Solidariteit het ‘n veldtog geloods teen vals klagtes van rassisme in Suid-Afrikaanse Polisiediens.
“Vals klagtes van rassisme is besig om sistemies in die polisie te raak. Die k-woord word nou ʼn wapen om dissiplinêre optrede te vermy. Dit hou ongelooflike emosionele en loopbaangevolge vir die slagoffers van die vals klagtes in. Daar moet net so ferm opgetree word teen diegene wat onaanvaarbare woorde misbruik as teen dié wat dit gebruik,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
ʼn Deel van die veldtog gaan daarop fokus om polisielede aan te moedig om vals klagtes van rassisme en dubbele standaarde wat ten opsigte van die hantering van rassisme in die SAPD geld, by Solidariteit aan te meld sodat ʼn omvattende verslag oor die aangeleentheid opgestel kan word. Dié verslag gaan aan die SAPD en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) oorhandig word vir optrede.
Volgens Renate Barnard, sektorkoördineerder van Solidariteit, sien die vakbond al hoe meer gevalle van werknemers binne die SAPD wat ras as ʼn troefkaart probeer gebruik om so ’n kollega uit die organisasie te laat verwyder, , dikwels juis omdat daardie kollega hulle verantwoordbaar probeer hou vir wangedrag of poog om hulle te dissiplineer wanneer hulle hul plig versuim het,” voer Barnard aan.
“Die stelsel is tans op so ʼn manier ontwerp dat enige persoon wat van rassisme beskuldig word, bykans onmiddellik met wantroue, verwerping en veragting hanteer word. Dit terwyl daar weinig, indien enige, gevolge is vir diegene wat die hele tyd valse aantygings versprei. Hierdie toedrag van sake kan eenvoudig nie so voortduur nie. Deur die manier waarop die SAPD sulke sake hanteer, moedig hy net verdere verdelende, rassistiese gedrag aan en maak dit so onmoontlik vir werknemers om vreedsaam saam te werk,” meen Barnard.
#OpReisSaamMetMia was by die mediakonferensie en doen verslag.
Kyk die volledige video hier: