Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde het sy kommentaar teen die voorgestelde wysigings aan die Kinderwet ingedien. Volgens die gilde dui die wysigings op ’n sterk skuif na meer mag aan die staat en minder aan privaat maatskaplike en ondersteuningstrukture, wat katastrofiese gevolge kan inhou, veral ten opsigte van die wegdoen met aannemingsfooie.
Volgens die gilde is die aannemingsproses in sy huidige vorm reeds uitgerek en hoogs gereguleerd, en absolute spesialiskennis is nodig; dit vereis onder andere ook assesserings, onderhoude, mediese rekords en beradingsprosesse vir die kinders en voornemende ouers. Verder het Suid-Afrika se tekort aan maatskaplike werkers reeds kritieke vlakke bereik en die staat het eenvoudig nie die fondse om nog mense in diens te neem nie.
“Die gemiddelde geakkrediteerde aannemingspesialis hanteer op enige gegewe tyd ongeveer 100 sake, terwyl internasionale standaarde ’n maksimum van 60 sake voorstel. Dit maak dit onmoontlik vir die staat om hierdie funksie ten volle te vervang sonder om lewens te verwoes,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof van Solidariteit se Maatskaplikewerkersgilde.
Ingevolge die wysiging word die klousule rakende die betaling vir dienste tydens die aannemingproses ten volle geskrap, en die wet bepaal dan dat geen fooi gehef mag word vir enige diens wat gelewer word tydens die aannemingsproses nie. ’n Privaat maatskaplike werker mag wel nog hierdie diens lewer indien hy/sy daarvoor registreer, maar mag geen fooie vir dienste hef nie. Dit geld ook vir dokters, beraders en prokureurs wat ondersteuning bied in hierdie proses. Duisende poste sal deur hierdie wysiging verlore gaan, en die maatskaplike las op die staat sal eenvoudig net groter word.
“Indien voornemende aanneemouers van ander staatsdepartemente se prosesse en dienste gebruik moet maak om ’n liefdevolle huis vir ’n kind te kan bied, gaan dit ’n drastiese afname in aannemings tot gevolg hê. Die ramp is dus tweeledig: dit raak gesinne én dit raak mense wat hul werk kwyt sal wees. In ’n verslag wat die Solidariteit Navorsingsinstituut in 2019 oor aannemings saamgestel het, is bevind dat die departement in die voorafgaande paar jaar slegs enkele aannemings gefinaliseer het. Ons kan nie toelaat dat hierdie wysigingswet deurgevoer word nie; gesonde gesinstrukture en poste is op spel,” sluit Engelbrecht af.
Om die volledige kommentaar te besigtig, klik hier.