jou kinders se werk.
Die hede is nooit permanent nie, en die toekoms nooit vas nie. Die hede is maar net die brug tussen die verlede en die toekoms.
Oppergesag van die reg
Solidariteit glo sedert 1902 dat geregtigheid in die werkplek moet geskied. Daardie kerneienskap is uitgebou en vandag behaal Solidariteit talle welslae in die howe. Hierdie welslae strek van geregtigheid in die werkplek tot die stryd teen die onbillike toepassing van regstellende aksie.
Ons toekoms gaan bepaal word deur wat ons vandag doen, want net een geslag wat dinge maar laat gaan, kan alles wat deur ons voorouers tot stand gebring is, tot niet laat gaan
Groeiende selfstandigheid
Mense het al gesê dit sal 'n wonderwerk verg om 'n oplossing vir ons probleme te bewerkstellig. Dit is beslis reg. Maar wonderwerke val nie uit die lug nie; 'n mens spel dit “wonderWERK”. Wonderwerke word gebou – dit gebeur nie vanself nie.
Ons sien die probleme raak, maar kyk nie daarteen vas nie, want ons sien ook ons gemeenskap se suksesse, gebruik die geleenthede wat daar is en skep nuwe geleenthede. Ons werk aan groeiende gemeenskapsfederalisme. Dit beteken dat ons aan oplossings op alle gebiede werk, vanaf onderwys, opleiding, maatskaplike kwessies, veiligheid, omgewing, media, taal en kultuur, erfenisbewaring en geskiedenis tot groter selfstandigheid op munisipale vlak.
Dit help nie om net op die toekoms te wag nie, want dan kry jy een wat ander vir jou beplan.
Afrikaans
As die reg op moedertaalonderrig en die regte van taal- en kultuurgemeenskappe moet swig voor toeganklikheid mag ons ons ontsteld wees. Ons kan dit egter nie daar laat nie. Dit moet ook as bevrydend ervaar word omdat Afrikaans nou terug is in die hande van die gemeenskap. Die klaarblyklike einde van hierdie staatsera vir Afrikaans is die geboorte van 'n nuwe era – nie meer in afhanklikheid van die staat nie, maar in die hande van die gemeenskap.
Die enigste toekoms wat jy kan voorspel, is die een wat jyself bou.
Die Solidariteit Beweging
Die Solidariteit Beweging is bekend vir sy selfdoeninstellings wat deurgaans op die been gebring word. Dié instellings fokus elkeen daarop om 'n spesifieke leemte in die gemeenskap te vul, hetsy dit welsyn, burgerregte of arbeidsake is. Elk van hierdie instellings is unieke voorbeelde van ongelooflike potensiaal wat ontsluit word en behoeftes waaraan daar voldoen word.
Solidariteit het reeds 16 jaar gelede begin bou om 'n Solidariteit Beweging te bou.
Die Solidariteit Beweging bestaan uit 18 instellings, insluitend die vakbond Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum, en Solidariteit Helpende Hand, met 'n gesamentlike ledetal van 350 000 lede.
Ons voorouers het hulle kant gebring toe dit hulle beurt was, maar elke geslag is verantwoordelik vir sy eie tyd, en dit is nou ons beurt.
#BouSaam. Sms BOUSAAM na 34802 (R1)
Legkaartstukke wat Solidariteit Beweging vorm
Deur Cilleste van Dyk
Was jy al ooit verward oor hoe instansies soos die Solidariteit-vakbond, AfriForum of Helpende Hand met mekaar verband hou? Is hulle ooit deel van dieselfde organisasie, en wat is die Solidariteit Beweging dan? Jy is nie die enigste persoon wat wonder nie.
Die Solidariteit Beweging is 'n sambreelorganisasie wat 'n klomp verskillende instansies insluit. Die doel van die Beweging is dat jy, deur middel van die funksies wat die onderskeie instansies vervul, in alle fasette van jou lewe (werk, kultuur, burgerregte, maatskaplike ondersteuning, gebalanseerde inligting in die media ensovoorts) bygestaan word.
Die sinergie van die Solidariteit Beweging is in ons mense! Die instansies wat deel vorm van die Beweging, maar wat ook elkeen ‘n onafhanklike instansie is wat elkeen in sy eie rigting groei en sy eie plek losstaande van die ander instansies volstaan, is die volgende:
- Die vakbond Solidariteit veg vir die beskerming van jou werk
- AfriForum sien om na burgerregte
- Solidariteit Helpende Hand sorg vir maatskaplike bystand
- Sol-Tech bied hoogstaande ambagsopleiding
- Akademia is die Solidariteit Beweging se tersiêre opleidingsinstansie
- Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) bied finansiële advies en produkte
- Maroela Media is ’n onafhanklike digitale mediamaatskappy
- Kraal Uitgewers is ’n uitgewery wat boeke van historiese en aktuele belang publiseer
- Die FAK is verantwoordelik vir kulturele beskerming en opheffing.
