Solidariteit neem met groot hartseer kennis van die afsterwe van David Sipunzi, hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM). Solidariteit betoon verder medelye met Sipunzi se familie en ook met Sipunzi se kollegas by die NUM.
Volgens Solidariteit was Sipunzi ʼn kryger vir billike behandeling in die werkplek, maar ook ʼn samebindende figuur wat politiek en ideologie tydelik ter syde kon skuif ter wille van die bevordering van vreedsame arbeidsverhoudinge.
“Benewens David se verbintenis tot die bevordering van werknemers se belange, het hy hom ook beywer vir eenheid onder vakbonde, en hy kon bo verskille uitgestyg om eenheid te bevorder,” verduidelik Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. “David sal ook onthou word vir sy unieke benadering tot onderhandelinge waar hy in geen onduidelike terme sy standpunt kon stel en nooit geskroom het om sterk standpunt in te neem oor kwessies wat hom na aan die hart gelê het nie.”
Solidariteit voer aan dat Sipunzi juis te midde van hierdie ongelooflik uitdagende jaar uitgestaan het as ʼn leidende figuur vir veiligheid onder in Suid-Afrikaanse myne.
“David het veral gedurende die jaar herhaaldelik sy kommer teenoor mynbase en die
departement van minerale hulpbronne en energie uitgespreek dat daar nie genoegsame balans gevind is om mynwerkers teen beide Covid-19 en afleggings te beskerm nie,” sê Du Plessis.
“David se voortydige afsterwe kom in ʼn tyd waarin arbeidsverhoudinge binne Suid-Afrika en die wêreld na ongekende waters gedwing is. Dit is ʼn reuseverlies vir sy familie, die NUM en arbeidsverhoudinge dwarsoor ons land. Hy laat egter ʼn onuitwisbare voetspoor in ons wêreld na en ons sal nog vir jare lank terugverwys na David se nalatenskap in die bedryf en die besondere manier waarop hy sake benader het. David se nalatenskap leef voort in die wyse waarop hy ander kon beïnvloed en vyande met mekaar kon versoen,” sluit Du Plessis af.