Covid-19: Solidariteit se tienpuntplan vir ’n veilige werkplek
Deur Reon Janse van Rensburg
In 2020 het ons die jaar normaal en met die gewone tradisies afgeskop. Op die nuus was daar wel berigte van ʼn vreemde virus wat in China sy verskyning gemaak het, maar te midde van vele ander nuus en uitdagings in Suid-Afrika het ons die jaar met ʼn ander oorsig aangepak as waarmee ons hom afgesluit het. In Maart 2020 word die eerste Corona-geval aangekondig.
Die regering kondig drastiese inperkings aan wat met drakoniese regulasies toegepas word. Die wêreld is oornag ʼn ander plek en ons moes gewoond raak aan ʼn nuwe normaal en ʼn nuwe manier van leef en werk.
Te midde van baie onsekerhede en moeilike besluite moes ons egter ʼn manier kry oor hoe ons die Covid-19-pandemie nie net kan oorleef nie, maar ook ʼn manier hoe ons kan terugkeer na ons werkplekke waar ons nie net wil oorleef nie, maar ook die geleentheid wil benut om te floreer. Solidariteit het in 2020 ʼn omvangryke plan saamgestel wat beide werkgewers en werknemers in staat stel om veilig na die werkplek te kan terugkeer.
Solidariteit se tienpuntplan (klik hier) is aangepas om toegepas te word selfs te midde die tweede vlaag wat ons reeds aan die begin van 2021 beleef waar gevalle drasties styg, en stel almal wat wil werk in staat om gesond terug te keer werk toe. Die uitgangspunt van die plan is dat werkgewers onverskrokke teen die virus, maar ook onverskrokke vir die ekonomie en werk moet wees.
Die tienpuntplan vloei voort uit Solidariteit se Goeie Praktykskode: Maatreëls om gesonde, voortreflike werk tydens en na die Covid-19-pandemie te verseker.
Die tienpuntplan maak voorsiening vir behoorlike risiko-analises. Gesondheid en veiligheid in die werkplek se kernpilaar is risikobestuur. Hierdie plan maak voorstelle vir verskeie wyses om risiko’s te bestuur insluitend die hersiening van protokolle met die nuwe uitdagings wat Covid-19 bied. Die plan stel ook voor dat werknemers steeds, waar moontlik, van die huis af moet werk.
Volgens Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, word daar onder die huidige regulasies, met enkele uitsonderings, toegelaat dat werknemers na afloop van die vakansie terugkeer werk toe. Hy noem dat Solidariteit se tienpuntplan binne die statutêre raamwerk van die Covid-19-regulasies val en dat die plan nie ʼn keuse tussen werk en gesondheid verg nie, maar eerder ʼn keuse vir gesonde werk is.
Mardon het bygevoeg dat die risiko’s in terme van Covid-19 totaal anders lyk as in Desember toe baie werknemers op vakansie gegaan het. Hy sê dat die terugkeer van werknemers wat op vakansie en by hulle huise was, nuwe risiko’s na die werkplek bring, veral omdat die nuwe infeksiegolf nog nie sy hoogtepunt bereik het nie.
“Solidariteit se tienpuntplan neem die risiko van die nuwe Covid-19-vlaag in ag, maar beskerm ook mense se werk.” – Paul Mardon, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit
Volgens Mardon moet ander gesondheidsprotokolle by die werk, soos byvoorbeeld die ontsmetting van werkstasies, die was en ontsmetting van hande, rekordhouding van persone wat die werkplek betree, die handhawing van ’n gesonde afstand (minstens 1,5 meter), en die versekering van goeie ventilasie, streng nagekom word.
Volgens Solidariteit se tienpuntplan moet spesiale maatreëls ook ingestel word om kwesbare werknemers te beskerm en die terugkeer na die werkplek moet ook in fases plaasvind. Werknemers moet egter ook besef dat veiligheid en gesondheid by die huis begin.
Volg gerus die volgende skakel om Solidariteit se tienpuntplan af te laai, wat te midde van die pandemie sorg vir ʼn veilige en gesonde werkplek: https://solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2021/01/2021-01-09-SOLIDARITEIT-10-PUNT-PLAN-GESONDE-VEILIGE-TERUGKEER-NA-WERK.docx.pdf
Saam is ons vry, veilig en voorspoedig!