Jesus gee lewe in oorvloed

Dinsdag, Januarie 10th, 2017

‘Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.’
– JOHANNES 10:10

Jesus belowe vir almal wat Hom volg meer as wat enigiemand anders kan bied – ’n lewe in oorvloed. Toe Hy hierdie belofte gemaak het, was Hy op pad na Jerusalem vir sy laaste Pasga waar Hy die eerste Nagmaal sou instel en daarmee die begin van ’n nuwe era sou aankondig: Paaslammers was nie meer nodig nie, die volmaakte offer het gekom – die Lam van God, Jesus ons Verlosser.

Hy is die goeie Herder, die Een wat nie sy skape in die steek laat nie, wat vooruit loop en almal wat aan Hom behoort na die beste weiding neem. Hy wat ook tot die dood toe sal veg om hulle teen diewe, rowers en wolwe te beskerm, sê onomwonde dat Hy sy lewe uit eie vrye wil vir hulle en ook vir ons sal aflê. Meer nog – Hy sou ook voorloop as die Eerste wat uit die dood sou opstaan en vir ewig leef.

Luister na sy stem, volg Hom en bly by Hom. Dan sal jy, nes Hy, eendag onsterflik wees. Die Goeie Herder sal nie sy skape in die steek laat nie, Hy sal hulle veilig saam met Hom neem na velde waar rus is en waters waar vrede is (lees Psalm 23). Is jy vandag moeg en bekommerd en bang vir die wolf by jou voordeur? Gee jou vrese oor aan Jesus en vertrou op Hom. Hy sal vir jou sorg en jou beskerm.

Here Jesus, dankie dat U my so liefhet dat U u lewe vir my gegee het. Dankie dat ek die vooruitsig het van ’n ewige lewe saam met U waar tyd nie meer saak maak nie en ons daaglikse stryd om oorlewing soos mis voor die son sal verdwyn in u teenwoordigheid.

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke: http://www.cumbooks.co.za/helena-hugo-omnibus-sagteband
Vir meer Christelike artikels besoek: http://www.joydigitalmag.com

Foto’s deur Deon Kotze.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  
  •