BEL ONS: 012 644 4300

petisie-header

Alle Suid-Afrikaners, ryk en arm, word ernstig deur die huidige kragkrisis in Suid-Afrika geraak. Dit is nie net ʼn klein ongerieflikheid wat kosmaak en water kook vir ʼn koppie koffie bemoeilik nie. Ondernemings steier onder groot inkomsteverliese. Dit beïnvloed werksekerheid, want afleggings neem toe. Werkloosheid lei tot moedeloosheid en selfs wetteloosheid. Niemand kan die uitkringeffek van die krisis voldoende saamvat nie. Boonop wil dit voorkom asof daar nie die politieke dink- en doenkrag is om die probleem op te los nie.

Tans vereis die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006 (klik hier om die regulasies te lees) dat niemand sonder ‘n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) elektrisiteit mag opwek, oordra en versprei of in elektrisiteit mag handeldryf nie.

Solidariteit sê dit is noodsaaklik dat ʼn ruimte vir onafhanklike organisasies geskep moet word om elektrisiteit te kan opwek en verkoop in Suid-Afrika. Ondersteun ons om hierdie voorstel deur te voer. Rig jou petisie aan die minister!

Solidariteit KragDag-petisie

Die Minister van Energie
Geagte Minister Joemat-Pettersson

As staatsbeheerde instansie lewer Eskom nie die nodige elektrisiteit nie. Ten spyte van die harde werk deur vele toegewyde personeel, kom kragonderbrekings al meer gereeld voor. Ons sien hoe die ekonomie steier en hoe lewens ontwrig. Afleggings in die mynbou- en vervaardigingsektore neem reeds toe.

Ons is boonop bekommerd oor ’n algehele netwerkineenstorting – en ons glo dit is nie ongegrond nie, want ons verneem die kabinet het ’n noodplan uitgewerk vir die beveiliging van senior regeringslui in so ’n geval.

Minister, u weet self van die sperdatums vir nuwe opwekkingseenhede wat nie gehaal is nie en die onderhoudsprobleme wat ervaar word. Die elektrisiteitsprobleem in Suid-Afrika is té groot vir Eskom en die regering om op te los.

Die elektrisiteitskrisis kan slegs met vele hande – deur uitgebreide privaat huishoudelike en kommersiële opwekking – opgelos word. Dít word egter verhoed deur staatsregulasies wat binne u magte is om te verslap. Tans vereis die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006 dat niemand sonder ’n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) elektrisiteit mag opwek, oordra of versprei, of in elektrisiteit mag handeldryf nie. Die enigste uitsonderings is vir demonstrasiemodelle, eie-gebruik-opwekking en nie-kommersiële doeleindes.

Minister, ons versoek dat u die regulasies verslap en die publiek toelaat om die elektrisiteitskrisis te help oplos.

Ons versoek:

  1. Dat u, ingevolge u magte in artikel 9 van die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006, omvattende vrystelling van lisensiëringsvereistes vir huishoudelike en kommersiële elektrisiteitsopwekking, verspreiding en handeldrywing aankondig; en
  2. Dat ’n wet wat die kragnetwerk sal oopstel en ʼn vrye mark vir elektrisiteit moontlik sal maak, dringend gefinaliseer word.
noodplan_web
gids_web
1-minuut-blokkie
spaar-R50
  • 5
  •  
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close