Deur dr. Dirk Hermann
Tydens die vakbond Solidariteit se jaarlikse kongres vanjaar het ons drie dinge bekendgestel: ons nuwe handelmerk, ons nuwe webtuiste en die #BouSaam-veldtog. Dis vir my ’n voorreg om jou meer te vertel oor #BouSaam.
Dit is 2017 en Solidariteit wil nóg bou, iets groter as ooit tevore – iets wat nog daar sal wees vir die geslagte wat nog kom. Ons wil ’n toekoms bou waarin ons en ons kinders vry, veilig en voorspoedig gaan wees.
Oor die afgelope 15 jaar was ons besig om al die boustene daarvoor gereed te kry. Ons fondament is nie die staat nie, nie groot besigheid nie, maar die gemeenskap. As ’n staat verswak, raak die verantwoordelikheid van die gemeenskap net groter.
Die sement van ons bouprojek is die konsep “selfstandigheid” of “selfverantwoordelikheid”. Die oomblik dat ’n mens selfverantwoordelikheid verstaan, voel jy vry. Die oomblik dat jy besef jy is nie van die staat afhanklik vir ’n toekoms nie, voel dit of die juk van ’n ondoeltreffende staat van jou skouers afval. As die president vrot is, is jou toekoms nie vrot nie en as die staat verswak, beteken dit nie dat jy geen toekomsvooruitsig het nie, want jou toekoms hang nie van die staat af nie, maar van jouself.
Die antwoord lê egter nie net in jouself nie, maar in die gemeenskap. Dit is die krag van baie bietjies wat baie maak. Die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat. Die woord “solidariteit” sê dit alles – dit gaan oor saamstaan. Die krag van solidariteit lê in ’n gebondenheid aan mekaar. Skielik word klein druppeltjies stroompies; en stroompies word riviere; en riviere word damme.
Solidariteit het gesien in watter rigting Suid-Afrika beweeg en het besef dat die vakbond nie net vir ons lede en hul gemeenskap ’n antwoord moet bied nie. Ons moes meer mense betrek deur meer instellings te bou. Ons moes die krag van die gemeenskap mobiliseer.
Omdat werk Solidariteit se hartklop is en kennis die beste wapen vir goeie werk is, het ons besluit om ons met groot ywer in opleiding te werp. In die kennisekonomie word kennis een van die belangrikste produkte wat ’n vakbond kan bied. Ons het besef dat ons ook ander opleidingsinstellings moes bou en so het Sol-Tech, Akademia en S-Leer die lig gesien. Soos Flip Buys dikwels sê: As ’n minderheid in ’n meerderheidsomgewing wil oorleef, moet hy die meerderheidskennis hê.
Daarbenewens het ons AfriForum in die lewe geroep. Ons het gesien die stem van die gemeenskap raak verlore in die media daarom is Maroela Media op die been gebring en het ons hulp verleen aan Pretoria FM.
Ons het besef ons mense praat nie net Afrikaans nie, maar ís Afrikaans, en kultuur is deel van wie hulle is. Daarom het die FAK as selfstandige instelling by die Solidariteit Beweging ingeskakel en het ons Kraal Uitgewers, wat hoë gehalte historiese en aktuele boeke uitgee, by die Beweging ingeskakel.
Ons het finansiële instellings begin, onder andere die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, Solidariteit Finansiële Dienste en Solidariteit Eiendomme.
Ons het begin om die gemeenskap as ondersteuners van Solidariteit te mobiliseer. Nuwe Regsfondslede en lede wat uit lojaliteit bydraes aan die Boufonds maak, het help bou.
Hoe meer druk die regering op ons geplaas het, hoe meer het ons gebou. Hoe meer die staat verswak het, hoe sterker het ons geword.
Daar is nou 18 instellings in die Solidariteit Beweging. Meer as 400 000 mense dra maandeliks tot een van die instellings van die Beweging by. Die begroting vir ons 2020-plan beloop R5 miljard.
Maar… In 2017 wil ons aan iets groot bou; iets waarvoor ons al die fondamente gegrawe het; iets waarvoor ons al mure gebou het; iets waarvan al die elemente al gereed gekry is. Ons wil ’n toekoms bou – nie net ’n gewone toekoms nie, maar ’n toekoms waarin ons en ons kinders, vry, veilig en voorspoedig is.
Ons moet mense weer selfvertroue gee om self ’n toekoms te bou – nie net in Solidariteit en in die groter Solidariteit Beweging nie, maar in elkeen se gemeenskap, kerk, skole, plaaslike beveiligingsaksies, kultuurverenigings en talle ander inisiatiewe.
By Solidariteit glo ons aan ’n eenvoudige konsep, naamlik roeping. Roeping beteken om te doen wat God wil hê jy op ’n spesifieke tyd en plek moet doen. Ons glo as elkeen doen wat hy of sy moet doen, sal ons verstom wees oor die uitkoms. Ons elkeen se taak is deel van iets groters as dit waarmee jy besig is. Ons glo dat die Here vir jou ’n toekomsbelofte gee daar waar hy jou roep – en ons glo dit onwrikbaar. In dít wat ons doen, kry ons dus sekerheid oor die toekoms.
Begin om saam te bou en voel vry. Die krag van die gemeenskap is sterker as die krag van die individu of die mag van die staat. Dit is die krag van ’n gemeenskap gebonde aan mekaar en aan ’n ideaal – en dit is die toekoms waarin ons en ons kinders vry, veilig en voorspoedig is. Kan jy aan groter bouwerk dink? En jy kan deel wees daarvan!
As ons twyfel oor die toekoms, bou ons dit. My oproep aan jou is: #BouSaam!
Waar kan jy help bou?