Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidspraktisyns het die publiek onlangs gevra om Suid-Afrikaanse gesondheidspraktisyns, wat onder moeilike omstandighede steeds ʼn verskil in Suid-Afrika maak, te help identifiseer. Die doel van die nominasieproses was om uit die mond van Suid-Afrikaanse gemeenskappe, spreekwoordelike Gesondheidsamaritane te identifiseer – dit is praktisyns wat die ekstra myl vir hul pasiënte loop en wat boonop ʼn hart vir die gemeenskap het.
Dokter Onselfsugtig is ʼn terapeut en word genomineer vir haar omgee en liefdevolle geaardheid. Sy het ʼn passie vir haar werk en werk tans met kinders. Sy behandel elke mens met wie sy in aanraking kom met soveel respek en liefde. By haar word daar nie onderskeid getref tussen pasiënte se behoeftes nie. Vir dr. Onselfsugtig is hulle elkeen se verskillende behoeftes baie belangrik. Sy sal pasiënte vir ʼn klein bedraggie sien solank hulle net met die terapie kan aangaan. Die pasiënte word geensins anders as enige ander pasiënt behandel nie, en die duur van hulle afspraak is presies dieselfde as dié wat die volle bedrag betaal – wat ook nie baie is in vergelyking met ander praktyke nie.
Dr. Onselfsugtig is ook betrokke by ʼn baba-tehuis in Danville, Pretoria wat eers deur ʼn gemeenskapsorganisasie bedryf was. Hulle het egter hulle bydraes gestop en die baba-tehuis moes ongelukkig sy deure sluit. Sy is baie bekommerd oor die toekoms van hierdie mammas en babas en daarom maak sy seep- en badprodukte in haar vryetyd en poog só om die mammas te leer dat hulle dit self kan maak. Daardeur kan hulle ʼn genoegsame inkomste ontvang om self die baba-tehuis te laat voortgaan. Sy reël ook spesiale geleenthede vir die mammas en babas en doen dit met die hulp van ʼn vriendin wat ook daar betrokke is. Met die winter wat kom samel hulle donasies in, hulle noem dit “Sponsor a baby for winter”, om seker te maak dat die kleingoed darem warm in die koue is.
Dr. Onselfsugtig het ook ʼn tienergroep by wie sy betrokke is in Pretoria-Wes en al is daar net ʼn paar dogters is sy uiters toegewyd aan die groep. Sy glo sy kan ʼn verskil maak in die jong dogters se lewens sodat hulle nie sal terugval nie, maar ook ʼn toekoms kan hê. Sy sorg elke week vir iets om te eet, sy reël ma-en-dogter dae, kerspartytjies en dit met fondse wat alles uit haar eie sak kom. Tye wat sy spandeer om die bogenoemde te doen is tyd wat sy geld kon maak in die praktyk as sy daar was om pasiënte te sien. Haar pasiënte en familie glo dat sy baie spesiaal is en verdien om raakgesien te word vir haar onbaatsugtige dade.
Die Gilde gaan later vanjaar, uit die nominasies wat ontvang is, vyf gesondheidspraktisyns met die Gilde se Gesondheidsamaritaan-toekenning vereer. “Gesondheidspraktisyns in Suid-Afrika verdien erkenning, omdat hulle onder ongelooflike moeilike omstandighede werk, en binne ʼn hoogs gereguleerde, dog onstabiele gesondheidsorgsektor stabiliteit vir hul pasiënte gee,” meen Moira-Marie Kloppers, bestuurder van Solidariteit se Beroepsgildes.