Deur Monica Mynhardt
Die Solidariteit Helpende Hand Studiefondssentrum is een van die belangrikste elemente van die Solidariteit Beweging wat beoog om hopeloosheid en armoede uit te wis. Die Helpende Hand Studiefondssentrum is ’n Bewegingsinisiatief wat in 2008 gestig is ten einde armoede te verbreek deur befondsing vir tersiêre opleiding beskikbaar te stel aan behoeftige studente. Helpende Hand staan studente by deur gedeeltelike, rentevrye studielenings beskikbaar te stel om aan énige geakkrediteerde tersiêre instelling in Suid-Afrika te studeer.
Enige behoeftige student wat die wíl het om te gaan studeer, maar nie oor die befondsing beskik nie, kan by die Studiefondssentrum aansoek doen om finansiële hulp. Enige ruimhartige persoon wat hierdie helpmekaarprojek wil ondersteun, kan bydra tot die Studiefondssentrum deur ’n eenmalige bydrae, ’n testamentêre bemaking of deur self ’n studiefonds te stig. Hierdie kosbare belegging in die toekoms word onderhou deur afgestudeerde studente wat hul eie lenings weer terugbetaal.
Helpende Hand se Studiefondssentrum administreer tans meer as 240 studiefondse ter waarde van R164 miljoen – meer as 5 000 behoeftige studente se studies is reeds hierdeur moontlik gemaak. In 2019 alleen het die Studiefondssentrum meer as 1 200 Afrikaanse studente help studeer met behulp van meer as R38 miljoen se fondse. Die meer as 2 000 donateurs wat dít moontlik gemaak het, help ook vanjaar die 5 000ste begunstigde van die Studiefonds. Vanjaar het Helpende Hand die 5 000ste lewe en toekoms verander.
Die gedagte agter die Helpende Hand Studiefondssentrum, en Helpende Hand as affiliaal van die Solidariteit Beweging, is afkomstig van die Helpmekaar-beweging wat in die vroeë 1900’s deur Afrikaners gestig is. Die oogmerke van die beweging was destyds om Afrikaners ekonomies en sielkundig op te hef deur ’n helpmekaar-opheffing gegrond in en gedryf deur die gemeenskap. Net soos die Helpmekaar-beweging beoog die Helpende Hand Studiefondssentrum om die Afrikaner se hoop en toekoms te bewaar deur álmal ’n kans te gee om hulself te bemagtig.
Die Mynwerkersunie – die organisasie waaruit die Solidariteit Beweging ontwikkel het – het in die 1960’s ook ’n studiefonds gestig. Die beweegrede daarvoor was die klein getal Afrikaners wat die geleentheid gekry het om te studeer. Die doel van die fonds was tweeledig. Die eerste oogmerk was om geld in te samel om die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg op te rig. Die tweede oogmerk was om ’n studiefonds te stig wat Afrikaners se studies moes help betaal. In daardie stadium was daar slegs twee beurse van R2 000 elk beskikbaar. Vandag is die Helpende Hand Studiefondssentrum ’n prominente deel van die opheffing van die Afrikaner. Die waardes waaruit die eerste Afrikaner-studiefondse gebore is, bly vandag steeds behoue – die reikwydte van die impak daarvan is egter besig om eksponensieel te vergroot.
Die Helpende Hand Studiefondssentrum befonds meer as net jongmense se studies. Die Studiefondssentrum bied vir ons mense ’n geleentheid om verder te droom en te groei as wat hulle op hul eie sou kon. Deur mekaar se hande te vat met hierdie inisiatief, hou ons álle Afrikaners staande, sodat ons sáám aan die toekoms kan bou.
Sluit aan in 1 minuut en raak deel van jou #NetwerkvanWerk. Klik hier.