Solidariteit
Die Solidariteit Beweging is uit die vakbond Solidariteit gebore, en die vakbond is dus as ‘t ware die ouboet van die Beweging. Wanneer daar van “Solidariteit” gepraat word, is dit dus gewoonlik ‘n verwysing na die vakbond self. Solidariteit is gesetel in die Christelike tradisie van die vakbondwese en het dus 'n unieke benadering tot vakbondwese wat verskil van Cosatu s’n. Die hooftaak van die vakbond Solidariteit is om werksekerheid te bied, om diensvoorwaardes te verbeter en om onreg in die werkplek uit te wis. Daarbenewens het die vakbond 'n Boufonds wat die finansiering van instansies soos Akademia, die Kampus en Sol-Tech moontlik maak; dié instansies sorg weer op hul beurt vir gehalte-opleiding sodat jy suksesvol kan wees in jou werkplek. Solidariteit het ook 'n Regsfonds waarmee daar namens ons lede in regstellendeaksiesake in Suid-Afrikaanse howe geveg word.
Besoek www.solidariteit.co.za vir meer inligting.
Solidariteit Helpende Hand
Solidariteit Helpende Hand lewer diens aan die gemeenskap, maar met die spesifieke doel om mense uit armoede te lei en om te keer dat mense in armoede verval. Helpende Hand glo nie aan opheffing deur toelaes nie, maar aan opheffing deur opleiding. Die fokus van Solidariteit Helpende Hand is dus beurse, beroepsleiding en werkplasing. Helpende Hand het ook takstrukture landwyd wat diens aan die gemeenskap lewer.
Besoek www.helpendehand.co.za vir meer inligting.
AfriForum
AfriForum is 'n burgerregte-organisasie. Die hooftaak van AfriForum is om die burgerregte van sy lede en hul gemeenskappe te beskerm. Dit word gedoen deur regte op te eis en regte te beskerm. Dit word nie net in die howe gedoen nie, maar ook deur strukture in gemeenskappe te vestig.
Besoek www.afriforum.co.za vir meer inligting.
Sol-Tech
Sol-Tech lei studente in ambagte op. Dié instelling is geregistreer as 'n instelling vir verdere onderwys en opleiding en is by die tersaaklike Setas geregistreer. Sol-Tech fokus daarop om studente in skaars en kritieke vaardighede op te lei.
Besoek www.sol-tech.co.za vir meer inligting.
Akademia
Akademia is 'n privaat Afrikaanse afstandonderwysinstelling wat hoëronderwyskwalifikasies van gehalte teen 30% tot 50% goedkoper as die res van die mark bied. By Akademia kan studente hulle nauurs bekwaam in skaars beroepsrigtings en hulle indiensneembaar maak in 'n groeiende ekonomie.
Besoek www.akademia.ac.za vir meer inligting.
Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)
Lede van Solidariteit kry deur Solidariteit Finansiële Dienste bykomende produkte en dienste teen spesiale pryse. Die hoofproduk van die maatskappy is korttermynversekering. 'n Reeks ander finansiële produkte word ook deur die maatskappy aangebied. Die winste van die maatskappy word gebruik om ontwikkelingsprojekte van die Solidariteit Beweging te finansier.
Besoek www.solidariteit.co.za/sfd/ vir meer inligting.
Maroela Media
Maroela Media is 'n Afrikaanse digitale mediamaatskappy wat nuus en ander inligting gratis publiseer. Maroela is tans die grootste Afrikaanse nuuswebwerf met sowat 1,3 miljoen maandelikse lesers. Maroela Media handhaaf ‘n aktiewe profiel op sosiale media, en vervaardig ook klankproduksies vir Afrikaanse gemeenskapsradiostasies. Verskeie projekte vir die bevordering van Afrikaans word ook jaarliks deur dié mediamaatskappy aangepak.
Besoek www.maroelamedia.co.za om Maroela Media te lees.
Kraal Uitgewers
Kraal Uitgewers is ‘n uitgewery wat boeke uitgee oor die Afrikanergeskiedenis en oor onderwerpe wat vir die Afrikaner aktueel is. Die uitgewery gee ook boeke uit wat waarskynlik nie deur ander uitgewerye uitgegee sal word nie, maar waarvan Kraal wel die waarde insien. Die doel van die uitgewery is om Afrikanergeskiedenis gebalanseerd aan te bied en om krities, dog positief om te gaan met aktuele sake wat Afrikaners raak.
Besoek www.kraaluitgewers.co.za om te sien watter boeke Kraal beskikbaar het.
Onderwys en opleiding gee vlerke aan die toekoms
Ons hier by Solidariteit hou ons daarmee besig om hoop te skep: Ons skep die hoop wat nodig is om vry, veilig en voorspoedig te kan lewe, net hier in Suid-Afrika. Die Solidariteit Beweging het verlede jaar sy “Helpmekaar 2020”-vyfjaarplan van stapel gestuur. Onderwys en opleiding is ’n baie belangrike komponent wat noodsaaklik is om hierdie plan suksesvol uit te voer.
Solidariteit is ’n helpmekaar-organisasie waar lede mekaar help om as’t ware steen vir steen aan ’n toekoms te bou. Daardeur wil ons hoop skep en hoopdraers wees in ’n land waar almal bekommerd oor die toekoms is.
