EngineeringNews berig dat Renai Moothilal, die uitvoerende direkteur van Naacam, die nasionale assosiasie van vervaardigers van motorvoertuig- en verwante komponente, aangedui het dat die tydelike sluiting van die BMW en Ford se voertuigaanlegte in Suid-Afrika, met ʼn derde voertuigvervaardiger wat aangedui het dat hy beduidende volume-besnoeiings in die toekoms verwag, ʼn “onmiddellike en rampspoedige” uitwerking op die komponentverskafferbasis het.
Volgens Moothilal het die Covid-19-uitbreking wêreldwyd ernstige kommer in alle sektore veroorsaak en dit sluit dit die Suid-Afrikaanse motorbedryf in. Hy meen ook dat ʼn mens sou kon aanvoer dat dié sektor selfs erger daardeur geraak gaan word as ander binnelandse vervaardigingsektore omdat die sektor so globaal-geïntegreerd is.
Naacam beklemtoon egter ook die behoefte dat alle deelnemers in die sektor maatreëls moet instel om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Moothilal sê dat Naacam daarvan bewus is dat verskaffers hul produksieterreine óf gesluit het, óf korttyd ingestel het. Duisende werknemers word hierdeur geraak. Die situasie sal na verwagting in die komende weke vererger.
“Ons verwelkom ook die onlangse aankondiging van gewysigde voorwaardes ten opsigte van die Werkloosheidversekeringsfonds om korttermynondersteuning aan ondernemings moontlik te maak,” aldus Renai Moothilal.
Moothilal sê dit is ook die moeite werd om kennis te neem van die feit dat die vermoë van Suid-Afrikaanse motoronderdeelvervaardigers ingespan kan word om voorraadtekorte aan mediese toerusting, wat in alle waarskynlikheid in die nabye toekoms gaan opduik, te ondervang.
In Italië ondervind hospitale byvoorbeeld ʼn groot tekort aan ventilators.
“In die verband kan verwys word na ʼn projek wat tans in Suid-Afrika aan die gang is waarby verskeie verskaffers kapasiteit anders aanwend om die huidige beskikbaarheidsvlakke van ventilators in Suid-Afrika, aan te vul,” het Moothilal aangedui.