Deur Reon Janse van Rensburg
Sol-Tech se eerste klein treetjie is in 2007 geneem toe die instelling sy deure met slegs drie personeellede en 64 studente oopgemaak het.
Onder die personeellede wat aangestel is om die ambagslui van die toekoms op te lei, is Leon van Wyk as lektor aangestel. Dit was Leon se verantwoordelikheid om Sol-Tech se meganiese opleiding op die been te bring. Volgens Leon het hy hom uitgeleef in sy passie vir opleiding en was hy uiteindelik verantwoordelik vir die eerste groep meganiese vakleerlinge wat hul kwalifikasies deur Sol-Tech verwerf het.
Van Wyk is egter nie sommer net nog ʼn lektor nie en Sol-Tech kan werklik trots wees op Van Wyk omdat hy een van slegs ʼn handjievol meesterambagsmanne is wat nog in die land oor is. Leon van Wyk is al sedert 1989 betrokke by die opleiding van vakleerlinge en het vir 16 jaar lank as opleidingsbeampte by Eskom se opleidingskollege gewerk.
Van Wyk wys daarop dat daar in die 11de eeu oorkoepelende liggame uit broederskappe, krygsbendes, monnike en koopmanne bestaan het. Verskillende gildes het weer vanuit verskillende ambagte ontwikkel en die gildes het bestaan uit leerjongens, vakmanne en meesters bestaan het.
Voordat ʼn vakman egter ʼn meester kon word, moes hy spesifieke vaardighede bewys deur letterlik ʼn meesterstuk met sy hande te vervaardig. Hy moes ook bewys dat hy die werktoerusting wat in sy ambag gebruik word, self kan maak en herstel as dit stukkend is.
Leon het reeds in 1982 sy passie begin uitleef toe hy by die destydse Yskor met sy opleiding as passer en draaier begin het. Daarna het hy sy N3-en N5-kwalifikasie verwerf. Van Wyk se opleidingspad stop egter nie daar nie.
Van Wyk vertel dat hy ʼn meesterambagsman geword het nadat Eskom in 1995 besluit het om in samewerking met Duitsland en Unisa ʼn groep van 20 elektriese en meganiese ambagsmanne te kies om vir die eerste keer ʼn meesterambagsman-kwalifikasie in Suid-Afrika te doen. Van Wyk was een van die 20 mense wat gekies is om die opleiding te ondergaan.
Volgens Van Wyk was hy so bevoorreg om een van die groep mense te wees wat die program kon volg. Die program is voltyds vir ʼn jaar aangebied en het bestaan uit ʼn eksamen wat uit teorie, ʼn praktiese komponent wat binne 200 uur voltooi moes word en ʼn mondelinge eksamen behels het.
Hy het egter nie net die kursus voltooi nie, maar is selfs tydens die gradeplegtigheid by Unisa as die beste meganiese student aangewys. Hy beskou dit as ʼn groot eer en is trots op sy kwalifikasie en die toekenning wat hy danksy sy harde werk en die feit dat hy sy passie kon uitleef, ontvang het. Hy erken dat dit baie harde werk en opoffering geverg het om die mylpaal te bereik en dat hy dit reggekry het danksy sy deursettingsvermoë.
Van Wyk is van mening dat meesterambagslui nie vandag in Suid-Afrika genoeg geleenthede kry waar hulle hul talente kan ontwikkel en op hoogte kan bly van ontwikkelinge, nuwe tegnologie en internasionale standaarde en vereistes vir die beroep nie, terwyl talle ondernemings in lande soos Duitsland vereis dat spesifieke ambagte steeds deur ʼn meesterambagsman bestuur moet word.
Hy wys daarop dat daar in 2012 besluit is dat die Meisterbrief (Meesterambagsman-sertifikaat) gelykstaande is aan ʼn BA-graad.
“In Duitsland is die meesterambagsman die hoogste professionele kwalifikasie in die ambagte. Opleiding daarvoor sluit teoretiese en praktiese opleiding in die betrokke ambag in, asook besigheidsopleiding en regsopleiding.” – Leon van Wyk, Meesterambagsman en lektor by Sol-Tech
Dit is vir Van Wyk ʼn groot jammerte dat meesterambagslui in Suid-Afrika op hul gewone beroepe terugval waar hulle dikwels in administratiewe rolle aangewend word, terwyl hul ware talente, praktiese ervaring en kennis ten opsigte van hul spesialisgebied nie ten volle benut word nie.
Van Wyk sê dat hy dankbaar is dat hy sy meesterkennis by Sol-Tech kan belê en dat die span by Sol-Tech al baie gesamentlike sukses bereik het. Hy is van mening dat hulle bo verwagting goed presteer danksy ʼn sterk fondament waarop daar voortgebou kan word.
Sy raad aan jongmense wat graag in sy voetspore wil volg, is om nooit op te hou leer nie omdat ervaring en kennis nie gekoop kan word nie.
“Indien jy fyner na jou ambag kyk en jy in jou hart weet dat dit jou passie is, raai ek jou aan om ʼn rolmodel of ʼn Meesterambagsman op te spoor en om dan te begin om by daardie persoon te leer. Leer soveel as wat jy kan oor jou ambag.”
Dr. Philip Minnaar, hoof van Sol-Tech, beskryf Leon as ʼn toegewyde en goed opgeleide lid van die Sol-Tech-span en dat hy ʼn hart vir opleiding het. Hy is ʼn mense-mens en sal die behoeftes van ander voor sy eie stel.
Sy studente sien op na hom en verras hom gereeld met ‘n spesiale braai om dankie te sê vir sy toewyding en dat hulle enige tyd by hom om hulp kan aanklop. Dit is inderwaar so dat wanneer Leon eers besig raak met sy werk, die tyd stilstaan en hy werklik besig is om sy passie uit te leef, wat die opleiding van die jonger generasie is wat ‘n verskil in die land gaan kan maak.
Sy ambag is sy hart en siel en daarom is hy ʼn meester.
Indien jy deur Leon van Wyk en ander briljante ambagsmanne opgelei wil word, besoek gerus Sol-Tech se webblad vir meer inligting – www.sol-tech.co.za