Indien Suid-Afrika die talle euwels wat die land teister wil aanpak en sosiaal en ekonomies wil floreer, sal korrupsie op ’n meer suksesvolle wyse bekamp moet word as wat tans die geval is. ’n Vergelyking tussen enige ontwikkelings- en korrupsieindekse in ’n gegewe land bevestig ’n definitiewe verband tussen die vlakke van korrupsie en die welstand van sy burgers. Hoe meer korrup ’n land is, hoe armer, sieker, onderontwikkeld en onsuksesvol is sy mense. Lae korrupsievlakke hou verband met hoë vlakke van vooruitgang, hoër moraliteit en beter lewensgehalte. As korrupsie onaangespreek gelaat word, vreet dit openbare selfvertroue in die land se instellings en beleggingsvertroue weg, dit vergiftig die sakeklimaat en kweek wanhoop. Dit bedreig in wese ’n staat se oorlewing.

Die feit dat Suid-Afrika se 2014-gradering in die Transparency International Corruption Perception Index ’n onbevredigende 44 uit 100 gehaal het (met 0 as aanduiding van ’n siening dat ’n land hoogs korrup is) is ’n groot bron van bekommernis. Suid-Afrika is in die 67ste plek uit 175 lande, met Denemarke in die eerste plek as die mins korrupte land. Somalië en Noord-Korea het die twyfelagtige eer om die 174ste plek te deel. Hoewel Suid-Afrika nie in die onderste helfte van die indeks is nie, verkeer ons in berugte geselskap. Ander minder-ontwikkelde Afrika-lande, soos Namibië, Ghana, Lesotho en Rwanda, is hoër as Suid-Afrika gegradeer. Die 2013-Afrobarometerverslag oor korrupsie in Afrika het aangetoon dat korrupsie in Suid-Afrika tussen 2002 en 2012 aansienlik toegeneem het. Verder het presies die helfte van die Suid-Afrikaanse respondente gesê dat meeste, of al hulle, regeringsamptenare korrup is. Om die presiese omvang van omkopery in ’n gegewe land te bepaal, is ‘n baie moeilike opdrag, maar volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Interne Ouditeurs is daar in die twee dekades ná die geboorte van demokrasie in die land, ’n verlies van R700 000 miljoen as gevolg van korrupsie gely.

Daar is vele definisies vir korrupsie, maar in hierdie verslag word die volgende eenvoudige, maar tog volledige, definisie uit ‘n Oxford-woordeboek toegepas: “Dishonest or fraudulent conduct by those in power, typically involving bribery.” (Oneerlike of bedrieglike gedrag deur mense in magsposisies, wat tipies omkopery insluit). Met hierdie definisie as riglyn en met inligting uit verskeie mediabronne en indekse, word tien gevallestudies ontleed. In die tiende plek is die berugte Nkandla-debakel, terwyl nege ander instellings dit in terme van omvang, erns en invloed op die korrupsieskaal uitstof.

AFR Korrupsie-verslag

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close