Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het onlangs in die guns van Solidariteit bevind in die geskil met Eskom oor laasgenoemde se wysiging aan diensvoorwaardes. Volgens die beslissing moet Eskom alle opgelope en uitstaande fooie wat volgens Eskom-werknemers se oorspronklike diensvoorwaardes aan hulle verskuldig is, uitbetaal. Diensvoorwaardes moet ook onmiddellik volgens die oorspronklike indiensnemingskontrakte heringestel word.
“Ons verwelkom die beslissing en dat Eskom nou gedwing word om die verantwoordelikheid te moet dra vir sy optrede,” sê Tommy Wedderspoon, sektorkoördineerder van Solidariteit onder wie Eskom-aangeleenthede val. “Dit wil lyk of groot maatskappye en instellings soos Eskom dink deur sekere diensvoorwaardes te verander hul werknemers en vakbonde nie daarvan kennis sal neem nie en dat hulle dus met hierdie onregmatige optrede sal kan wegkom. Ons het egter bewys dat elke diensvoorwaarde, of dit van ʼn geringe of van wesenlike aard is, belangrik is en dat onregmatige veranderinge daarvan nie geduld sal word nie.”
Solidariteit het ʼn geskil verklaar en hom tot die KVBA gewend nadat Eskom sy werknemers se diensvoorwaardes in November 2017 verander het sonder om die nodige konsultasieproses te volg. Van hierdie gewysigde diensvoorwaardes het spesifiek betrekking op die mediese voordele en die opvoeding van werknemers se kinders waarvan finansiële ondersteuning onttrek is. Die beslissing in die guns van Solidariteit is op 8 Desember gegee.
“Solidariteit kan eenvoudig nie toelaat dat werkgewers die diensvoorwaardes van hul werknemers sonder die nodige konsultasieprosesse verander nie. Ons het vasgebyt en bly veg totdat reg en geregtigheid geskied het. Ons is verheug dat hierdie beslissing weereens bewys dat werkgewers nie die reg het om te maak soos hulle wil en onskuldige werkers in die proses uitbuit nie,” sluit Wedderspoon af.