Solidariteit, Solidariteit Jeug en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vandag die Gautengse LUR van onderwys, Panyasa Lesufi, se besoek aan die Helpmekaar Kollege in Braamfontein ten sterkste veroordeel.
“Mnr. Lesufi oorskry sy bevoegdhede. Hy het geen insae in hierdie aangeleentheid nie en het geen reg in hierdie verband om aan onafhanklike skole voor te skryf nie,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS. “Die besluit van die departement van basiese onderwys (DBO) dat skole eers op 15 Februarie moet open, sluit nie onafhanklike skole in nie.
Die DBO het onafhanklike skole bloot aangemoedig om ook later te begin. Die besluit om daartoe in te stem of nie, berus egter steeds by die betrokke skool,” sê Buys.
Volgens Buys is geen direktiewe nog deur die departement uitgereik om duidelikheid te bied oor of skole wat gereed is vroeër mag oopmaak nie, en die SOS ondersteun steeds alle skole se reg om self te besluit oor hul gereedheid om veilig te heropen.
“Mnr. Lesufi se prioriteite as LUR wek kommer en ʼn mens kan nie anders as om te wonder of sy agenda werklik die welstand en gesondheid van kinders en onderwysers op die hart het en of dit is om weer ʼn heksejag op Afrikaanse en onafhanklike skole uit te voer nie. Om ʼn mediaspektakel van die aangeleentheid te maak in stede daarvan om ʼn afspraak met die hoof te maak, is in uiters swak smaak,” sê dr. Juran van den Heever, hoof van Solidariteit Jeug. “Dit is tyd dat die man dringend uit sy amp gelig word.”
Volgens Solidariteit se BL-onderwysersgilde en Solidariteit Jeug mors Lesufi sy energie deur funksionerende privaat skole te besoek waar die nodige gesondheidsprotokolle bestaan, eerder as om na skole te gaan wat glad nie gereed is om te open nie. Hy moet eerder daardie skole wat probleme ervaar met die instel van die nodige veiligheids- en gesondheidsmaatreëls ondersteun.
“Om ʼn omgewing daar te stel waar onderwysers veilig kan werk en kinders veilig kan leer, is iets waarna elke skool streef. As ʼn onafhanklike skool so ʼn omgewing kan skep, moet dit eerder deur die departement ondersteun word as wat dit onder ʼn vergrootglas bekyk word met die doel om fout te vind,” sê Hennie Bierman, hoof van gildes by Solidariteit. “’n Veilige werksomgewing bied sekuriteit aan werknemers, en onderwysers is geen uitsondering nie. Mnr. Lesufi kon veel meer bereik deur departementele skole te gaan besoek en daarop te fokus om daardie skole in veilige omgewings te omskep sodat hulle ten volle vir die nuwe skooljaar gereed kan wees,” sluit Bierman af.