Solidariteit sal môre in die hof wees om sy saak van minagting van die hof teen Denel te voer. Denel is reeds in Augustus gelas om alle agterstallige salarisse en kontraktuele en statutêre verpligtinge teenoor sy werknemers na te kom. Denel het tot nou toe versuim om die hofbevel na te kom. Solidariteit is ook reeds besig om lasbriewe van eksekusie te bekom.
Solidariteit stel dit dat dit ondenkbaar is dat gewone werknemers die spit moet afbyt deur geen vergoeding te ontvang nie, en dit weens gebrekkige strategiese besluite en die onwilligheid van die aandeelhouer om verantwoordelikheid te aanvaar vir die onderneming, terwyl sommige van Denel se bestuurslede steeds 100%-betaling van hul salarisse ontvang, ongeag die bevel van 4 Augustus.
“Die arrogansie van die Denel-bestuur en die staat is verstommend. Hulle hou aan om die entiteit te wanbestuur en verkwis die fondse tot hul beskikking. Daar is sprake dat Denel se hoofbestuur nog volle salarisse ontvang. Dít terwyl ander werkers reeds vir maande minder as die helfte van hul salarisse ontvang,” sê Helgard Cronjé, die sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit.
Volgens Denel beskik hy nie oor die nodige fondse om die betalings te kon doen nie. Solidariteit verwerp hierdie argument en voer aan dat Denel beskikbare fondse selektief bestee en die hofbevel doelbewus verontagsaam.
“Die prosesse wat Denel tans volg, kom deur die bank neer op ʼn totale versuim van pligte: besluitneming is stadig en swak; implementering vind bykans nooit plaas nie en daar waar besluite geneem word en mense dit wil implementeer, word die nodige fondse nie gemobiliseer nie. Ons nader nou die hof om Denel te dwing om die regte dinge, met die nodige fondse en so spoedig moontlik te begin doen. Ons lede se toekoms word andersins bedreig,” verduidelik Cronjé.
Solidariteit het vandag saam met sy lede by Denel se korporatiewe kantoor in Irene aan protesoptrede deelgeneem om hul ontevredenheid met die wapenvervaardiger te betuig.
“Denel sleep sy voete. Die onderneming, tesame met die staat, wend geen daadwerklike pogings aan om die situasie waarin hy hom bevind, te temper nie en nou moet werknemers, wat geen blaam vir die situasie dra nie, die las van die staat se korrupsie en wanbestuur dra. Solidariteit sal nie terugstaan nie. Ons sal alles in ons vermoë doen om ons lede se agterstallige salarisse te verhaal, al moet ons op Denel se bates beslag lê,” sluit Cronjé af.