Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het die publiek onlangsgevra om Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns, wat onder moeilike omstandighede steeds ʼn verskil in Suid-Afrika maak, te help identifiseer. Die doel van die nominasieproses was om uit die mond van Suid-Afrikaanse gemeenskappe, spreekwoordelike Gesondheidsamaritane te identifiseer. Praktisyns wat die ekstra myl vir hul pasiënte loop en boonop ʼn hart vir die gemeenskap het. Die Gilde gaan later vanjaar, uit die nominasies wat ontvang is, vyf gesondheidspraktisyns met die Gilde se Gesondheidsamaritaan-toekenning vereer. “Gesondheidspraktisyns in Suid-Afrika verdien erkenning, omdat hulle onder ongelooflike moeilike omstandighede werk, en binne ʼn hoogs gereguleerde, dog onstabiele gesondheidsorgsektor stabiliteit vir hul pasiënte gee,” meen Moira-Marie Kloppers, bestuurder van Solidariteit se beroepsgildes.
Oor die volgende paar weke sal ʼn groep mense wat gesondheidsamaritane genomineer het die geleentheid kry om hul storie hier met lesers te deel. Ons spring weg met Lynette Vermaas se storie oor die gesondheidsamaritaan in haar midde, ʼn tandarts vir wie jy geen vrees hoef te hê nie.
“Ek moet eenvoudig net begin deur te sê dr. Les* is die beste tandarts in die wêreld!” vertel Vermaas. “As jy ooit bang was vir ʼn tandarts sal jy daardie vrees oorkom wanneer jy hom besoek. ʼn Mens is amper nie bewus daarvan dat hy in jou mond en aan jou tande werk nie … jy voel dan nie eens die inspuiting nie!”
Dr. Les* is al vir langer as 12 jaar die Vermaas-gesin se tandarts en hy het dus die kinders sien grootword. Benewens sy professionele en bekwame werk was hy ook die inspirasie agter Vermaas se dogter se loopbaankeuse. “My dogter is tans ʼn eerstejaar-tandheelkunde-student en haar droom is om net so ʼn goeie tandarts as dr. Les* te wees,” sê Vermaas.
Vermaas vertel:
My dogter was vir die eerste keer ʼn pasiënt by dr. Les* toe sy so ses jaar oud was. Die rustige manier waarop hy met haar gesels het oor ʼn tandjie wat getrek moes word, het dadelik my kind se vertroue gewen, wat in daardie stadium ʼn vrees vir tandartse gehad het nadat ʼn vorige afspraak haar nogal getraumatiseerd gelaat het.
Die gemiddelde mens is mos maar bang vir ʼn tandarts, maar dr. Les* se werkswyse, professionaliteit en etiek het hom my dogter se rolmodel gemaak en haar laat besluit dat sy ʼn tandarts wil wees. Hy is geweldig akkommoderend en het haar toegelaat om ʼn paar dae in sy praktyk saam met hom deur te bring om sodoende meer oor die beroep te wete te kom. Hy het ook aangebied dat sy vakansies by hom kom werk en leer. Hy het haar op skool aangemoedig om hard te werk en net haar beste te doen. Sy opregte belangstelling in haar doen en late is ʼn inspirasie.
Boonop is dr. Les* ʼn baie goeie luisteraar en hy het ʼn heerlike, byna bulderende lag aan hom, vertel Vermaas. “ʼn Mens hoor hom altyd op ʼn afstand lag en gesels en dit laat ons ook gewoonlik lag!”
Vermaas sê: “Sy positiewe ingesteldheid teenoor die lewe, sy geloof (waaroor hy openlik getuig), en sy vrolike sin vir humor is beslis van sy beste eienskappe. Hy het egter ook ʼn ernstiger kant met baie besliste idees oor dinge en oor dit wat reg en verkeerd is. Sy hart is sag en op die regte plek!”
*Weens streng wetgewing wat geld in verband met direkte en indirekte advertering van gesondheidspraktisyns se dienste, word skuilname vir alle gesondheidspraktisyns gebruik in hierdie projek.