Ann Voskamp maak die opmerking: “Alle nuwe lewe groei uit die dieptes van duisternis.” Dit het my dadelik aan die skepping laat dink. Aan die begin van die skepping was die aarde ’n “vormlose, onbewoonbare massa, en die diep waters was toegevou in duisternis,” staan daar in Genesis 1:2. God se kommentaar op hierdie donker chaos was: “Laat daar lig wees.” Hy skep die dag en nag, die hemelligte: son, maan en sterre . . . Hierdie lig-na-die-donker-siklus word in die natuur herhaal: Babas ontwikkel in die donkerte van die baarmoeder totdat dit tyd vir hul geboorte is; die donker van die wintermaande word jaar ná jaar deur die vrugbare, sonnige lente gevolg; blombolle het die donker grond nodig voordat hulle kan ontkiem en in helder kleure blom . . . Jesus staan uit die donker van die graf op in die helder môre van die eerste Paasfeesoggend.
In die Bybel is lig altyd sinoniem met die goeie, terwyl duisternis die bose uitbeeld. As ons negatiewe emosies ervaar, soos vrees en depressie, raak dit donker om ons. Die Nederlandse digter Guido Geselle verwoord dit op ’n besondere manier: “Hy wat glo, het altyd Lig en waar Lig en Waarheid is, wyk die angs en triomfeer boaardse vrede. Die ontembare son seëvier; die wolke swig: Onoorwinlik is die Waarheid! Onuitwisbaar is die Lig!” God gee altyd, keer op keer, vir sy kinders lig ná hul donker tye, vreugde ná hul nag van swaarkry. Jy mag in jou eie donker dae daarvan seker wees dat God ook vir jou weer lig sal gee. “My God gee lig as dit donker is om my,” getuig die psalmdigter (Ps 18:29, 1983-vertaling).
God gee nie net lig nie; Hy is self die Lig. “Ek is die lig vir die mensdom. Wie My aanhou volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee,” sê Jesus (Joh. 8:12). Maar die ligmetafoor hou nog nie hier op nie; in sy Bergrede voer Jesus dit verder: “Júlle is die lig vir die wêreld,” sê Hy vir sy volgelinge (sien Matteus 5:13–16). Ek en jy moet as God se kinders elke dag só leef dat almal wat na ons kyk God se lig uit ons lewe sal kan sien straal en Hom sal verheerlik.
Here, help my om U in die donker tye van my eie lewe te vertrou om weer vir my lig te maak, sodat ek kan uitgaan en daardie lig na ander mense kan aangee. Ek wil graag so leef dat die mense wat na my kyk die goeie dinge wat ek doen, sal raaksien en vir U die eer daarvoor sal gee. Amen.
Die Here die Almagtige het gesweer: “Dit sal gebeur soos Ek dit beplan het. Dit sal gebeur volgens my doel . . . Ek het ’n plan vir die hele wêreld, want my mag geld oor al die nasies.”
– Jesaja 14:24, 26
Nina Smit boeke, en ander dagstukkieboeke deur Struik Christian Media is nou beskikbaar by CUM Boeke: bit.ly/3bePEqx
Foto deur Deon Kotze