Sondag 21 Februarie het chaos losgebars toe honderde gesondheidswerkers wat gesukkel het om aanlyn te registreer, by die Steve Biko Akademiese Hospitaal, ʼn inentingsentrum, opgedaag het om ingeënt te word. Dit het veroorsaak dat gesondheidswerkers wat wel geregistreer het, weggewys moes word sonder inentings. Fase 1 van die inentingsprogram het verlede week begin en daar gaan gepoog word om dit teen die einde van April af te handel.
Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en medeleier van die fase 3-studie van die Johnson & Johnson-entstof in Suid-Afrika, noem dat die program tot dusver suksesvol verloop. Die doelwit is om daagliks 6 600 mense in te ent. Sondag is reeds 5 000 mense by die Steve Biko Hospitaal ingeënt, wat ʼn groot prestasie is. Teen Sondagaand is 18 sentrums vir inentings geakkrediteer en ongeveer 15 380 gesondheidwerkers van oor die hele land is ingeënt. Alhoewel daar uitdagings by die Steve Biko Hospitaal was, het die inentings by ander sentrums glad verloop. Gray voeg by dat sy verstaan dat mense angstig is, maar sy verseker gesondheidswerkers dat die aanlyn stelsel makliker sal raak. Die staat besef dat die aanlyn stelsel ʼn belangrike rol speel in die ontplooiing van die inentings. Daarom word daar reeds hard gewerk om die stelsel te verbeter en om die chaos van die afgelope week te vermy. ʼn Skeduleringstelsel word beplan waar die inentingsperseel, datum asook ʼn tydgleuf aangedui kan word. Persone sal dus voor die tyd ʼn afspraak kan maak om die inenting te ontvang.
Daar sal Saterdag nog 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof afgelewer word. Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê dat Suid-Afrika saam met 87 ander lande saamwerk om die geveg teen Covid-19 te wen. Senior gesondheidskenners wat die inentingsprogram koördineer, het gesondheidswerkers gevra om kalm te bly en hulle verseker dat hulle die inenting sal ontvang.
Bronne:
Pressure mounts to streamline Covid-19 vaccine appointment system: https://www.salabournews.co.za/55775-pressure-mounts-to-streamline-covid-19-vaccine-appointment-system
Mkhize: Next batch of vaccines arrive on Saturday: https://www.msn.com/en-za/news/national/mkhize-next-batch-of-vaccines-arrive-on-saturday/ar-BB1dWAT3?ocid=msedgntp
Healthcare workers clamouring to get Covid-19 vaccinations urged to remain calm because ‘all will be helped’: https://www.salabournews.co.za/55782-healthcare-workers-clamouring-to-get-covid-19-vaccinations-urged-to-remain-calm-because-all-will-be-helped
Health-care workers clamouring to get Covid-19 vaccination urged to remain calm: https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2021-02-22-health-care-workers-clamouring-to-get-covid-19-vaccination-urged-to-remain-calm/
Pressure mounts to improve Covid-19 vaccine appointment system: https://www.businesslive.co.za/bd/national/health/2021-02-22-pressure-mounts-to-improve-covid-19-vaccine-appointment-system/