Deur Reon Janse van Rensburg
Moneyweb berig dat Jenitha John, die uitvoerende hoof van die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba), haar bedanking ingehandig het.
John het in Junie 2020 die leisels by Irba oorgeneem, maar haar aanstelling het met groot omstredenheid gepaard gegaan. John het haarself in ʼn posisie bevind waar konflik van belange kon plaasvind omdat sy as uitvoerende hoof van Irba sou moes toesig hou oor ʼn ondersoek na ʼn maatskappy waarvan sy ʼn senior uitvoerende beampte was. Dit het nie onopgemerk verbygegaan nie en geregverdigde kommer laat ontstaan.
John het vanaf 2007 in Tongaat Hulett se direksie gedien en het in 2018 die posisie van voorsitter van die onderneming se oudit- en nakomingskomitee beklee toe Tongaat Hulett in ʼn boekhouerskandaal betrokke was.
Daar is bevind dat die onderneming sy bates met R4,5 miljard oorskat het.
Irba tree op as die waghond wat ouditskandale en -mislukkings in korporatiewe Suid-Afrika moet ondersoek. Dit is ʼn organisasie wat kragdadig moet optree in die oorlog teen bedrieglike aktiwiteite en die raad moet sy verpligting kan nakom om doeltreffende stappe in te stel teen maatskappye die wet oortree.
Solidariteit se Gilde vir Finansiële Beroepslui het aangedui dat hulle verlig voel oor die verwikkeling en saamstem met die standpunt wat deur verskeie rolspelers gehuldig word, naamlik dat Suid-Afrikaners op die reguleerder van die ouditberoep moet kan vertrou om ouditeure te reguleer wat so ʼn uiters belangrike funksie in die sakewêreld verrig.
“Dit is belangrik dat enige element wat wantroue in die ouditberoep kan skep, aangepak en uitgeklaar word.” – Henru Kruger, Sektorhoof van die Gilde vir Finansiële Beroepslui by Solidariteit.
ʼn Nuwe raad is verlede jaar aangestel wat verantwoordelik sou wees vir die besluit oor John se toekoms by Irba. Weens binnegevegte en die bedanking van verskeie lede van die raad kon ʼn kworum egter nie bereik word om besluite te neem nie en moes die minister van finansies, Tito Mboweni, ingryp om die situasie te red.
Mboweni het op 26 Januarie vanjaar met die raad vergader waarna hy die raadslede afgedank het. Mboweni het Roy Andersen en Nonkululeko Gobodo aangestel om waar te neem totdat ʼn permanente raad binne die volgende drie maande aangestel sal word.
Daily Maverick het berig dat Mboweni die besluit moes neem omdat die raad met bepaalde uitdagings ten opsigte van sy funksionering te kampe gehad het. Mboweni het wel nie die presiese uitdagings wat die raad beleef, genoem nie.
Volgens Moneyweb is Imre Nagy, wat die afgelope agt jaar by die ouditwaghond werksaam is en tans as direkteur van inspeksies by die organisasie dien, ingespan om John se plaasvervanger te wees. Hy sal as uitvoerende hoof waarneem.
Volgens Gobodo en Anderson het John se posisie by Tongaat Hulett negatiewe persepsies oor John geskep wat ongelukkig haar rol by Irba beïnvloed het.
John het haarself vir die volgende drie maande aan die raad beskikbaar gestel om terugvoer aan die raad te gee en om hulp aan te bied waar dit benodig word.
Die proses om ʼn nuwe raad aan te stel het reeds begin en advertensies vir nominasies word binne die volgende week geplaas. Die nominasiekomitee sal uit Andersen, Gobodo en die waarnemende rekenmeester-generaal by die Nasionale Tesourie, Karen Maree, bestaan.
Mboweni sal die finale lys van genomineerdes goedkeur en die proses sal binne die volgende drie maande afgehandel word.
Bronne:
Verdelings en omstrede aanstelling lei tot ontbinding van Irba-raad – https://gildes.solidariteit.co.za/verdelings-en-omstrede-aanstelling-lei-tot-ontbinding-van-irba-raad/
Jenitha John resigns as Irba CEO – https://www.moneyweb.co.za/news/companies-and-deals/jenitha-john-resigns-as-irba-ceo/