Die vakbond Solidariteit het vandag aangekondig dat die laaste DKD-lid, wat oor die hoof gesien is vir bevordering weens onbillike diskriminasie in die departement van korrektiewe dienste (DKD), terugwerkend vanaf 1 Desember 2010 aangestel en vergoed is.
Dit volg nadat dié departement versuim het om gehoor te gee aan die uitspraak van die konstitusionele hof in 2016, wat beslis het dat sewe werknemers van die DKD bevorder en terugwerkend vergoed moet word.
Mnr. Wehr, een van die sewe DKD-lede, was oor die hoof gesien vir bevordering en/of vergoeding. Volgens Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het Solidariteit ʼn minagtingsbevel teen die DKD bekom. Indien mnr. Wehr nie aangestel en / of vergoed sou word ooreenkomstig die posisie wat hom toekom nie sal dit Solidariteit met geen ander keuse laat as om voort te gaan met die minagtingsaak wat op 21 April 2017 aangehoor sou word nie.
“Solidariteit is uiters verheug dat hierdie aangeleentheid ná baie jare se litigasie suksesvol afgehandel is en dat die applikante uiteindelik hul regmatige plek in die DKD kan volstaan. Dit is egter jammer dat die publiek in hierdie tydperk ontsê was van die effektiewe diens wat hierdie amptenare kon lewer en dít slegs op grond van hul velkleur. Ons glo egter dat die DKD hierdeur ’n duur les geleer het en besef het dat die uitsluitlike najaging van rassekwotas ongrondwetlik is. Solidariteit spreek die hoop uit dat die departement van nou af aan ’n meer genuanseerde benadering tot regstellende aksie sal volg waar meriete die hoogste maatstaf moet wees by aanstellings en bevorderings,” het Van der Bijl gesê.