Deur Reon Janse van Rensburg
Die departement van basiese onderwys (DBO) het verlede week (16 November 2020) aangekondig dat die tweede wiskundevraestel wat vanjaar se matriekleerlinge tydens die 2020-eindeksamen geskryf het, uitgelek het enkele ure voordat dit geskryf is.
Die aanvanklike verklaring deur die departement het gelui dat leerders in Gauteng en Limpopo toegang tot die uitgelekte vraestel verkry het, maar na verdere ondersoek is daar bevind dat leerlinge in al die provinsies behalwe die Vrystaat toegang tot die vraestel verkry het. Dit is egter nog nie duidelik waar dit aanvanklik uitgelek het nie.
Volgens die departement is sy ondersoekspan tans besig om die voorval te ondersoek en hulp vanaf die Valke en ander IT-deskundiges word tans ook ingespan.
Die departement het gesê dat hulle bewus geraak het van die voorval nadat die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, ʼn e-pos ontvang het van ʼn universiteitstudent in Johannesburg wat ʼn nieregeringsorganisasie bestuur wat daarin spesialiseer om leerders met skoolvakke te help. Die vraestel was by die e-pos aangeheg.
Die student het die vraestel vanaf vier leerlinge ontvang wat om hulp gevra het en wat self agterdogtig geraak het oor die vraestel. Die vraestel is ook per WhatsApp aangestuur en is in verskeie groepe deur matriekleerlinge aangestuur wat mekaar probeer help het.
Volgens die departement het die uitlek van die vraestel nie noodwendig die integriteit van die vraestel ondermyn nie.
Die departement het aangekondig dat die eerste fase van die ondersoek teen 30 November afgehandel sal wees, waarna die tweede fase teen einde Januarie 2021 afgehandel sal word.
Die ondersoekspan sal moet bepaal wie die bron is wat die vraestel uitgelek het asook die omvang hiervan, waarna hulle aanbevelings sal moet maak en met sekerheid moet kan sê of die geloofwaardigheid van die vraestel in gedrang is of nie. Die ondersoekspan sal ook aanbevelings moet maak wat sal verseker dat die uitlek van vraestelle nie in die toekoms weer plaasvind nie.
Die departement het ook genoem dat die ondersoek se uitkoms sal bepaal of die uitgelekte vraestel verder versprei het as slegs sekere dele van die provinsies wat geraak is, en dat die ondersoek ook sal bepaal waar en indien ʼn hereksamen nodig sou wees.
Volgens Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) stel die uitlek van vraestelle die integriteit van die matriekeksamen in gevaar. Met gerugte dat die tweede Fisiese Wetenskap-vraestel ook gister (23 November 2020) uitgelek het, ontstaan daar ernstige vrae oor die sekuriteit van vraestelle. Daar was sedert 2016 geen gevalle van uitgelekte vraestelle nie, wat moontlik daarop dui dat die bron ʼn volwassene in die binnekringe is. Die gebeure plaas die integriteit van die departement onder verdenking, alhoewel streng maatreëls deur die DBO ingestel is om juis hierdie tipe situasies te vermy. Die SOS beklemtoon dat daar daadwerklik teen die skuldige partye opgetree moet word en dat die saak so spoedig moontlik opgelos moet word sodat leerders hul jaar met sukses en ʼn geloofwaardige kwalifikasie kan afsluit.