Die onderwys-en-opleiding-bousteen wat die beweging vir hierdie bouplan gebruik, gaan oor die volgende vyf jaar sowat R1 miljard in Afrikaanse opleiding belê. Die beweging se onderwysplan strek van kleuterskoolvlak tot op tersiêre vlak waar 'n volwaardige private Afrikaanse universiteit in wording is. Die belegging maak voorsiening vir voedingsprojekte vir 4 000 kleuters by 60 kleuterskole landwyd; die verskaffing van 25 000 skooltassies vir graad 1’s; ondersteuning aan Afrikaanse skole; die uitbou van die tegniese kollege Sol-Tech; die verlening van steun aan honderde onderwysers wat deur Aros opgelei gaan word; en die ontwikkeling van Akademia op sy pad na 'n wêreldklas- private Afrikaanse universiteit. 'n Studiefonds, wat teen 2020 altesame R160 miljoen sterk sal wees, maak ook deel uit van die onderwysplan.
Die Helpende Hand-studiefonds het in 2016 reeds 'n mylpaal behaal met rentevrye studiehulp wat aan 1 250 studente in een jaar toegeken is! In totaal het bydraes van lede dit moontlik gemaak dat Solidariteit Helpende Hand oor die afgelope vyf jaar 5 210 studente met studiehulp kon bystaan.
Flip Buys sê gereeld dat ekonomiese vryheid begin by onderwys en opleiding, nie net wanneer jy op skool is nie, maar ná skool en tydens jou loopbaan ook. Lewenslange leer is een van die belangrikste doelwitte wat ons moet nastreef om werklik vry, veilig en voorspoedig te wees.
In vandag se snel veranderende wêreld verouder kennis en ondervinding blitsvinnig. Daarom verstaan mense wat jare lank suksesvol was nie hoekom hulle skielik begin sukkel in hul werk nie. Stagnasie is die dood in die loopbaanpot. Lewenslange leer is dus net so belangrik soos opleiding ná skool.
“Ekonomiese vryheid beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Ondersteuners van die vrye mark sien ekonomiese vryheid egter as die vryheid om jou eie ekonomiese besluite te neem, sonder inmenging deur die staat. Hierdie siening maak baie sin, maar net as mense se onderwys en opleiding goed genoeg was dat hulle aan die vryemarkekonomie kan deelneem (of mag deelneem) – dit is nie 'n resies wat iemand moet wen nie,” sê Buys.
Daarbenewens word kinders se geleenthede in die lewe deur die gehalte van hul onderwys en opleiding bepaal. Dit is waarom ons waarde aan 'n onderwysstelsel van hoë gehalte moet heg asook aan hoe ons universiteite bestuur moet word. Jyself moet aandag skenk aan jou lewenslange leer.
Die volgende is voorbeelde van waar die Solidariteit Beweging oral by gehalteonderwys en --opleiding betrokke is:
- Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) bied sedert 2009 studielenings aan studente wat ná skool wil gaan studeer. Hierdie lenings is 100% rentevry en is dus baie gesog onder ouers wat dit nie kan bekostig om hul kinders te laat studeer nie. Sover is meer as R120 miljoen in die vorm van studielenings aan verdienstelike Afrikaner-kinders uitbetaal.
- Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied 'n verskeidenheid van oplossings aan onderwysers, ouers en leerders wat wil verseker dat hulle die meeste uit wiskunde-onderrig put. Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW), een van die vakverenigings van die SOS, bied toegang tot gratis ekstra wiskundeklasse, aanlyn video’s sowel as vraestelle en werkkaarte vir hoërskool- en laerskoolleerders. Daarbenewens help die splinternuwe wiskunde app jou om daardie ekstra myl te stap.
- Akademia wat tans gebruikmaak van 'n hoëtegnologie-onderrigmodel wat dosente en studente in studiesentrums landswyd, in 'n virtuele studie-ruimte bymekaarbring.
- Sol-Tech – 'n privaat tegniese opleidingsinstelling.
- S-Leer – 'n gehalte- Afrikaanse opleidingsentrum wat professionele persone met CPD-punte en voortgesette leer bemagtig.
- AfriForum Jeug is die amptelike jeugvleuel van AfriForum, die burgerregte-inisiatief wat deur Solidariteit gestig is.
- Solidariteit Helpende Hande se tassie-projek poog om 'n onmisbare bydrae in kinders se lewens te maak en behoeftige graadeens in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.
- AfriForum is vir 'n tweede jaar betrokke by die Dink of Sink-debatskompetisie.
- AfriForum se SLIM-veldtog (Studeer en Leer In jou Moedertaal) moedig mense aan om hul moedertaal as opleidingstaal te gebruik en te versterk.
- Daarbenewens gebruik die Solidariteit Beweging ook die oppergesag van die reg om onderwys te beskerm, byvoorbeeld om godsdiensbeoefening in skole te behou. Dié saak waarin aansoek gedoen word om met godsdienspraktyke by skole weg te doen, word deur Solidariteit, AfriForum en FEDSAS beveg.